Ter wille van oorlewing

Bondelsgedagtes het ‘n baie oulike brief geskryf aan ‘n kondensmelkmaatskappy waarin sy hulle aandag daarop vestig dat die dekseltjies wat sy al vir baie jare gebruik om ‘n kondensmelkblikkie toe te hou, skielik nie meer pas nie. Die blikkie het kleiner geword.

Dis ‘n ou-ou truuk waarmee ‘n mens baie keer te doen kry.

Die ding is, die maatskappye se somme moet bly klop. Hulle moet aanhou wins maak. Om dít te bewerkstellig kan hulle verskillende goed doen, soos byvoorbeeld:

Hulle kan hulle produk verbeter om ‘n beter mark te betree. Of hulle kan hulle kwaliteit verlaag, ‘n heeltemal goedkoper produk produseer en ‘n baie groter, maar laer mark betree. Of, hulle verswak die kwaliteit, maar vergroot die verpakking. Jy kan dan vir min geld baie koop, maar ‘n swak produk.

‘n Ander manier is om te bespaar op bestanddele. Beskuit is vir my ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Die mense koop swakker kwaliteit bestanddele in grootmaat. Of hulle begin sny op sekere bestanddele, soos suiker. Of hulle gebruik goedkoop margarien waarmee hulle bak. Mettertyd is dit net ‘n droë, smaaklose ding wat lyk soos beskuit, ‘n dowwe kleur het, maar nie meer eintlik glad nie meer beskuit is nie.

Hulle verander ook die verpakking. Maak dit net effens kleiner sodat die verbruiker dit nie sommer agterkom nie. Die prys ‘verlaag’ dan ook so ‘n klein bietjie, maar eintlik betaal jy duurder vir die produk. Die heel eerste wat ek hiermee te doen gekry het, was toe hulle die standaardverpakking van tjips verander het. Hulle maak my natuurlik moedeloos as hulle so iets doen, omdat dit my resepte beïnvloed. Toe ek begin resepte skryf het, was spek (bacon) 250 gram per pakkie. Intussen is pakkies verklein tot 200 gram. My resepte maak ook gebruik van 250 gram roomkaas, maar ek sien al hoe meer 230 gram verpakkings. Dit gaan ‘n groot invloed op my kaaskoeke hê. Gaan dit beteken dat ek ‘n resep heeltemal moet verander?

By tandepasta is ons oor die jare so gevang. Behalwe dat die buisies kleiner geword het oor tyd, het die bekkie groter geword. Die gaatjie waar jy die tandepasta uitdruk. So, die hoeveelheid bly dieselfde wat jy koop vir dieselfde prys, maar sonder dat jy dit besef, gebruik jy meer. Jy sit steeds dieselfde lengte tandepasta op jou tandeborsel, dis net ‘n vetter stukkie.

Ek is onlangs ook gevang met toiletpapier. Ja, op die verpakking staan dat dit kleiner rolle is, maar as jy nie mooi kyk nie, kom jy nie die verskil sommer agter nie. Op die oog af lyk dit dieselfde as die ander rolle, maar dit is baie losser opgerol. ‘n Rolletjie toiletpapier het eintlik net die helfte van ‘n normale rolletjie op.

Net so moet ons mooi kyk vir spesiale aanbiedinge. ‘n Special is nie sommer net ‘n special omdat die special bord daarby staan nie. Kyk mooi. Ek sien dit dikwels dat twee van die item op spesiale aanbiedinge is, maar as jy die som maak, is dit goedkoper om dit een-een te koop teen die normale prys. Slim! Hulle verkoop twee van ‘n ding vir duurder, terwyl die verbruiker dalk nie eers een sou koop teen die normale prys nie.

Bondels, baie min mense is so oplettend soos jy en sou dit nie eers agterkom dat die blikkie kleiner geword het nie. Of, hulle sien dit dalk raak, maar twyfel daaroor. So raak die buisies, blikkies, sakkies, botteltjies met tyd kleiner en kry ons al hoe minder van ‘n ding vir dieselfde prys, soms selfs duurder. Dis alles deel van ‘n groot woord, ekonomie, en as gevolg van nog ‘n ander groot woord, inflasie, en wins, en oorlewing en aandeelhouers wat gelukkig gehou moet word en die wiel van ekonomie wat moet aanhou draai. Dankie dat jy my geïnspireer het tot hierdie skrywe.

Toortsie

46 thoughts on “Ter wille van oorlewing

  1. Vriendin van Malmesbury het vir my die heerlikste regte outydse vrugtekoek gebak, soos my Ma s’n. En regte karringmelkbeskuit met egte botter daarin, mens proe dit dadelik. Daarna het ek by Shoprite gaan koop, mooi in deursigtige verpakking. Dit was nie dieselfde nie maar soort van oukei. Maar daai boks neergeslane modderkoekies uit die Karoo kom nie uit my ouma se kombuis nie.

    Like

      1. Ma het ook nie pakkies koekvrugtemengsel gekoop nie maar haar eie vrugte en neute gestaan en fynkerf met ou Ramsak, die mes vernoem na die man wat dit aan my ouers geskenk het. Dit was ‘n liefdestaak. So ‘n koek het 20 jaar gelede ongeveer R250 gekos om te bak.

        Like

              1. Ek het dit nogal gehad, maar daar is deesdae baie weerstandige goed wat Meesgeliefde aandra. Net hierdie één keer. En uiteindelik is my embellishment ‘n nuwe interdik.

                Like

                1. Ander mense bewonder my wilskrag wat kos aanbetref, maar ek weet wat die waarheid is. Die waarheid is dat ek net eenvoudig sekere goed nie meer maak nie, dat ek in my huis net Bantingkos aanhou, behalwe die beskuit wat my man eet wat gewone beskuit is. Dat ek sekere verdedigingsmeganismes in my lewe ingewerk het. Dat ek byvoorbeeld aanbied om ‘n slaai of iets te maak as ons gaan kuier by mense en dan weet ek het iets om te eet. Maar as ek daardie eerste happie poeding by iemand eet, is dit verby. Dan wil ek nog hê. So, ek maak vir my Bantingsoetgoed sodat ek in my hart tevrede en nie afgeskeep voel nie. En dan is daar nog die Here wat help ook.

                  Like

  2. Ware woorde! verkleining en of swakker goedkoper bestanddele is aan die irde van die dag. Ek het ook al agter gekom dat my ou resep soos joune praat van 250g spek, onmoontlik om te kry want dit is nou 200g wat nogal n verskil maak. Cadbury het bv hul plakke sjokolade verklein en die prys dieselde gehou vir n lang tyd. Ons het hier Whittiker sjokolade wat duurder is omdat dit steeds die ou grootte is. Die prys het toe opgegaan.

    Liked by 2 people

  3. You have covered all bases Toortsie – the consumer is being ‘had’. You might have noticed that the 2 litre icecream tubs were reduced to 1.5 litres a while ago. Now they are back, claiming to be ‘bigger’!

    Liked by 1 person

  4. ek het in my jongdae dit al agtergekom
    Die Wilson toffies bly dieselfde prys (destyds 2 vir 1c), maar hulle word al dunner. Tot op n goeie dag. Dan word hulle duurder en die toffie weer lekker dik. En dan begin hulle weer stelselmatig dunner word….Maar maak maar sommer asb kondensmelk duurder en hou dieselde koppiegrootte blikkies. Of bring weer die klein halfgrootte blikkies van detyds terug!

    Liked by 1 person

  5. Die supermark waar ek koop, vertoon die prys per kg of l. Ek kyk nooit, nooit na die prys nie, maar vergelyk die prys per kg, sodoende maak ek seker ek koop wel ‘n “special”. Ek kan ook daarvolgens besluit of ek die verminderde (soms) prys vir groter maat wil betaal al dan nie.

    Lank lank gelede het X 1 keer saam met my winkel toe gegaan, alles wat hy in die trollie gesit het, het ek gevra wat die prys per kg is en as hy dit nie geweet het nie, het ek dit op die rak terug gesit. Nodeloos om te sê, hy het hom so vererg dat hy my net daar gelos en gery het. Ook nooit weer saamgegaan winkel toe nie, lol

    Liked by 2 people

  6. Haha, ek het nie gedink my storie gaan iemand inspireer nie. Ek het eintlik dit maar spottende geskryf oor ek sooo lief is vir daai sappies. Dit is nou gaaf dat jy dit verder gevoer het. Ek wonder of mens iets hieraan kan doen…

    Like

    1. Jy praat so waar! Ek het dit ook as kind gedoen en die blokkies is beslis kleiner. Ek eet nou nie meer Weet-Bix nie, omdat ek Bant, maar ek wou dit op ‘n stadium doen en kon dit nie gesny kry nie, dis te bros.

      Like

Gesels saam, asseblief!