Tyd

Soms het ‘n mens baie tyd nodig. En soms het ‘n mens baie meer tyd nodig. En soms, tyd, geduld, hare op die tande, en jy moet kophou, iets wat Toortsie nie aldag regkry nie. Loskopperig, jy weet.

Eintlik het ek mos besluit dat ek nie gaan deelneem aan beurtkrag nie. Of eerder, dat ek sommer beurtkrag ignoreer. Of nog eerder, dat dit my nie gaan ontwrig of ontstel nie.

Wel, dit werk redelik goed uit solank ek nie dringende kantoorwerk moet doen nie, want my skootrekenaar wat ek vir werksdoeleindes gebruik, het lankal nie meer ‘n battery nie. As daar nie krag is nie, is daar nie rekenaardiens nie. In elk geval is daar dan ook nie wifi nie.

Beurtkrag en lisensies uitneem is ook nie maatjies nie. In Desember moes ek lisensies uitneem. Novemberlisensies wat 20 Desember verval. Dit was by poging nommer drie wat ek dit uiteindelik in my hande gehad het. Soms sommer loskoppigheid wat die hele tyd beurtkrag in ag neem en dan juis verkeerde tyd probeer om dit te doen. Of soms sommer net vergeetagtigheid.

Dinsdag besef ek met ‘n skok dat ons Januarielisensies ook dringend uitgeneem moet word.

Om een of ander rede kry ons nie meer kennisgewings deur die pos nie. Dit beteken dat daar eers die nodige papiere gedruk moet word. Dan moet daar ‘n groen vorm vir elke voertuig ingevul word. Toestemmingsbriewe van my man vir voertuie in sy naam. ID dokumente van my en van ons besigheid. Vir twee ure staan ek en vorms invul.

Tien voormiddag gaan die krag af. Dit beteken die verkeersdepartement se rekenaars is ook dood. Die kassiere kan nie werk nie, al wou hulle ook. Op daardie stadium sit die wagkamer steeds vol mense wat gehelp wil word. Slegs een kassier werk, daar ís wel plek vir drie. Blykbaar is kassier nr twee siek en moet die departement van sy kant af iemand goedkeur voor daar iemand mag werk.

Beurtkrag het geduur van 10 vm tot 12:30. Toe is dit etenstyd tot half 2. Half twee sit ek weer eens in die ry. Dieselfde gesigte as vanoggend sit weer daar. Teen twee uur moet ek wegglip, dis VLV. Wanneer die VLV klaar is, is die lisensiekantore al weer toe, hul werk tot half drie.

‘n Takie wat ‘n halfuur behoort te neem, raak ‘n uitgerekte taak vir ‘n week.

Nou ja, dis hoe dit is en om kwaad te raak, is net om in jouself te verloor. So leer ons geduld. In elk geval het ons nog soveel om voor dankbaar te wees. Die mense is REGTIG behulpsaam.

Toortsie

7 thoughts on “Tyd

  1. Elke nou en dan moet ons vra: in watter eeu woon ons? Ons dorp het nou geen water in die krane van gister af en sal meskien weer water by Vrydag middag kry; dit neem ure om wat in die ‘ou dae’ by minder tyd sou geneem het – sonder rekenaars – om sekere goed te doen. Tog, moet ons dit aanvaar en aanpas.

    Like

    1. Sjoe! Die waterkrisis is erg. Ons het die Desembervakansie nie bedags water gehad nie. Darem snags en dan kon ons darrm die nodigste goed doen. Om dar aaneen nie water te hê nie moet bitter sleg wees.

      Like

Gesels saam, asseblief!