Mis skiet

Mis skiet is baie slegter as raakskiet, maar ‘n miskiet wat raak skiet, is erg en as hulle jou in die miljoene aanval, nóg erger.

Hier in ons dorp verstaan die muskiete nie die storie heeltemal so lekker nie. Die muskiete het destyds die Egiptenare gesteek, nie die Israeliete nie en ek is nié ‘n Israeliet nie, maar ook nie ‘n Egiptenaar nie.

So iets het ek nog nie beleef nie. Ek weet ‘n paar jaar gelede was hier so ‘n muskietplaag op ons dorp, ek het gehoor van hierdie een spesifieke vrou wat toe in Checkers ingestap het en ál die muskietgoed op die rak vir haar gekoop het. Daar was niks oor vir die res van die dorp nie. Toé het die muskiete nie gevlieg tot daar waar ons vyftig kilometer verder gewoon het nie, of, dalk hét hulle tot daar gevlieg, maar het ons nie gepla nie.

Gisteroggend toe ek wakker geword het, was hier ‘n paar bytplekke op my arm, maar ek het nie te veel aandag daaraan gegee nie. Gisteraand was dit beurtkrag en ons het met die skuifdeure oop gesit en die kersies het tog te gesellig gebrand.

Af en toe het ek ‘n muskiet by my gevoel en ek het die Doom gaan haal en so hier en daar ‘n spuit gegee. Toe die ligte egter aangaan, kry ons die skok van ons lewe: Ons hele plafon, wat veronderstel is om wit te wees, is pikswart van die muskiete! Ons het maar alles toegemaak en behoorlik Doom gespuit. Vanoggend lê die vloer toe vol dooie muskiete.

Vanoggend gaan stap ons in die berg. Swerm op swerm muskiete het ons begroet. Ons het teruggedraai en Sitronella-olie aangesmeer. Ek moes my hand voor my mond hou om hulle nie in te asem nie. Sjoe! Waag jy dit om ‘n bietjie uit die wind te sit, steek hulle jou sommer deur jou klere ook nog! Jare gelede, kort na ons troue, was ons by ‘n wyksbiduur waar die muskiete my ook so deur die klere gesteek het.

Al wat ek kan sê, is, ek is behoorlik gebyt. Erg.

Toortsie

32 thoughts on “Mis skiet

  1. Sit did ligte aan, gooi alle vensters en deure oop. Tienuur maak jy alles toe en slaap buite. Muskiete is dan mos binne toegemaak!

    Ons waaier loop altyd op 3. Dit jaag muskiete weg. Totdat dir Beurtnag raak.

    Liked by 1 person

  2. Gladnie mis-skiete nie dis nou raak-skiete. Dis n verpesting! Gelukkig is ek nie allergies vir hul spoeg nie. Ek het nie nodig om te krap nie. Dit help ook al. Party het egter giftige spoeg en dan juk dit ook maar.Eks ongelukkig allergies vir vlooibyte! Nou darem geniet om jou stuk te lees oor hoe swart die plafon is! Die bietjie reen het hul kans gegee om uit te broei.

    Liked by 1 person

  3. Het ek nou lekker aan miskiete gelees, nou wonder ek waar kom muskiete se naam vandaan? Seker uit Engels vertaal? Ek dink ons moet die woordeboekmense laar weet dié woord is nie gepas. Ek hou baie meer van jou woord. Muskiete lief my bloed, byt dat ek nie kan ophou krap nie. Byt selfs op my ooglede, dan lyk ek soos iemand wat geslaan is. opgeswelde oë, wat darem nie blou word nie. Ek vind dat wit tandepasta die vinnigste werk om die seer weg te vat. Kan sommer so deur die blare badkamer toe strompel, my buisie oopmaak en smeer. Soggens is ek vol droë wit kolle, maar nie vol sweersel soos wat ek gekrap het nie. Ek wens die muskiete wil miskiete wees in ons huis. Hier in Qazaqstan is nie muskiete nie, dink ek? Het nog net in die platteland gesien, naby mere.

    Liked by 1 person

  4. Ons het altyd ‘n muskietplaag totdat ons ‘n storm kry wat die riviermond oopspoel. Dan spoel al die muskiet en hulle larwes weg see toe. Om die muskiete af te weer is baie maklik. Ek gaan sit net langs Jac – hulle geniet sy bloed en los my uit. Ek slaap wel onder ‘n muskietnet, maar net om die gesing uit my ore te hou. Lekker gelees by jou.

    Liked by 1 person

  5. Ek is bly jy het hierdie geskryf. Was gister hoogs verontwaardig dat ‘n muskiet my sommer deur my klere byt. Wat help dit jy smeer Peaceful Sleep aan die ontblote dele van jou lyf… dan suig hulle maar net bloed deur jou klere. Die muskiete is ‘n groot verpesting die jaar….. en hulle is nie meer net in aand lastig nie… nee, begin sommer vroeg oggend.

    Liked by 1 person

    1. Destyds toe die muskiete my ook so deur my klere gebyt het, het my man gesê muskiete byt nie deur klere nie. Wat ons oor tyd agtergekom het, is dat muskiete nie vir hom byt nie, klere of te nie! Ja, hulle byt deur my klere, dalk nie heeltemal so baie soos op die oop vel nie, maar wel.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!