Die skielike dood van ‘n baie goeie vriend noop ons om vinnig die langpad Karoo toe aan te durf. Ek pak vir ons heerlike Banting padkossies in: gekookte eiers (hoe dan nie), boereworsstukkies, ‘n klein stukkie kuduhaas van die vorige aand, ‘n verskeidenheid kase (gouda, camberbert, white rock en ‘n roomkaas met peper rolletjie, ‘n flessie met wortelstokkies, komkommerskyfies en kiwi-vrugskyfies, ‘n appel of twee. Soos almal weet, is ek mos lief vir kos. Lief vir eet. Kos speel mos ‘n belangrike rol in my lewe. Bottels gevriesde water wat stadig ontdooi en vir ons heelpad van lieflike koue water voorsien.

Iewers raak Toortsie honger en kom die flessie vars slaaigoed handig te pas. Ons stop in die pragtige Meiringspoort, wat vir my baie goeie herinneringe inhou omdat ons ons eerste paar jaar van getroude lewe daar gewoon het en ek voor die troue ook nog vir ‘n paar jaar gereeld daar gekuier het. Hulle hou die piekniekplekke pragtig in stand. Ons eet ‘n heerlike vroeë middagete en het genoeg oor om vir die skoonmakers ook te kan gee.
Op pad Beaufort-Wes toe maak ‘n kar van voor af vir ons angstig ligte. Ek dog ons ry te vinnig en dat sy ons wil waarsku, maar nee, sy waarsku ons dat die pad toe is by Beaufort-Wes, hulle is besig met ‘n oproer. Blykbaar omdat skoolbusse nie meer kinders nader as vyf kilometer van die skool af mag optel nie. Ek wil nie snaaks wees nie, maar as ek kleine kindertjies het wat moet skool toe gaan en die kind moet vyf kilometer skool toe stap en terug, het ek dalk ook saamgedans.
Die persoon waarsku ons net betyds, want twaalf kilometer verder kon ons afdraai na Rietbron en met ‘n grondpad ry tot by Nelspoort en dan Drie Susters, tot by Hopetown.
Ons kuier die aand rustig saam met die familie en eet allerhande lekkernye wat van die rooster af kom: oepsies (strokies varkspek om ‘n kersie gedraai), sosatiestokkies waarom spek gedraai is, varkrepies, hoendervlerkies op stokkies. Lieflike slaaie. Terloops, waar kry ‘n mens vars agurkies om in te lê?
Ons eet ‘n heerlike ontbyt in Orania by Stokkiesdraai. Ek huiwer soms om spek en eiers in ‘n restaurant te bestel, dit kan soms geneig wees om baie olierig te wees. Stilweg wonder ek of ek nie maar mag vra dat hulle dit vir my in botter gaarmaak nie. Gelukkig het ek nie nodig gehad om dit te vra nie, die spek en eiers, kaasworsie en skaapstertjies was heerlik! Skaapstertjies vir ontbyt! Wat meer kan ons vra?
In ons verbeelding beplan ons om vanaand op die terugpad op Rebusfontein in my huisie te slaap. Die kamer hét mos ‘n dubbelbed met ‘n lappieskombers. My manlief wil al lankal die Towerinne ontmoet en, soos dit vir my klink, is die meeste van hulle reeds daar en het hulle die bure raakgeloop. Blykbaar ‘n kluisenaar, maar ek dink dis g’n ‘n kluisenaar nie, hy sal tog te bly wees vir ons vriendelike en vrolike geselskap. Vanaand brand die braaivleisvure hoog by my huisie en Towerinne, julle is welkom. Daar sal allerhande verversinkies wees om te geniet, meestal Banting, want dit klink my julle is besig om hand-uit te ruk met die suiker. Ai tog!
Groete
Toortsie
Meiringspoort is pragtig.
Die stok in my hol laat nie juis dans toe nie. Ek sal wel kom plakaatswaai vir klein kinders wat 5 km moet loop. Dink hulle dit is ‘n daaglikse parkrun of twee? Wat kan alles met die kinders in daardie 5km gebeur?
LikeLiked by 1 person
En in die warm Karoo! 🤨
LikeLike
Ek hoop regtig julle stop op Rebus, ons sal graag jou anderhelfde wil ontmoet.☺
LikeLike
Hierdie padkos klink vorentoe. Ons ry Maandag Namibië toe en ek het nou goeie idees by jou gekry.
LikeLiked by 1 person
Ek is bly! Julle moet dit geniet.
LikeLiked by 1 person
Toortsie to the rescue, hoera!!
LikeLiked by 1 person
😁
LikeLike
Sal die man Rebusfontein en die Towerinne oorleef? Het hy goeie skok-absorbeerders?
LikeLiked by 1 person
Hy gaan dit geniet! Hy het self ‘n doepatjie of twee om aan te bied.
LikeLiked by 1 person
Mooi so
LikeLiked by 1 person
En aan te beveel, sag op die tond en warm in die maag🤣
LikeLiked by 1 person
Trust jou om van kos te praat as julle na ‘n begrafnis toe was. Ai… ek sal maar vanaand om die braaivleisvuur verder hoor.
LikeLiked by 1 person
Kos is makliker om oor te praat. ❤️
LikeLiked by 1 person
Padkos, o padkos!
Ek is skool toe in 1967 toe ek vyf was en meermale het Oom Johnnie my misgekyk. Veral as ek in die dennebos agter die boom gepiepie het. Dan maar stap, kaalvoet in die ysige winters. Dit was amper vier myl ver.
Pa-hulle het donkernag gaan melk en die oggendwerk gedoen en dan oor die Kasteelberg met ‘n voetpaadjie skool toe in die Riebeeck’e.
Op BW is daar altyd onrus vir die rede agter die rede. Die rede is net verskoning, ken daai plek se ingewande al vir veertig jaar of meer.
LikeLiked by 1 person
By die meeste onrus is daar mos naar ‘n rede agter die rede.
LikeLike
Mens kan nie hard praat nie. Dis beter om in ‘n blik te snuffel vir nog vleisie of worsie. My Wificle pak graag koue kerrieskaaptjops in.
LikeLiked by 1 person
‘n Heel mond is ‘n toe mond.
LikeLike
😎
LikeLike
Kerrietjops! Heerlik! Dis iets wat ek gerus in boek 3 kan sit.
LikeLike
Sy gebruik gewoonlik boudtjops daarvoor. Dit maak heerlike padkos, maar eet by die huis ook. Dan het sy altyd graag soutterte gemaak en ingesit.
LikeLiked by 1 person
Pete daardie resep moet jy asseblief deel, nog nooit kerrieskaaptjops ge eet nie
LikeLiked by 1 person
Toortsie ek het altyd net buite Wellington gekry, gee my jou banting resep en ek reël agurkies.
LikeLiked by 1 person
Ek sal dit nog moet soek! 😁
LikeLike