Kinders en keuses

Lees ‘n bietjie by Wag ‘n Bietjie hoe ‘n slim man ‘n skoppende kind in die vliegtuig stilgekry het. Die kind het agter hom gesit en hom die hele tyd geskop. Hy het die ‘verantwoordelike’ volwassene gevra om hulp, maar kon niks regkry nie. Ook kon die lugwaardin niks regkry om die saak te verbeter nie. Die hele vliegtuig was vol passasiers en daar was nie ‘n ander sitplek waar hy kon gaan sit nie.

Hy vra toe die persoon wat agter die volwassene sit of hy ‘n rukkie op haar plek mag sit om die probleem op te los. Toe begin hy die sitplek voor hom, waar die ‘verantwoordelike’ volwassene sit, te skop. Hy trek die sitplek agtertoe. Hy stamp daarteen.

Die persoon voor hom begin kla, maar hy hou aan. Persoon roep die lugwaardin, maar sy glimlag net, sy en die persoon wat nou solank in die paadjie staan. Hy hou aan skop. Die ‘verantwoordelike’ volwassene maak al hoe meer kapsie. Begin vloek en skel. Hy hou aan skop. Die res van die passasiers begin ook aanmerkings op die ‘verantwoordelike’ volwassene maak.

Hy vra toe saggies in haar oor of sy lekker vlieg en of sy haar kind gaan beheer? Dit was laaste van ‘n skoppende kind.

Dit het my laat dink aan ‘n storie wat Kameel een keer vertel het, ek het dit gaan soek, maar kon dit nie vind nie. Die persoon het in die ry gestaan om sy kruideniersware te betaal. Agter hom was ‘n kind wat die trollie aanmekaar teen sy voete kap. Die ouers ignoreer dit en selfs al vestig hy hulle aandag daarop, doen hulle niks aan die saak nie. Hulle rede? Want hulle wil nie dissipline toepas nie, die kind moet self leer en besluit wat reg en wat verkeerd is.

Nadat die persoon al goed moeg was vir die kind en almal in die ry al frons, draai die man rustig om en kyk wat is in daardie mense se trollie. Hy neem toe ‘n groot houer joghurt uit hulle trollie, maak dit oop en gooi dit uit op die kind se kop. Vir die geskokte ouers sê hy: “My ouers het my ook grootgemaak om te doen wat ek lus het en dís waarvoor ek nou lus was.” Groot applous van die res van die mense in die ry het gevolg.

Dit laat my dink aan soveel goed wat nie reg is nie, wat in ons kele afgedruk word. Waag ons dit om iets daaroor te sê, word ons beskuldig dat ons OORDEEL. Die ‘verontregtes’ oordeel gewoonlik dan die hardste. Ek sien dit oral. Gisteraand was dit op Binnelanders, wat toevallig aan was terwyl ek daar gesit het. Die getroude, baie senior man, het ‘n plek waar ontkleedansers hulle werk doen, besoek. Iemand het dit gesien en vir ‘n ander persoon genoem. Toe hy gekonfronteer word daaroor, is húlle verkeerd en hy reg. En hulle durf nie waag om íéts daaroor te sê nie. En so tussendeur lees ek baie verskuilde agendas.

Ek gaan nou nie eers alles noem wat in my gesig gedruk word selfs al gril ek daarvoor nie, ek gaan so gestenig word dat julle nie eers my stukkies sal kan optel nie. Die nuutste wat nou begin om ongemerk in ons lewens te begin insypel, is geslagloosheid. Dat kinders geslagloos grootgemaak moet word omdat hulle self moet kies wat hulle wil wees. Grys en liggroen is blykbaar die kleure om ‘n kinderkamer te verf, dis geslagloos. Ons word dit in TV programme gevoer, dit begin inkom by skole.

Ja, daar ís uitsonderings op die reël, daar is mense wat meer die ander geslag is as wat hulle hulle eie geslag is, ek respekteer dit. Ek weet ook heeltemal te min daarvan af. Om egter kinders die besluit te laat neem oor watter geslag hulle eintlik wil wees, om dit in skole vir hulle te wil leer, om van dag een af vir hulle te leer dat dit nie saakmaak watter geslag hulle is nie, is vergesog.

Dit laat my dink aan die tiener wat destyds by ons kom kuier het. Sy het my ‘n hele uiteensetting gegee van watter soorte vegetariërs ‘n mens alles kry. Die een soort eet nie eiers nie, die ander een eet wel eiers, maar nie vis nie, die ander een eet net vis, ens. Nou ja, deesdae doen ek Banting, om gesondheidsredes, maar op daardie stadium het ek nog alles geëet. In ons huis is vleis mos maar die stapelvoedsel.

Die arme kind kon niks by ons eet nie, ek kan nie onthou watter -iër sy was nie. Sy kon wel vrugte eet. Ek koop toe vrugte, maar dis toe ook nie na haar smaak nie. Wat sy op die ou end kon eet, was tjoklits en roomys, wat sy met haar eie geld gekoop het. Die ekstra maer kind het in daardie tyd by ons nóg gewig verloor. Sies tog. My mening? Al die verskillende diëte is vir hulle gewys en sy het vir die snaaksigheid gekies om so te eet. Ook maar reg, né, want alles is mos deesdae reg.

Oor geslagloosheid. Oor dat ons ons kinders wil geslagloos grootmaak sodat hulle self kan kies. Sommer oor dissipline ook. En dat ons nie verantwoordelikheid vir ons kinders wil neem nie. Dat ons bang is vir ons kinders. En bang is vir die mening van die gemeenskap. ‘n Frons word sommer al amper as ‘aanranding’ beskou.

Eerstens moet ons nie ons luiheid om ons kinders behoorlik te leer, agter mooi woordjies wegsteek nie. As ons groot en verantwoordelik genoeg is om seks te hê, om kindertjies te wil maak, moet ons ook groot en verantwoordelik genoeg wees om hulle behoorlik, na ons vermoë op te voed. Dis ONS verantwoordelikheid as ouers om vir hulle leiding te gee. As ons dit NIE doen nie, faal ons ons kinders. Laat ons ons kinders in die steek. Sondig ons. Kinders het nie die insig of kennis om sekere besluite te neem nie, hulle verwag van ons om vir hulle leiding te gee.

Ons moenie probeer God speel nie. Ons moet ook nie ons minderjarige kinders toelaat om God te speel nie, of om te dink hulle weet beter as God nie. God weet die beste. Ons kan Hom maar vertrou. Regtig. As ons begin God speel en ons kinders sommer vir die snaaksigheid laat kies wat hulle wil wees, skep ons ‘n nuwe probleem. En niemand kan dit ontken dat die wêreld deesdae goed deurmekaar is nie. Sodom en Gomorra sou wát wou gee om net naastenby te wees soos wat die wêreld vandag is. Ek sê maar net.

Toortsie

24 thoughts on “Kinders en keuses

  1. My kleinniggie kón ‘n tantrum gooi. Soos in die supermark. Totdat my niggie (haar ma, natuurlik!) eendag langs haar neerval en ewe hard skop en skree…..dit was ook die laaste tantrum.

    Liked by 1 person

      1. K het dit ook met ‘n vriendin se kind gedoen! In Shoprite. Ek was eers skaam maar het toe maar gelag. Die kind is nou groot en onthou seker nie.

        Like

  2. Ek wou eintlik nie nou die stuk lees nie want ek moet gaan slaap. Soos die “duiwel”of voorsienigheid dit wil hê begin ek toe eog lees. Glo my ek het wraggies tot die einde gelees. My bloed kook sommer nou. Hoe kan n kind weet om te besluit as hy nooit geleer het om dinge te doen of te weet nie. Hoe kan kind weet of hy n hy of n sy is. Hy is dan anders geskape as sy. Ek kannie dit klein kry nie. Ek beter gaan slaap vanaand gaan my brein weer nie ophou karring nie. Ding is ook die ouens wat omgee lees dinge soos hierdie maar die wat niks omgee lees dit nie.

    Liked by 3 people

      1. Gelukkig was ek moeg genoeg en het vinnig aan die slaap geraak. Ek het my voorgeneem om minder angstig en bekommerd te wees oor ander se dinge. Toe kyk ek na die nuus om ses na al die verwoesting van die brande in Australie. Die wind waai so erg dat dit vuur dwarrelwinde veroorsaak. Een groot eiland wat n reservaat is is besig om geheel en al te brand.

        Like

          1. Herinner my nogal aan jare terug se brande toe die suidpunt van die Kaap si afgebrand het. Hierdie is egter werklik tienkeer erger. Dis hele dorpies wat verwoes is en natuurlik plase en plantegroei wat al jare bestaan. Die hitte maak ook dat die rookwolke hul eie weerlig veroorsaak.

            Like

Gesels saam, asseblief!