Gasvryheid – Bybelstudiegroepe

Ons gemeente se tema vir die jaar is gasvryheid. Ek weet dat ons in hierdie jaar sekerlik uitgedaag gaan word om gasvryheid te betoon op elke denkbare manier, ook oor grense heen. Die dominee praat van straatbraaie, bybelstudiegroepe, kuier by die bure. Kuier is ‘n lekker woord. Ek hou daarvan.

Ons bybelstudiegroep kom al van 1992 af bymekaar. Dis nou ons ag-en-twintigste jaar! In die vroeë neentigerjare het Ds Stan baie moeite gedoen en mense geïnspireer om bybelstudiegroepe te begin. Verskeie groepe is in daardie tyd begin met goeie gevolge. Mense het ‘n oplewing in hulle geloof beleef. Gegroei oor jare. Party van daardie groepe bestaan steeds, ander het met tyd doodgeloop. Danksy baie genade van God bestaan ons groep steeds.

Elke groep het sy eie identiteit bepaal. Ons groep het oor jare soms gegroei, ander kere gekrimp. Ons het steeds ses van ons stigterslede in ons groep en natuurlik nog ‘n paar mense wat intussen aangesluit het.

In daardie jare het ons almal nog klein kindertjies in die huis gehad. Soms het hulle stil kom sit en luister, ander kere het hulle die huise behoorlik omgekeer solank ons bybelstudie hou. Wat verblydend is, is dat soveel van ons groep se kinders nou self aan bybelstudiegroepe behoort as volwassenes.

Oor die jare het groepe se manier van doen, verander. Bybelstudiegroepe het selgroepe geword en omgeegroepe, Amosgroepe, elkeen met sy eie reëls. Ons het sommer net ‘n bybelstudiegroep gebly en klaar.

Ons groep volg steeds maar omtrent dieselfde patroon as destyds: Ons begin deur saam te sing, dan doen die gasheer of -vrou ‘n gebed. Ons doen bybelstudie uit ‘n boek wat deur ‘n kundige geskryf is. Sluit af en kuier tog te lekker saam daarná.

Ons maak dit nie ingewikkeld nie. Ons doen nie ingewikkelde boeke wat bó ons vuurmaakplek is nie, maar gebruik eerder maklik verstaanbare boekies. Ons verwag ook nie dat groeplede ‘n klomp voorbereiding moet doen nie, alhoewel dit beslis aan te bevele is om voor te berei.

Ons moedig spontane gesprek aan en beklemtoon dat geen antwoord ‘reg’ of ‘verkeerd’ is nie. Ons gee ook glad nie om as daar soms ‘n bietjie van die onderwerp afgedwaal word nie. Op die ou end gaan dit oor goeie gesprekvoering rondom die Bybel.

Ons is nie rigied nie. Kan iemand dit ‘n keer nie bywoon nie, is dit ook nie die einde van die wêreld nie. Kan ‘n hele paar mense dit nie bywoon nie, stel ons dit uit tot ‘n volgende keer.

Ek is dankbaar om aan so ‘n groep te kan behoort waar ons deel in mekaar se vreugde en pyn. Mag ons groep nog lank bymekaar kom en mag hier in hierdie jaar sommer ‘n klomp nuwe groepe begin wat die vreugde van saamkuier leer ken.

Toortsie

5 thoughts on “Gasvryheid – Bybelstudiegroepe

Gesels saam, asseblief!