Kersfees – NaNoWriMo2019

Pedro Kruger vertel by die Sarie Kersete hoe hulle as ‘n gesin altyd hulleself vermaak het met kersfees. Hulle het nie iewers gaan vakansie hou nie, maar hulle as familie het saam kersfees geëet by sy ouma. Daar is groot kos gemaak, die tradisionele gammon en gestopte hoender en koekstruif (trifle). Daar is geëet, speletjies gespeel, en gesing. Hy moes altyd vir sy ouma Stille Nag op die blokfluit speel. Totdat hy ‘n spierwit Otto Bach klavier gekry het, die wonderlikste geskenk wat hy ooit in sy lewe kon kry. Daarvandaan is kersdag by hulle huis gevier en kon hulle kersliedjies sing met hy wat hulle begelei. 

Kersfees is familietyd. Saamweestyd. Vir my, van die kosbaarste tye in die jaar. Ek assosieer kersfees met Struisbaai. Kersfees by die see. Ons het nie op Sondae geswem nie en ons het beslis nie op Kersdag geswem nie. Ons gesin is altyd die oggend eers kerk toe, daarná het ons vir almal ‘n Geseënde Kersfees toegewens en middagete het ons as gesin saamgeëet. 

Kerk is gehou in die motel se danssaal. Die een jaar was daar nie genoeg plek vir al die mense nie en moes ons buite sit. Daar waar ons gesit het, kon ons niks hoor nie en het die hele tyd rondgeloop. Eers na die tyd het ek besef dat ons regtig die mense gepla het, ons moes net geskuif het, dan sou ons kon hoor. 

Intussen het Struisbaai en Agulhas so uitbrei, net in Agulhas se saaltjie word op Kersdag vier dienste gehou, in Struisbaai se NG Kerk drie dienste en nog die Radio Kanseldiens ook. 

My ma het altyd ‘n huishulp saamgebring en sy sou vir ons die heerlikste kersete voorberei. Een Kersdag het ek na die kerk by Audrey van Tonder gaan hello sê en nie besef dat dit al etenstyd was nie. Ek het laat gekom by ons kerstafel en toé het ek vir die eerste keer besef dat kersete regtig ‘n gesinsmaal is en dat ‘n mens betyds daar moet wees. 

Trifle was natuurlik die poeding van die dag en ek was nooit mal daaroor nie omdat my ma te veel sjerrie oor die koek gegooi het en die koek dan baie nat was daarvan. Sy het ‘n baie luukse trifle gemaak en baie lekker goed daarin gegooi. Eers later jare het ek in my eie huis lief geraak vir trifle. 

Ek, Martjie en Dewet het altyd ‘n trifle saamgeflans wat enige mens se oë sou laat rek. Alhoewel ons probeer het om dit redelik in lae te doen, het elkeen net ingegooi wat voorkom en het ons baie pret gehad. Ons maak die koekstruif in ‘n groot, diep, sopkom. Dit is natuurlik die twee kleure jellie, vla, geklitste room, karamel, flake, kersies, neute, vyekonfyt, en koek. In plaas van sjerrie, gooi ons Nachtmusiek likeur in. Dis ‘n erg soet, erg lekker besigheid en ons eet tot ons omval!

Alhoewel Kersdag se middagete kleintyd ons hoofete van die dag was, het dit al hoe meer die gebruik geraak dat mense eerder oukersaand hulle kersete het sodat hulle op Kersdag los kan wees vir almal wat goeie wense bring. Ook my ma het dit later so begin doen en Kersetes het al hoe lekkerder en uitspattiger geraak. Sy kón uithang met kos en daarvan ‘n fees maak. 

Die dag of twee voor die tyd was daar behoorlik gewoel in die huis. Sy sou soms sommer van die bure ook nooi en dan was daar nog méér gewoel om alles reg te kry vir die groot feesmaal. 

Ook ons het, nadat ons getroud is, steeds Kersdag herdenk. Kersdag is vir ons belangrik en kersete bly vir my ‘n belangrike familiedag. Ons en André-hulle het op ‘n tyd graag saam kersete gehou, maar oor tyd het dit onprakties begin raak toe ons kinders ook almal begin trou het. Daar is altyd plek vir nog iemand aan ons tafel en ons glo aan inklusief wees. Ons het die tradisie ook aan ons kinders oorgedra en hulle sou selfs van Groot Brakrivier af vir die dag deurry om Kersdag by die huis te vier. 

Ons is gewoonlik maar besig op Kersdag omdat die kerk altyd begeleiers nodig het en ek dan moet uithelp. Vir lank het die ‘Burger Band’ op Kersdag oral begelei en dit was wonderlike tye. Maar tyd stap aan en ons kinders word groot, hulle trou, wat maak dat ons nie elke Kersdag meer almal kan bymekaar wees nie. Net soos wat ons ouers dit destyds moes aanvaar, moet ons dit ook aanvaar en leer ons om dit te geniet wanneer dit die jaar ons beurt is. 

Ons het ook al geleer om selfs die Kersete ‘n week of wat vóór Kersfees te hou wanneer almal bymekaar is en dan kersdag rustig te verkeer wanneer ons alleen is. Twee jaar gelede was ons gesin bevoorreg om ‘n Wit Kersfees te geniet, ‘n een maal in ‘n leeftyd geleentheid waarvoor ons baie dankbaar is. Ons het ook al ge-’Christmas Carols by Candle Light’ by Struisbaai se hawe. 

Ook sinoniem met Oukersaand op Struisbaai is as die plaaslike kleurlinggemeenskap se mense van huis tot huis stap in groepe en kersliedjies sing. Daar is altyd een met ‘n kitaar by. Sodra dit begin donker raak, dan hoor jy hulle. Waar daar ligte skyn, kom sing hulle en in die gees van Kersfees is ons harte en beursies oop en verdien hulle hopelik ‘n hele paar rand op so ‘n aand. In die dae toe ek nog in Struisbaai se stranddiensspan was, het ons ook altyd een aand so gaan sing in die karevaanpark. Ek dink nie ons het ‘n blik geskud nie, maar het sommer net die Goeie Nuus van kersfees met almal gedeel. 

‘Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer …’

Toortsie

19 thoughts on “Kersfees – NaNoWriMo2019

  1. Ek het lekker Kersfeesetes op Struisbaai gehad EN op Agulhas! In die woonwapark.

    Later jare op die plaas buite Heidelberg of op Gouda. Oupa is ’67 of ’68 dood en daar was nie meer ‘n huis vir Kersfees in Montagu nie.

    Liked by 1 person

  2. Toe Enter die ding ongevraagd. Eenkeer Kersliedere in Westcliff se NG Kerk in Hermanus gehad, met baie kersliggies. Dit was 2002 maar ook daai familie is deut die ondier uitgevang.

    Kersdag sit ons twee alleen in die woonstel, K het iets by die winkel opgetel en ons luister RSG Kersgroete. Kinders, kleinkinders is iewers ver. Ons eet nie nagereg nie want Dokter se skaal het in een maand tien kilogram byvoeglik bybedoel.

    As die Ma’s doodgaan, val gesinne uitmekaar. Ons het dekades laas regte Kersfees gehad.

    Like

    1. Hierdie jaar was ek gelukkig, twee van my drie kinders en hulle gades was by die huis. Nr 3 was ‘n bietjie vroeër daar en ons het toe sommer ‘n vroeë kersete gehou met hulle en op kersdag weer saam met die res. Die jare wat die kinders by die skoonfamilie is, kry ons baie swaar.
      Gelukkig het ek verlede jaar geleer om ‘n vroeë kersete te hou met hulle wat daar is, dan voel ek Kersdag nie so alleen nie.
      Ons nooi graag alleenmense, soos my neef-hulle wie se kinders nie vanjaar by hulle was nie, saam. Dis vir my heerlik om ‘n lang tafel te dek. Almal bring iets saam en ons kuier tog te lekker saam.

      Like

      1. Ek verlang so na daai laaaang tafel op Krombeksrivier, dit kon iets soos 14 mense neem, plus nog ander groot tafels. Kinders op ‘n lang stoep wat kyk op die Blombos- en Puntjie-pad.

        Ons kinders is “altyd besig.” Ons seun woon 2.3km van ons af in dieselfde straat maar wys oë so een keer elke tweede jaar of so. Ek weet nie waarmee hulle so besig is nie, want daar is nog nie kleinkinders nie.

        Die ander is op 35,000 voet of agter ‘n Canon besig om mense te skiet. Ek verstaan besig maar hulle verstaan nie alleen nie. Ons is lief vir ons dorp maar het nie regte vriende hier nie.

        Mense hier aanbid op ander dae en vier nie Kersfees nie. Dis net BoneyM in Shoprite maar ook hulle was die keer stil.

        Liked by 1 person

          1. Wens ek kon meer by my Pa op Worcester kom, was op 13 Des 2017 laas by hom. Daar’s net nie ‘n manier nie. Hy word volgende week 89 en ek hoop hy kan my nog onthou en herken.

            Like

              1. Ek moet nog jou storie klaar lees, so halfpad gekom en toe kan die kop nie meer nie. Ek van alle mense dink nou gewone woorde is bergpasse. Steil.

                Like

                    1. Toe ek verlede jaar November NaNoWriMo gedoen het, het mense gevra ek moet die goed plaas. Ek het gevoel dis baie lank, en was regtig verbaas dat mense dit sowaar lees! 🙂

                      Like

  3. Dit is plesierig om jou herinneringe te lees. Hulle laat my ook terugdink aan kerstye toe ek ‘n kind was. Ons was gelukkig dat twee van ons drie kinders saam met on kon wees.

    Like

Gesels saam, asseblief!