Ek het alreeds oor hierdie boek geskryf en ek kan ook nie met oortuiging sê dat hierdie die laaste keer is wat ek dit gaan doen nie. Sekere boeke is net so waardevol en dwing jou om meer as een keer oor hulle te skryf.

Die Bybellennium ‘n Eenvolume-Kommentaar deur Fika J van Rensburg en Marius Nel is so ‘n boek. ‘n Predikantsvriend het dit vir my aanbeveel en elke sent wat ek hiervoor betaal het, is die moeite werd. Dit is ‘n dik, swaar boek met 2208 bladsye. Beslis nie ‘n boek om in ‘n week of twee deur te lees en op die boekrak te sit nie.
Nee, dit is ‘n boek wat langs jou bed by jou Bybel lê, of daar waar jy jou bybelstudie doen. Dis ‘n boek wat jy vir baie jare gaan gebruik, wat jy op ‘n gereelde basis gaan nadertrek en raadpleeg. Dis ‘n boek wat stukkie vir stukkie onder jou vel inklim.
‘n Ander boek in hierdie trant wat ek ook baie hoog ag, is Bybel in Praktyk, ook ‘n boek vir dieperdelwers. Dit gee ‘n vers vir versverklaring wat sommer op die betrokke bladsy gedruk is, lekker byderhand.
Hierdie Eenvolumekommentaar voer dit verder as Bybel in Praktyk. Hy gaan baie meer in diepte in. Hy praat met my op ‘n menslike manier wat lekker lees en gee vir my insig oor sake, baie meer as wat ek tot dusver gehad het. Dit help my in my persoonlike stiltetyd, maar ook in my voorbereiding vir ons bybelstudiegroep.

Tans is ek besig om Daniël Die heerskappy behoort aan God, deur Jaco Thom te bestudeer as voorbereiding vir ons bybelstudiegroep wat dit eersdaags gaan doen. Die Eenvolumekommentaar gee vir my soveel bykomende inligting wat vir ons almal tot nut gaan wees. Dis of ek net nie die boek wil neersit nie! Dit spreek tot my hart. Dit maak dat ek dinge net beter verstaan. Dit help my om die Bybel beter te verstaan. Om God beter te verstaan. Om nader aan Hom te kom.
Dis ‘n boek wat ‘n mens vir jouself aanskaf om dit te hou en te lees en weer te lees. Soek jy meer? Is jy ‘n dieperdelwer? Dan is dit die boek vir jou.
Toortsie
Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.
Ek sal hom aanskaf, klink na die boek vir my.
LikeLiked by 1 person