‘n Week gaan so vinnig om en voor ek my kom kry, sit Scrapy die volgende wasdaguitdaging op haar blog en het ek nog nie die vorige een geskryf nie. Gelukkig het Kameel my nou herinner aan hierdie week se uitdaging wat ‘n onderwerp is waaroor ek ook graag skryf: Handwerk.
Ek is lief vir handwerk, was al kleintyd lief vir handwerk. Verskillende soorte handwerk. Saam met my oumas het ek gehekel, met tannie Mags gebrei, met my ma het ek naaldwerk gedoen, gehelp matte knoop, tapisserieë uitgewerk. By die see het ek sit en hekel, tot ontsteltenis van tannies wat gevoel het ek gaan die kêrels afsit.
Ek was in sub B, agt jaar oud, toe my ma vir my ‘n hand-Singer naaimasjien gekoop het, slinger en al. Ek het toe vir my ‘n romp gemaak. Oor die netheid daarvan gaan ons eerder nie praat nie. Ek was mal oor die naaldwerkklas en het gebrei, gehekel, naaldwerk gedoen. Selfs geborduur in standerd ses toe ons ‘n artikel moes maak met ses verskillende steke. Mabeth het vir my ‘n oranje stuk lap gebring, oranje van alle kleure. Die juffrou het die idee van ‘n pop of ‘n heks of wat ook al gegee wat ek daarop moes appliek. Vir die res van die jaar het ek borduursteke opgesoek in al wat boek was en die rok daarmee versier. Beslis nie opgehou by ses steke nie!
Later jare het ek, ter wille van oorlewing, vir my en my kinders klere gemaak, ook truie op die breimasjien gebrei wat ek verkoop het vir ‘n inkomste. Steeds aanhou truie brei. Nie meer gehekel nie. Intussen het ek ander werk gekry wat ek by die huis kon doen en het die handwerk agterweë gebly. Ek het nie meer daarby uitgekom nie.
Een dag vra ek vir Maresa hoe sy die tyd by haar ma in die ouetehuis omgekry het. Het sy gesê sy sit en brei? Ek kan nie meer onthou nie. Net daar haal ek die halwe item van jare tevore uit die kas en begin hekel. Ek was soos ‘n honger dier wat net nie genoeg kon kry nie. Vir die eerste keer in jare kon ek iets hekel waarvoor ek lus het, nie omdat die nood druk nie. Daarná het ek die breiwerk opgetel. Weer soos ‘n honger dier. Intussen het ek begin met die stekelap wat ek borduur vir die VLV, ‘n absolute heerlikheid. Ek verlang na naaldwerk doen, maar my lewe wat ek tans lei, gee my nog nie regtig ruimte daarvoor nie. Ek sal weer eendag dit doen. Intussen gebruik my dogter my patrone, maar sy weet dis net te lene, nie te krye nie.
Baie mense vra my waar kry ek die tyd om dit te doen? Ek weet self nie. Ek brei en hekel die lang pendelpad kort. Ook terwyl ek die een program in ‘n week op televisie kyk. Of vannag wanneer ek nie kan slaap nie. Ek werk gou vinnig een draadjie borduurwerk, daarom lyk dit of my werk uiters stadig gaan, wat nie heeltemal waar is nie.
Handwerk is vir my ‘n manier van spanning verlig. ‘n Manier van kreatiwiteit. Of dit outyds is of nuwerwets, ek gee nie om nie, dis vir my lekker. Vervullend.
Dankie, Scrapy, vir hierdie uitdaging.
Toortsie
Op ‘n tropiese Suidsee-eiland kom ons op twee wilgerlatlyfies af wat die son lê en terg……terwyl hulle serpe brei. Want volgende week is hulle terug in die ys van Reikjavik. 😄
LikeLiked by 1 person
😂
LikeLiked by 1 person
Na jare en jare het ek weer vir brei ontdek. Soos jy, geniet ek nou om te brei omdat daar geen druk is nie – ek brei omdat ek wil.
LikeLiked by 1 person
Ek doen nou die vlv- uitdagings, so ek is nogal onder druk om betyds klaar te kry, want ek het ook ‘n trui vie iemand gebrei.
LikeLiked by 2 people
Baie dankie dat jy die uitdaging aanvaar het. Ek het self ook altyd gebrei terwyl ons gery het. Die VLU het ook my talente oopgebreek met hul uitdagings toe ek lid was. Ek het alles probeer, goed of minder goed. Dit het alles begin toe ons n broodjie moes bak vir n kompetisie uitgeskryf deur n koekmeel maatskappy(moet name gaan opsoek) wraggies toe wen ek die kompetisie met die beste broodjie. Dit het my selfbeeld regtig goed gedoen en van daaraf het ek alles gedoen wat hul voorgeskryf het. Ai lekker dae gewees. My breilus wil nog nie uitkom nie.
LikeLiked by 2 people
Geluk met jou broodjie! Ek neem glad nie aan die kookkunskompetisies deel nie, want alles bevat suiker of meel en jy mag nie aan die resepte verander nie.
LikeLike
Onthou dit was darem jare gelede – 1985
LikeLiked by 1 person
Ek is absoluut useless met naaldwerk, breiwerk en hekel. Ek bewonder die ouens wat kan. Dankie vir die deel
LikeLiked by 1 person
Maar jy kan weer ander goed doen wat ons nie kan nie. 😁
LikeLike
Jy skuld my nog ‘n mooi handgebreide trui, jy weet dit nê? Toemaar terg net. Jy het klein begin met jou vlytigheid (spelling) Baie bly jy het toe darem al hekelende ‘n man gekry!!!
LikeLiked by 1 person
Ek het, en het hom steeds. Ons is seker maar al vasgekoek tussen die hekeldraad! 🤣 Watter kleur wou jy dit hê? Rooi? Maar eers moet skoonseun se trui klaarkom, dan my twee seuns s’n. Dit mag nog laaaank vat.
LikeLiked by 1 person
Die verskillende seisoene van ‘n mens se lewe. Dit is waaraan jou skrywe my laat dink.
Voor ons kinders gehad het en selfs na ons eerste bloeitjie was ek baie lief vir hekel, borduur en kralewerk. Nou na 2 babas, studies, werk, kerk, huishou, man, skoolwerk en als wat saam dit gaan kry ek nie tyd nie.
Maar nou noem jy hoe jy sit en dit doen terwyl jy ‘n tv program kyk en ek voel skielik skuldig. Ek speel speletjies op my foon as ek tv kyk… Dankie dat jy my herinner het aan ‘n borduurstuk wat ek begin het en nognie klaargemaak het nie. Dit is wat ek nou sal doen. 🤗
LikeLike
Ek verstaan daar waar jy is. As jy tv kyk, wil jy net ontspan. Ek brei of hekel terwyl ek tv kyk. Ek dink mens moet te fyn kyk vir borduur, if hoe dink jy. Onthou, die rustiger fase kom weer eendag. 😁
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die moed in praat. 😉
Ons kyk gewoonlik tv met die ligte aan. Hehe! Hierdie werk wat ek moet klaarmaak is een van daardie wat die prentjie klaar uitgedruk is en ek nie die kleure wol moet inwerk. Gelukkig maklik. 😄
LikeLiked by 1 person
Maak klaar en stuur ‘n foto. 😁
LikeLiked by 1 person
Gaan beslis!
LikeLike
Flukse vrou.
LikeLiked by 1 person
Glad nie! 😇
LikeLike
Hoe nostalgies raak ek nou. My man het n trui en pullovers gekry terwyl ek destyds tyd omgesit het by my pa in die versorgingseenheid. Hy het almal
LikeLiked by 1 person