Protokol

Ek is nie goed met protokol nie. Ek sal nie ‘n goeie afgevaardigde vir ons land wees nie, ek sal ons in die skande steek om elke hoek en draai. Voor ek 45 geword het, kon jy dit nog waag, maar nadat ek besluit het om ‘ek’ te wees, het die bietjie protokol wat daar moontlik nog kon wees, verlore gegaan. Ek kan selfs soms nie eers met myself huishou nie!

In Egipte het ek alle moontlike foute gemaak waaraan jy kan dink, selfs nadat ons ‘n inligtingsessie vooraf gehad het van wat om te doen en wat nie. Ek het mans met die hand gegroet. My neus geblaas. Kyk, dis een ding wat ek steeds nie verstaan nie, ‘n mens blaas nie jou neus in Egipte nie, dis swak maniere, ‘n mens vee dit net af. Intussen verkoop hulle tissues om elke hoek en draai. Dalk ken hulle nie hooikoors nie, of dalk het hulle dit nou eers ontdek? ‘n Vrou gee nie geskenke vir ‘n man nie. Ek het gevra of die vrouens nie saam met ons gaan eet nie. Ek het vir ‘n nie-swanger vrou gevra wanneer sy verwag. Ek het ‘n klomp kinders met die hand gegroet, vir dogtertjies drukkies uitgedeel.

In my konsentrasie om my ma eerste te groet, storm ek verby die belangrikste persoon van die dag en groet hom later. Ag, ek weet nie wat ek nog alles verkeerd doen nie. Die punt is, ek doen die een ding ná die ander verkeerd. Ek doen. Ek trek verkeerd aan na funksies. Praat uit my beurt uit. Val mense in die rede. Vra vir die verkeerde persoon of ek by hulle aan die tafel mag sit.

In die boek, Ghost Boys, wat gegrond is op die stories van twee ware verhale waar kinders onnodig doodgemaak is, is die een seuntjie dood omdat hy die geld in die vrou se hand gesit het en haar vriendelik gegroet het toe hy loop. Dit was baie jare gelede toe swart kinders beslis nie so iets mog doen nie. In Amerika.

Kleintyd is ek geleer dat die kind eerste die volwassene groet. Die mindere die meerdere. Net so is in die swart kulture geleer dat die meerdere die mindere groet. Kan jy jou indink hoeveel misverstande daar gekom het? Onnodig? Vir die een groep is oogkontak belangrik, vir die ander persoon is dit ‘n teken van disrespek. Christene sê, groet mekaar met ‘n broederlike kus. Ander sê dat enige kontak met die teenoorgestelde gesag amper gelykstaande aan seks is.

Net so moet die bure die nuwe intrekker verwelkom. Die nuwe intrekker is nie veronderstel om die inwoners wat voor hulle ingetrek het, eerste te nooi nie. Watter ander belaglike protokolreëls is daar nie? Julle kan dit sommer hier in die kommentare noem, of op julle blogs skryf daaroor.

Iemand vir wie ek baie lief is, toe sy nog meer mobiel was, het ‘n kêrel gehad. Albei in die ouetehuis. Hulle kuier tog te lekker saam. Hulle drink saam tee, speel speletjies saam. Ewe skielik kom ons agter hier is ‘n ongemaklikheidjie. Die oom dink die tannie het ‘n probleem met hom, want sy kom sit nie meer by hom as hulle saamsing nie. Sy dink weer hy is kwaad vir haar, want sy kan mos nie sommer net by hom gaan sit nie, hy behoort haar te nooi! Intussen verlang beide na mekaar se geselskap, maar protokol verhoed dit. Ek stem darem saam met haar dat ‘n vrou nie agter ‘n man aanloop nie, maar as julle nou al hoe lank baie goeie vriende is?

Nou ja, soos ek reeds gesê het, is ek nie goed met die protokolreëls nie. Ek leef sommer net my lewe voluit. Ek besef almal is besig, niemand het vir my sit en wag om hier in te trek sodat hulle my kan bederf nie. Nee man! As ek lus het vir mense, nooi ek hulle sommer self. Eerste. As ek iemand wil groet, groet ek sommer eerste, wie sê die ander persoon is dalk skaam of ingedagte en dink nie op hierdie oomblik daaraan dat hy versonderstel is om eerste te groet nie? Solank ons dit in liefde doen sonder om ander te na te kom.

Groete

Toortsie

18 thoughts on “Protokol

  1. Protokol kan vir ons onder vreemde omstandighede ‘n hupstoot gee, maar ek stam saam met jou. Ek dink hoe ouer ons word hoe makliker is dit om te groet wie ons wil en te sit waar ons wil. Teen hierdie tyd het ons meer self-vertoue en is nie meer so afhanklik aan protokol nie.

    Liked by 1 person

  2. Sestigerskrywer Etienne Leroux. Henry gaan vir sewe dae kuier op ‘n luukse landgoed waar hy elke dag bisarre ervarings beleef. Hy is onseker van homself, weet nie hoe om op te tree nie, trek nooit reg aan vir die geleentheid nie, ens. Eers op die sewende dag kry hy dit reg om in ‘n mate in te pas, maar dan is dit reeds tyd om huis toe te gaan. ‘n Sinspeling op die mens se aanpassing in die gewone lewe vanaf geboorte tot by sy dood (leeftyd gewoonlik sewe dekades), sy stryd om aan te pas en hoe hy van sy onskuld moet afstand doen om kennis te verwerf.

    Like

    1. Duidelik vir my ook! Iemand wat ek ken het vir dieambassade in Amerika gewerk. Eintlik haar man. Maar sy het ook pligte gehad. Moes hooggeplaasdes onthaal ens. Sy sê sy was permanent in die moeilikheid. Dan het sy geglimlag wat sy nie moes nie, of met verleerde persoon vriendelik gesels, ens. Nou ja, hul het goed geweet en nie vir my daai joppie gegee nie. Nee wat, ek kry toe sommer die joppie van boervrou wees. 😅

      Liked by 1 person

  3. Toorts jy sou ook nie geaard het in die tyd waarin Jane Austen se boeke geskryf is nie. Ek sou so vinnig uit society geskop geword het 😂😂😂😂 Eintlik sal ‘n fliek met my en jou in daardie dae ‘n lekker komedie uitmàak. My ma het mos amper in trane vir my gesê ek sal nooit eendag ‘n dame wees nie. Hulle praat seker nou nog van jou in Egipte 😂😂😂😂

    Like

    1. In my jongdae sou ek dit dalk tog reggekry het. Of amper.
      Hulle was baie lief vir my in Egipte, want ek het hulle oorlaai met liefde, sonder protokol! 😁 As die kerk uitgekom het, het ons by die deur gestaan om die mense te groet. Dan druk ek al die dogtertjies soos hulle verbykom. Mammas het hulle kinders gaan haal sodat ek vir hulle ook drukkies kon gee! 🥳

      Liked by 1 person

      1. Ek het nou lekker gelag. Is besig om weer deur al Jane Austen se boeke te lees… maar hierdie keer luister ek na audio boeke. Voprdat ek Pursuasion begin lees ek gou deur die kommentare. Een jong ou skryf daar “Man, people were snooty as hell back then.” Ek stem volkome met hom saam… sou dit nie kon hanteer nie. Nee ooo nee baie bly ek was nie toe gebore nie. Wonder wat sal ‘n skrywer met ons karakters gedoen het?

        Like

        1. As dit ek was sou:
          1) my gesig vuil gewees het 😳
          2) daar sou iewers ‘n vuil kol op my rok wees 😳
          3) my onderrok sou uitgesteek het 🤨
          Ek sou praat wanneer ek nie moes nie
          Ek dink, Maria in Sound of Music het baie ooreenkomste
          She climbs a tree
          And scratch her knees
          Her dress has got a tear
          She waltzes on her way to mass
          And whistles on the stairs
          And underneath her window she has curlers in her hair
          I’ve even heard her singing in the Abbey
          I want to say a word on her behalf: Maria makes me laugh

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!