Die liefde is onselfsugtig

So ‘n paar dae gelede het ek begin om die liefdesuitdaging (Love Dare) oor veertig dae te plaas en het ek paartjies uitgedaag om dit te begin doen. Op dag een, ‘Love is patient’, is ons uitgedaag om niks negatiefs vir of van ons geliefde te sê nie. Dag twee, ‘Love is kind’, herhaal die vorige dag se uitdaging, maar daag ons ook uit om goed te wees vir die persoon en dit met een of ander daad te bewys.

Op dag drie kyk ons na die liefde wat onselfsugtig is. Steeds moet ons niks negatiefs sê vir of teenoor ons geliefde nie, maar ons moet ook ietsie kleins koop om vir haar te wys dat ons aan haar gedink het.

Die groot uitdaging van hierdie uitdaging is eerstens om daagliks die klein stukkie te doen wat hulle vra. Daar is egter nog ‘n ander uitdaging ook, en dit is om jou oë oop te hou vir jou maat se pogings van liefde, van goedheid. Want dit kan so maklik gebeur dat ‘n mens dit miskyk. Soos, toe ons die tien kilometer wedloop stap oor baie ongemaklike gebied, die hand wat hy vir my uitsteek om my te help keer dat ek val. Soos toe hy vir my gewag het toe ek agter geraak het. Klein gebaartjies van liefde wat ‘n mens deur die dag vir mekaar gee en wat so maklik is om mis te kyk.

Dag drie vra dat jy ietsie kleins vir jou geliefde koop om vir hom of haar te sê dat jy aan haar gedink het. Dit hoef nie duur te wees nie. Dit kan sommer net ‘n lekkertjie wees, of ‘n kaartjie met ‘n mooi boodskap op. Wat van ‘n lekker wegneemkoffie? ‘n Sepie. ‘n Boksie vuurhoutjies met ‘n mooi boodskap op. En as jy regtig nie geld het om iets te koop nie, wat van ‘n blommetjie wat jy langs die pad pluk? Dit gaan oor die gedagte wat mooi is.

Groete

Toortsie

4 thoughts on “Die liefde is onselfsugtig

Gesels saam, asseblief!