Ons almal ken die fliek, Home Alone, en weet dat daar allerhande verkeerdhede gebeur as die kinders alleen tuis bly.
So bly Toortsie ‘n aandjie alleen by die huis terwyl manlief gaan boer. Toortsie moet net ‘n slag haar dingetjies ook agtermekaar kry by die huis. Soms raak die chaos darem net té groot. Sy doen lekker lank stiltetyd, gaan verkeersdepartement toe, want sy is steeds besig om die verkeersdepartementvervolgverhaal klaar te skryf danksy beurtkrag en ander faktore. Sy knyp ‘n bietjie tyd af vir kantoorwerk, maar die grootste, belangrikste ding is dat sy haar VLV-artikels moet voltooi.
Toortsie is behoorlik produktief. Geen sekonde word gemors nie. Sy fokus. Hoop sy knip nie ‘n gat in die breiwerk nie. Werk die borduurwerkies uit. Verander die ballade volgens die instruksies sodat sy dit kan ingee. Stap kamer toe om die rekenaar te gaan bêre.
Maar …
Daar sit ‘n massiewe, moooeeeeviese spinnekop net mooi daar waar sy die kas moet oopmaak. Ja, jaa, sy weet dit is ‘n reënspinnekop, nie ‘n bobbejaanspinnekop soos sy hom noem nie. Ja, sy weet hy kan haar niks aandoen nie. Of, so sê hulle. Dis natuurlik nie te sê sy glo hulle nie. Sy hét al TPM probeer om by die oorsprong daarvan uit te kom, sonder sukses. Dalk was sy wel suksesvol, maar glo sy steeds nie die waarheid nie. Sy het ook al kognitiewe gedragsterapie onsuksesvol op haarself probeer toepas sodat sy oortuig kan word dat hy niks sal maak nie. Nie dat sy enigsins weet hoe kognitiewe gedragsterapie werk en hoe dit gedoen moet word nie, terloops!
TOT SY DIE SPINNEKOP SIEN. OP HAAR KAS. IN HAAR SLAAPKAMER!
Sy bel net daar vir Meneer Toorts. Maar hy is baie ver van die huis af, kan nie help nie. Hy stel voor dat sy op die sitkamerbank moet gaan slaap. Maar wat van môre-oggend as sy moet aantrek? Waar kruip hy dan weg? Hy is in elk geval groot genoeg om haar met een hap in te sluk! Sy bel die buurvrou. Dié skater van die lag, maar dra die nuus oor aan haar man. Hy kom met ‘n roomysblik en kom vang die swerkater. Hy neem die spinnekop saam tot by sy erf sodat dit Toortsie nie weer pla nie. Goeie bure wat sy het.
Tipies Toortsie as sy alleen by die huis is, kan sy die aand net nie tot rus kom nie. Werk eers nog knope aan, borduur nog ‘n stukkie, doen rugoefeninge, lees ‘n boek klaar. Uiteindelik, laaaat in die nag, sit sy haar lig af en slaap die slaap soos ‘n prinses, geen ertjies naby die bed te bespeur wat haar pla nie, rug sonder klagtes danksy die oefeninge.
En verslaap totaal die volgende oggend.
Mooi loop!
Toortsie
Wonder waar sal my vrou slaap of doen. Sy was altyd lief vir spinnekoppe, tot een haar gebyt het. As sy nou een sien, is die blikkie DOOM sommer gou by.
LikeLike
Ja, ‘n sakspinnekop het my ook gebyt. Ek was altyd bang, nou is ek verby bang.
LikeLike
Ek het nou breed vir jou geglimlag! Sjoe, maar jy is vreeslik besig; dis goed so.
LikeLike
Op die oomblik is alles ‘n bietjie op ‘n hoop. Dit sal ook oorgaan.
LikeLike
Ek het nou lekker gelag … en het amper verwag dat die spinnekop die volgende oggend vir jou kom besoek het.
LikeLiked by 1 person
Ek sterf net daar tien dode. Ek het baie duidelik vir buurman gesê hy moenie dit in ons tuin loslaat nie. 😜
LikeLike
Ek weet hoe jy voel en stem saam met jou.
LikeLiked by 1 person
Dankie tog vir goeie bure! Miskien moet jy die ballade van die reenspinnekop ook skryf.
LikeLiked by 1 person
Met ballades is ek nou klaar. Vir eens en vir altyd. Mag Willemien lank leef. 😝
LikeLike
😄 dalk raak sy beroemd!
LikeLike
As digter? Die reël is mos dat jy in daardie genre moet lees waarin jy skryf. Ek lees regtig nie gedigte nie. Myne is mos ‘n lied wat ek op ‘n bekende wysie geskryf het.
LikeLike
O wêreld en toe kon die ridder op die wit perd jou nie kom red nie maar moes tevrede wees met buurman. Ek dink tog as mens bang is, is mens bang; dan moet ander wat nie bang is nie jou probeer dwing om nie bang te wees nie. Die spinnekoppe is maar grillerig. Jy het omtrent jou tyd benut om so aanmekaar besig te wees. Ek hoop jou VLU goedjies kom betyds klaar. Daardie verslaap is gladnie lekker nie. Mens voel dan die hele dag ongemaklik
LikeLike
Jong, ek het nog ‘n paar daggies om klaar te kry. Ek is nie heeltemal so mal oor al my artikels nie. My breiwerk was klaar, maar ek verander nou eers die knopies. Die breiwerk is netjies, maar ek is nie mal oor my artikel nie. Die borduurwerk is op die hond se stert, maar ek sal vandag moet konsentreer en so ver as moontlik moet werk. Daardie artikel moet nog op ‘n bord gespan word en dit is blykbaar meer as ‘n dag se werk. As daar nog tyd is wil ek graag die hekelwerkies ook nog doen. Amper nog niks daaraan gedoen nie. Ek geniet dit baie.
Die verslaap was nie ‘n groot krisis nie, ek werk mos op my eie tyd. As ek ‘n goeie nagrus gehad het en selfs ‘n bietjie later slaap, het ek baie woema vir die dag. 🙂
LikeLike
Mooi man. Ek sien myself in jou werkery ook. As ek my kop op n ding gesit het dan druk ek hom deur. n Mens is nooit heeltemaal tevrede met mens se eie werk nie. Te krities.
LikeLiked by 1 person
Ek het die ander s’n gesien. Dis PRAGTIG.
LikeLike
Dis waar jou self kritiek inkom met alles. Mens is werklik te hard op jouself. Gelukkig leer n mens ook baie as mens so deelneem.
LikeLiked by 1 person
Ek het geweldig baie geleer. Dit was ‘n eerste vir my. Ek het wel 30 jaar gelede kruissteek gedoen. Ek is tevrede met my werk.
LikeLike
Dis goed om te hoor. My oudste suster het die fynste van fyn kruissteek gedoen. Dit was haar ontspanning gewees. Ek het probeer maar dis te fyn werk en om met n vergrootglas te werk was nie die idee vir my om te werk nie.
LikeLiked by 1 person
Dit neem nogal ‘n rukkie vir jou oë om gewoond te raak.
LikeLike
Sal goed glo. Ek wou my seun help om sweiswerk te doen vir sy besigheid. Dit was te fyn vir my ek het dit te veel geblêrts of te min opgesit. My fyn kyk is nie meer so goed nie. Alhoewel ek nou n ekstra leesbril het het ek nie weer probeer om te werk nie.
LikeLiked by 1 person
Oe lekker! Die slaap. Maar ja, Toortsie. Ons deel ‘n gemeenskaplike vrees.
LikeLike
Ag, ek sal maar weer probeer konsentreer om daarop om die vrees te oorwin, maar soos Scrapy sê, as jy bang is, is jy bang.
LikeLiked by 1 person
Jy het glad nie sleg gevaar op jou Home alone dag nie. Ek is seker mnr Toorts is trots op die wyse wat jy jou dag hanteer het.
LikeLiked by 1 person
Jy maak my moeg net deur te lees hoe besig jy is Martha. Wat sal ons van daardie spinnekop sê 🤔 Ek sou by buurman en buurvrou in die bed gaan klim het. Stem… nie ‘n manier waarop ‘n mens gaan slaap in ‘n huis waar dié ongedierte rondloop nie.
LikeLike
Nee nee! Nie by bure in bed nie, want die volgende dag is hy steeds daar en waar kruip hy dan weg? Ek maak myself ook moeg. 3 Maart moet alles in wees, dan haal ek weer assm en begin alles weer van voor af.
LikeLiked by 1 person
My kleindogters het hul mamma se vrees ge erf vir spinnekoppe, of soos kleinste sê “skinnekop”. Gelukkig het ek nie ń vrees vir hulle nie. Jy is voorwaar Martha met jou vlytige vingers.
LikeLiked by 1 person
Dankie jong, dis net show! 🤣
LikeLike