Sesde sintuig

Ek het ‘n wonderlike tyd agter die rug met al my kinders en kleinkinders wat soms saam, maar soms afwisselend by ons gekuier het. Dit het veroorsaak dat ek nie by bloglees uitkom nie, net so hier en daar ietsie gelees. Soms het ek net ‘n opskrif gelees so in die verbygaan, maar dit tel mos nie as gelees nie. Toe ek egter Scrapy se wasdaguitdaging sien van sintuie, het ek, soos soveel ander wasdae, gedink dat ek daaroor sal wil skryf. Ek kom net nie noodwendig altyd by die skryf uit nie en voor ek my kom kry, is die volgende wasdaguitdaging hier. Toe ek nou in my leser soek na die betrokke bloguitdaging, sien ek hoeveel fantastiese bloginskrywings daar is wat ek ook nog so graag wou lees. Dalk moet ek ‘n dag nét blogs lees en op datum kom!

Dit is mos algemeen bekend dat ons vyf sintuie het, maar dat vroue ‘n sesde sintuig het. My man noem tog te graag dat ek ‘n uiters fyn sesde sintuig het. Ek kan sy stories beaam, maar ek het ‘n ander verklaring daarvoor as dat dit ‘n sesde sintuig is.

Op ‘n stadium was ek die bestuurder van ons vervoerbesigheid. Intussen het ek ‘n helper gekry, Dawie, en het hy stelselmatig die bestuur oorgeneem en ek het meer die rekeninge hanteer. Een dag, toe ek van die dorp af by die deur inkom, hoor ek hy praat met iemand op die foon. Ek het nie geweet met wie nie, ook nie waaroor nie. Die woorde, “Los daardie man”, het uit my binneste geborrel. Plaas dat ons maar geluister het daardie keer!

Baie jare gelede het my man belanggestel in ‘n plaas. Ek was onseker daaroor. Eintlik het ons klaar besluit om nie te koop nie. Middagetetyd kom hy, soos gewoonlik, by die voordeur in. Ek staan by die stoof en vra vir hom, ek het net ‘n vreemde gevoel gekry: “Waar was jy nou?” “By X”, antwoord hy. “Waar was jy en X?”, vra ek. “By Y.” “Waar was jy, X en Y?” “Ons het gaan kyk na die plaas.” “Koop dit, antwoord ek.” Ons het vir twintig jaar op daardie geliefde plaas gewoon.

Toe ons nog op Frederickskraal gewoon het, 50 km grondpad van die dorp af, wou ek voor donker by die huis kom. Ek wou eintlik altyd voor donker by die huis kom. My pa groet en sê dat as ek voor ‘n sekere punt ‘n pap wiel kry, ek moet probeer om tot by ‘n boer te kom en dan kan hulle hom, my pa bel en hy sal kom help. Anderkant daardie spesifieke punt moet ek eerder probeer om my man in die hande te kry om te kom help. Dit was voor selfone. Ek noem aan hom dat ek nie beplan om daardie dag ‘n pap wiel te kry nie, maar as dit sou gebeur, moet dit teen die bult by Ouplaas wees, dan kan ek tot by oom Jan kom en dan is my man nie te ver om te kom help nie. Dit het presies net so gebeur!

Of die keer, baie jare gelede wat ek by die dokter was en iemand bel. Toe hy die foon neersit, sê ek uit die bloute iets van die dokters met hulle skelmpies. Min het ek geweet hoe raak ek geskiet het en dit sonder om te dink!

My gesin weet al dat hulle nie moet probeer om my te flous nie. Hulle kry dit dalk vir die oomblik reg, maar nie regtig nie. Ek is al daarvan beskuldig dat ek stof opjaag, wat seker waar is. Ek moes ook al baie in my lewe leer om eerder my mond te hou, moeilik, maar wel, want ek kan nie my wil op almal afdwing nie.

Wat my verduideliking vir hierdie sesde sintuig is? Sy naam is die Heilige Gees. Dis Hy wat my waarsku.

Toortsie

#JustJoJotJan

16 thoughts on “Sesde sintuig

  1. Sit in ‘n vergadering met mense wat op die horlosie gaan bid. Ek vertel van hoe party rekenmeesters spioeneer op besighede, daaruit leer en dit dan elders beter gaan die. Twee van die manne is geestelikes wat hulle slaaptydstorieboek van agter na voor kan opsê. Later sal ek hoor hulle is rekenmeesters wat ‘n hele dorpie aan die weskus se ondergang beplan het. Hulle het ook later daarin geslaag.

    Like

  2. It could also be a Guardian Angel. I have avoided a serious accident three times through that sixth sense: asked my husband how one should handle a burst tyre moments before it actually happened; found myself idly scanning the road verges in case I should have to swerve off the road – which I did only twenty minutes later to avoid a head-on collision; and once, while driving in the dark, inexplicably slowed down and found a herd of blesbuck in the road. Jy is reg. Ons moet net leer om ingeskakel te bly 🙂

    Like

    1. Nou herinner jy my aan die dag wat iemand uit die bloute vir my vas in die oë kyk en sê presies wat ‘n mens moet doen in die geval van brandwonde. Net die volgende dag het ek dit nodig gehad. I’n so glad you could avoid a very big accident.

      Like

    2. Een keer, op pad skool toe met my jkinders in digte mis, sien ek skielik dat my seun nie sy veiligheidsgordel aanhet nie. Ek sê dadelik hy moet dit aansit, net betyds voor ons amper in ‘n trop beeste ingery get.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!