Wapenrusting

As God Homself herhaal. Hoeveel keer verwys ek daarná?

Sommer in een week hoor ek drie maal dat ek myself nog méér moet toelê daarop dat ek die Woord sal ken en navolg. Bybel met passie en oorgawe lees en luister en gehoorsaam wat daarin staan.

Eers preek Ds Braam dit Sondag van die preekstoel af. Maandagaand by die bybelstudie is dit weer ernstig ter sprake. Dinsdag lees ek dit in my eie Bybel raak.

Duidelik, né? Onmiskenbaar dieselfde boodskap oor en oor.

Saam met hierdie boodskap kom die wapenrusting van God ook tans oor en oor oor my pad. Asof God wil sê: trek hom aan! Maak erns hiermee! Lees dit. Lees elke item. Kyk dat jy elke item verstaan en joune maak. Dat jy weet waaroor dit gaan. Sodat jy staande kan bly. Want ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die duiwel wat rondloop soos ‘n brullende leeu en kyk wat hy kan verslind. Soos in Efesiërs 6.

Eerstens, die waarheid as gordel om die heupe. Om alles bymekaar te hou. Alles moet die waarheidstoets deurstaan. Anders is daar stukke lap wat loshang en moeilikheid kan maak. Die waarheid.

Vryspraak as borsharnas. Om ons hart te beskerm. Vrygespreek. Vry deur Jesus Christus.

Bereidheid om die evangelie te verkondig as skoene aan ons voete. Sodat ons nie bang hoef te wees dat ons voete sal seerkry nie. Sodat ons nie in duwweltjies trap nie. Sodat ons kan gaan waar God wil hê ons moet gaan.

Geloof as skild. Om die pyle wat na ons geskiet word, kan afweer. Pyle van beskuldiging. Geloof. Glo. God vertrou.

Verlossing as helm op ons kop. Om ons breins te beskerm. Sodat Satan nie met ons koppe smokkel nie. Sodat ons nie begin twyfel nie. Sodat ons nie mislei word nie. Sodat ons aan ons verlossing kan vashou.

Swaard in die hand. Die Bybel. Soos Ds Ollie jare gelede gesê het, as ons Woordarm is, is ons Heilige Gees bankrot. Ons het nodig om daagliks met God se Woord te verkeer. Om die Bybel self te lees. Om daagliks vernuwe te word. Toegerus te word. Om ons swaard skerp te maak vir wanneer ons dit nodig het.

Biddend. Smekend. Gebed verander sake. Ons móét bid. God verwag dit van ons.

Waaksaam wees. Sodat die vyand ons nie oorval nie.

En as soldaat help dit nie dat ons die meeste van die wapenrusting aanhet nie. Kies wat ons wil aantrek nie. Net hier en daar ‘n stukkie aanhet nie. Dan stel ons onsself bloot! Ons moet seker maak dat ons elke liewe stukkie daarvan aantrek sodat ons staande kan bly. Elke stukkie.

Toortsie

3 thoughts on “Wapenrusting

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord