ISBN

Oral op my pad stuur die Here altyd mense om my te help om nie die pad byster te raak nie. Dit gebeur amper elke dag. Die vrou by die poskantoor herinner my om ‘n foto te neem van die pakkie as ek ‘n boek pos. Die dame by die dieselplek herinner my om die strokie te neem. Iemand help my om die regte borduurgare op die regte plek te kies, die regte kleur te kies. Hier gee iemand raad, daar merk iemand iets op. En ek? Ek luister wat hulle sê, verander as ek kan en lewe lekker jolig voort.

My inspirasie en iemand wat my baie gehelp het my heel eerste boek, Toortsie se Bantingboerekos, was natuurlik ons eie Seegogga. Kyk, met daardie boek het die Here behoorlik mense op my pad gestuur, elke keer op die regte tyd en plek! Dis nie net ‘n paragraaf vol of bloginskrywingvol nie, dis omtrent ‘n hele hoofstuk as ek alles moet vertel hoe mense my gehelp het, uit hulle eie uit en hoe alles, danksy hulle, vlot verloop het.

Seegogga kry my een dag in ons Checkers en sê vir my dat ek ‘n ISBN-kode moet kry. Ek het dit nodig om ‘n strepieskode op my boek te kan sit, veral as ek dit by markte of winkels wil verkoop. Anders plak die mense plakkers op wat moeilik afkom. Ek vra vir Google en kom by SA Barcodes uit wat my R250 vra vir die aanvra van die ISBN-kode, asook die strepieskode. Alles kos geld, veral as jy die boek self uitgee.

Met boek twee het ek slimmer geword. Jy vra die ISBN-kode by die Nasionale Biblioteek gratis aan, jou vriendin laai ‘n program op die rekenaar af om die strepieskode te ontwerp en daar het jy dit, sonder die R250.

Maar daar is ‘n ander storie wat niemand jou van vertel nie. Sodra jy daardie boek gepubliseer het, dis nou nadat jy al die koste self betaal het, die redigeerders, die fotograaf, die stilis, die persoon wat die uitset van die boek doen, die drukkers, die koerier en sommer nog enige ander persoon ook wat betaal moet of wil word. Sodra jy die boeke in jou hand het en jou beursie minder as leeg is, begin jy boeke uitdeel vir almal wat ek nou genoem het en vir nog ‘n paar mense. Gratis. Dit lyk soos grondboontjies wat jy gratis uitdeel en jou hart trek op ‘n knop. En dán kry jy die boodskap van die Nasionale Biblioteek af: Vir 100 tot 1000 boeke wat jy laat druk het, moet jy vir hulle 5 boeke gratis stuur. Ja, vyf. Net so. Wat daarvan word, weet ek nie. Of dit in biblioteke kom of dalk sommer net op ‘n hoop beland, weet ek ook nie.

Ek wil mos nou my kinderjarestorie laat druk. Net ‘n paartjies vir my familie en ‘n paar ekstra vir mense wat gevra het. Nou nie derduisende nie. Maar ek sal weer ‘n ISBN-kode nodig hê. Sjoe! Wat ‘n storie. ‘n Storie van baie e-posse aan verskillende mense, nog meer telefoonoproepe. Maar … ek het die ISBN vandag gekry!

Nou moet ek klaar kry met hierdie redigeerdery!

Toortsie

48 thoughts on “ISBN

  1. Pippa Brown het jare gelede ‘n unieke handgedrukte boek vol van haar kunswerke gepubliseer. Daar was net die een boek op aarde maar die Staat dring aan op hulle vyf. Dis soos om vir Picasso verf te gee en hom buitekamer toe te stuur. Dis een of ander wet op kopiereg. En op elkeen betaal sy BTW of sy nou een verkoop het of nie. Hulle het, as ek reg onthou, op daardie stadium alles in hulle Kombi gedoen daar iewers naby Amuzingberg, hy weet mos daar dorpie met die blou skynsel oor wat niks met die see te doen het nie……

    Liked by 1 person

    1. Ek het sterk oorweeg om sonder isbn te gaan. Op die ou end tog maar besluit om isbn te doen vir as die boekies wel in ‘n winkel gaan lê. Ek beplan om 20 boeke te druk, dan hoef ek gelukkig net 1 bib toe te stuur.

      Like

                  1. Jy sal vir my lag….ek het op 11 Desember 2001 in die Suidsee Ika Maata gehad; dis rou oahu (wahoo) wat in lemmetjiesap “gaargemaak” is. Tot my verbasing was dit regtig geurig. Maar, as ek kon kies, skaaptjoppies!!

                    Liked by 1 person

                    1. Ek dink wel ‘n lekker vet winddroog skaaprib op die kole is minder haringrig. Nou praat ek myself aan die kwyl. Ons regkoopwinkel het party aande NIKS vleis nie. Nie eens hoender nie behalwe daai goed wat van Alaska af kom. Stokstyf gevries.

                      Grootgeword met afkophoenders wat op die werf rondhol voor hulle mik vir die swart antrasietstoof se oond. En skaao war op die Wes-Vrystaat se Karoobossies smaak gekry het.

                      Liked by 1 person

                    2. Het self gesien hoe hulle draaie gooi op die werf as hulle met die byltjie tereggestel is. Soos by die Tower of London. Skryf, dat die kinders onthou dat alles nie met strepieskodes in plastiek aangestap kom nie.

                      Liked by 1 person

                    3. As mens 3 jaar oud is, is dit hoe jy van die dood leer en verstaan as jy 5 is en Oupa se hart het gaan staan. Jy besef hy gaan nie weer loop of op die stoep sit nie.

                      Like

                    4. Daai hoender het baie stil gelê in die oond en lekker bruin getan. Reg langs aartappels en uie wat onnatuurlik gesterf het. Wie gee ons die reg om kool koelbloedig te vermoor?

                      Like

  2. Ai . dankie vir jou komplimente Toortsie! Maar liewe mens, jy het dalk bietjie half geluister! Ek het jou vertel van die Nasionale bib wat vir jou die kode sal gee. Hulle bepaal die kode volgens die soort boek wat dit is. Verder verwag hulle so 2 to 4 kopiee omdat hulle graag rekord wil he van elke liewe boek wat is SA gedruk word. Dit is tog deel van rekordhouding en geskiedenis. Hulle gaan jou nie vervolg as jy nooit sover kom om jou boek te stuur nie( soos ek met my een vboek aanmekaar uitgestel het en later van vergeet het). Dis eintlik ‘n vrywillige skenking vir die rekords. Eendag oor 100 jr soek iemand dalk Toortsie se banting muffens resep. Di boek is jare al uit druk, maar hy wil dit uit die oorspronklike boek sien – Nasionale bib!
    Ek sien uit na jou volgende boek. Wil ook graag een koop – ‘n getekende kopie asb!

    Like

    1. Dankie vir jou verduideliking. 😁 So in my gesukkel om die isbn te kry, vanaf Desember tot gister, vra een my wel of ek al voorheen boeke uitgegee het. Ja, antwoord ek. Sy vra toe wat die isbn was. En toe: Het jy jou kopieë ingestuur? Gelukkig het ek. 😁

      Like

  3. Wel, wel, wel, nou vertel jy dit eers! Die ISBN is maar n storie. Dis egter nodig want anders sal daar op die ou einde chaos wees met al die inligting. Hoekom doe jy dit nie(gratis) deur Amazone nie? Print on demand. Jy kan steeds 20 boeke print om uit te deel of uit die hand te verkoop en selfs as gifts vir mense stuur. Dis net die posgeld wat betaal moet word(wat natuurlik nogal baie is) Gaan jy dit in n e-boek ook uitgee? Sterkte met die laaste snitte wat jy nog moet uitvoer.

    Liked by 1 person

    1. Want het hulle nie ‘n storie dat jy nie gied wat reedsas blogs gepubliseer is, nie in biekvorm mag uitgee by hulle nie? Wel, dit is lankal nie meer dieselfde as die blogs nie, want dit word mos geredigeer.

      Like

      1. Dis juis wat ek wou sê. Jou blogs is net n basis en jy verander daaraan so dis nog nie gepubliseer in boekvorm nie. Ek was ook eers skrikkerig maar na al my oplees en nagaan sien ek dat n blog is nie regtig n uitgawe nie. Jy kan selfs die stukke as losstaande stukke in n boek sit sonder probleme.

        Liked by 1 person

  4. EK het my kortverhale ook self gepubliseer met ‘n ISBN nommer.Later het die drukkers wat alles gedoen het my ook gevra vir vyf boeke. Dis om rekords te hou en gaan gewoonlik na die vyf grootste biblioteke toe.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!