Home alone – As Toortsie alleen tuis bly

Ons almal ken die fliek, Home Alone, en weet dat daar allerhande verkeerdhede gebeur as die kinders alleen tuis bly.

So bly Toortsie ‘n aandjie alleen by die huis terwyl manlief gaan boer. Toortsie moet net ‘n slag haar dingetjies ook agtermekaar kry by die huis. Soms raak die chaos darem net té groot. Sy doen lekker lank stiltetyd, gaan verkeersdepartement toe, want sy is steeds besig om die verkeersdepartementvervolgverhaal klaar te skryf danksy beurtkrag en ander faktore. Sy knyp ‘n bietjie tyd af vir kantoorwerk, maar die grootste, belangrikste ding is dat sy haar VLV-artikels moet voltooi.

Toortsie is behoorlik produktief. Geen sekonde word gemors nie. Sy fokus. Hoop sy knip nie ‘n gat in die breiwerk nie. Werk die borduurwerkies uit. Verander die ballade volgens die instruksies sodat sy dit kan ingee. Stap kamer toe om die rekenaar te gaan bêre.

Maar …

Daar sit ‘n massiewe, moooeeeeviese spinnekop net mooi daar waar sy die kas moet oopmaak. Ja, jaa, sy weet dit is ‘n reënspinnekop, nie ‘n bobbejaanspinnekop soos sy hom noem nie. Ja, sy weet hy kan haar niks aandoen nie. Of, so sê hulle. Dis natuurlik nie te sê sy glo hulle nie. Sy hét al TPM probeer om by die oorsprong daarvan uit te kom, sonder sukses. Dalk was sy wel suksesvol, maar glo sy steeds nie die waarheid nie. Sy het ook al kognitiewe gedragsterapie onsuksesvol op haarself probeer toepas sodat sy oortuig kan word dat hy niks sal maak nie. Nie dat sy enigsins weet hoe kognitiewe gedragsterapie werk en hoe dit gedoen moet word nie, terloops!

TOT SY DIE SPINNEKOP SIEN. OP HAAR KAS. IN HAAR SLAAPKAMER!

Sy bel net daar vir Meneer Toorts. Maar hy is baie ver van die huis af, kan nie help nie. Hy stel voor dat sy op die sitkamerbank moet gaan slaap. Maar wat van môre-oggend as sy moet aantrek? Waar kruip hy dan weg? Hy is in elk geval groot genoeg om haar met een hap in te sluk! Sy bel die buurvrou. Dié skater van die lag, maar dra die nuus oor aan haar man. Hy kom met ‘n roomysblik en kom vang die swerkater. Hy neem die spinnekop saam tot by sy erf sodat dit Toortsie nie weer pla nie. Goeie bure wat sy het.

Tipies Toortsie as sy alleen by die huis is, kan sy die aand net nie tot rus kom nie. Werk eers nog knope aan, borduur nog ‘n stukkie, doen rugoefeninge, lees ‘n boek klaar. Uiteindelik, laaaat in die nag, sit sy haar lig af en slaap die slaap soos ‘n prinses, geen ertjies naby die bed te bespeur wat haar pla nie, rug sonder klagtes danksy die oefeninge.

En verslaap totaal die volgende oggend.

Mooi loop!

Toortsie

27 thoughts on “Home alone – As Toortsie alleen tuis bly

  1. O wêreld en toe kon die ridder op die wit perd jou nie kom red nie maar moes tevrede wees met buurman. Ek dink tog as mens bang is, is mens bang; dan moet ander wat nie bang is nie jou probeer dwing om nie bang te wees nie. Die spinnekoppe is maar grillerig. Jy het omtrent jou tyd benut om so aanmekaar besig te wees. Ek hoop jou VLU goedjies kom betyds klaar. Daardie verslaap is gladnie lekker nie. Mens voel dan die hele dag ongemaklik

    Like

    1. Jong, ek het nog ‘n paar daggies om klaar te kry. Ek is nie heeltemal so mal oor al my artikels nie. My breiwerk was klaar, maar ek verander nou eers die knopies. Die breiwerk is netjies, maar ek is nie mal oor my artikel nie. Die borduurwerk is op die hond se stert, maar ek sal vandag moet konsentreer en so ver as moontlik moet werk. Daardie artikel moet nog op ‘n bord gespan word en dit is blykbaar meer as ‘n dag se werk. As daar nog tyd is wil ek graag die hekelwerkies ook nog doen. Amper nog niks daaraan gedoen nie. Ek geniet dit baie.
      Die verslaap was nie ‘n groot krisis nie, ek werk mos op my eie tyd. As ek ‘n goeie nagrus gehad het en selfs ‘n bietjie later slaap, het ek baie woema vir die dag. 🙂

      Like

  2. Jy maak my moeg net deur te lees hoe besig jy is Martha. Wat sal ons van daardie spinnekop sê 🤔 Ek sou by buurman en buurvrou in die bed gaan klim het. Stem… nie ‘n manier waarop ‘n mens gaan slaap in ‘n huis waar dié ongedierte rondloop nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!