Optree – NaNoWriMo2019

Ek het nie ‘n verhoogpersoonlikheid nie. Dalk lê die fout daarin dat ek te bewus is van wat ander mense dink. Dalk, omdat, as ek kleintyd gepraat het van musiek gaan studeer, iemand dalk sou sê dat ek tog nie so ‘n spektakel moet maak soos sommige van die pianiste nie. Dalk omdat ons as kinders gelag het as iemand sing of iets en dan ‘vreemd’ optree? Dalk omdat ek inherent skaam is, al sal geen mens my glo nie. 

Ja, ek is skaam. Ek is bang ek maak ‘n fout in die openbaar. Ek is bang ek maak ‘n krater van my naam. Ongelooflik, as jy dink dat dit niks snaaks is vir my om ‘n lawwe foto van my met ‘n rooi kopdoek op die voorblad van ‘n boek sit nie. 

Wat ek oor die jare geleer het, is dat ek in die situasie gemaklik moet voel, dan sal ek enige iets doen. Dan sal ek ook buite die boks waag. Onsekerheid hou my egter soms terug. Vrees vir mislukking, maar ek het ook geleer dat ek vrees vir sukses gehad het. Ek is so dankbaar dat ek daardie reus van vrees vir sukses in die oë kon kyk en dit kon oorwin, dit het soveel deure vir my oopgemaak. 

Op ‘n jong ouderdom het ek al die voorreg gehad om as pianis op te tree. Solank Fanie Zondagh nog in die skool was, was dit sy voorreg om te kan klavier speel by die prysuitdelings. Hy was en is steeds geniaal in musiek. Hy het die kerkorrel bespeel en die kore begelei. Ek het hom bewonder. Ek het sy talent bewonder. Hy was uitstekend. Hy is steeds uitstekend. Ek het hom al in die Artscape se orkes sien optree.

Toe Fanie uit die skool is, het baie van daardie take myne geword, behalwe dat ek nooit die kerkorrel leer speel het terwyl ek op skool was nie. Ek het wel op ‘n later stadium ‘n bietjie orrellesse geneem, maar dit was so moeilik om te oefen terwyl ons op die plaas gewoon het. 

Toe Martjie ook nog in daardie tyd gebore is, het dit heeltemal onmoontlik geraak om nog oefen- en lestye in te werk. Die finansies het dit in elk geval ook nie regverdig nie. So iets is nie so maklik om te doen vir ‘n volwasse persoon met kinders nie. En terloops, as ek dit kon oordoen, sou ek dit weer eens net so gedoen het. 

Ek het die skoolkoor begelei, ook die volwasse koor, maar was altyd in ‘n senutoestand as die koor sou optree. Bang ek maak ‘n fout. Bang ek laat die koor in die steek. 

Een jaar het ons by die korefees in Caledon gaan optree. Vir die skoolkoor het ek skoolklere gedra, vir die volwasse koor moes ek ‘n swart romp en wit bloes aanhê. Hoekom ek nie sommer net in my skoolklere gespeel het nie, weet ek nie. 

Ek het ‘n pragtige swart oorslaanromp gehad. Deftig. Potlootromp. Te mooi. Die skoolkoor het gesing en dit het goed gegaan. Tussen die skoolkoor en die volwasse koor het net een koor gesing. Soos ‘n wafferse aktrise het ek vinnig tussen die twee kore gaan verklee en toe die volwasse koor opstap en hulle plekke inneem, staan ek netjies op my plek, reg vir die begeleiding. 

‘n Oorslaanpotloopromp is nie ‘n goeie keuse as jy klavierspeel nie. Ongelukkig het ek dit eers tydens die optrede besef. Keer op keer wou die deel wat oorslaan, afglip. Sjoe! Dit was behoorlik ‘n kophoubesigheid. ‘n Nar wat toertjies doen op sy beste. Dis klavierspeel en romp in plek hou en omblaai en speel en romp. Ek het dit gemaak! Ek dink nie ek het skandes gemaak nie, maar ek was stokflou toe dit klaar was. 

Ek moes by al wat ‘n ding is, klavier speel. In daardie tyd was daar selfs ‘n klaviersolo gedoen by die kerkraadsvergadering. Kan jy nou meer! Soveel keer het ek dan wel opgetree en het daarna ongemaklik gevoel. Nie omdat ek swak gespeel het nie, inteendeel, maar omdat ek gevoel het ek tree op ‘n plek op waar ek nie hoort nie. Dat die mense net ordentlik was om na my te luister. Dat hulle dit nie regtig wou hê nie, maar dat daar ‘n klaviersolo of ander item is omdat dit die manier is wat dit gedoen word. Ek bedoel, waar sal ‘n klomp ou mans nou lus wees om na ‘n klaviersolo te luister? 

Ek het by die VLV gespeel en die blommeskool, waar ook al. Ek sou kom sit, my item lewer, opstaan en afloop sonder om enige spier te verrek wat wys dat ek die applous geniet of erken. Bloot omdat ek te skaam was en nie geweet het hoe om te maak nie. Tannie Elza het een keer gesê ek moet buig as ek klaar gespeel het, maar ek sou eerder tien dode sterf. Dis eers op ‘n baie later stadium in my lewe wat ek geleer het om, as ek klaar is, vir die mense te glimlag en ten minste die applous te erken. 

Tog moes daar waarderende mense ook in die gehoor wees en dit was dalk ter wille van hulle wat ek altyd moes speel, ek het dit net nie geglo nie. 

Ronel se ma was so iemand. Het ek iets moois by die prysuitdeling gespeel, sou sy, wanneer ek weer by hulle gekom het, vra dat ek dit weer vir haar moet speel. Is dit nie spesiaal nie? Dan het ek dit sonder fout, sonder enige spanning, gespeel soos dit eintlik gespeel moet word, sommer uit my kop uit. 

Ek het gewoonlik niks van die hele program geniet nie, veral as ek eers laat op die program moes deelneem, bloot as gevolg van spanning. My hande was altyd sopnat gesweet.  

Ons moes ook Maandagoggende die skool in die saal begelei. Op so ‘n dag moes ons dan, óf die Skoollied, óf die Stem speel, asook ‘n gesang wat die kinders sing. Die Skoollied en die Stem is weekliks afgewissel. 

Dit het so gewerk: Die hoofsteun en -meisie staan agter by die deure met die betrokke vlag. Ek speel die lied een maal deur terwyl die vlagdraers stadig instap en die vlag op sy plek kom hang. Dan word dit nog ‘n keer gespeel terwyl die skool saamsing. Die alleenspeeldeel was NAG, so ook die inleiding voor die gesang. Sodra die mense saamsing, is dit maklik. 

Ek, Ronel en Adri het beurte gemaak. Ronel was my beste vriendin en wanneer sy speel, was ek sommer vir haar part ook op my senuwees, net soos wat André ook gespanne was as ek gespeel het. 

Dit was die dag Ronel se beurt om die Skoollied te speel. Alles gaan goed, maar mnr van Zyl was nie tevrede nie. Ronel het te stadig gespeel. Ons moet dit weer doen. En nog ‘n keer. Dis om van dood te gaan. ‘n Mens se senuwees hou dit vir een keer, nie vir drie keer na mekaar nie! Net daar besluit ek dat ek sal sorg dat dit my nie oorkom nie, ek sal dit nooit oorleef nie. 

Die volgende week is dit Adri met die Stem en die week daarna weer ek met die Skoollied. Ek hou my belofte gestand en speel daardie dag die Skoollied teen ‘n spoed van wit lig. Die kinders het al begin sing toe was die vlagdraers nog nie eers voor in die saal nie. Mnr van Zyl het blykbaar net sy kop geskud. Verdomp! Na die tyd het Johan Bronkhorst kom vra wat met my aangegaan het, hy was so bang dat ek ‘n spoedhobbel tref en wat dan? Dit sal hulle leer om opmerkings te maak voor die hele skool! Gelukkig het mnr van Zyl niks gesê nie! 

Van die Skoollied gepraat, ons skool het ‘n interessante skoollied gehad. Hier aan die einde van die lied het die skrywer se woorde beslis opgeraak en hy skryf toe: ‘Tra la la la, dorp van Breda.’ Belaglik! Wie sit sulke woorde in ‘n Skoollied? 

In standerd ses was ons by ‘n CSV dogterskamp in Kleinmond. Wat ‘n wonderlike geleentheid! Iemand kry die mooi gedagte dat elke skool se kinders hulle Skoollied moet sing. Elke aand kry so twee of drie skole die geleentheid voor die verrigtinge begin. My kop werk oortyd. My senuwees nog meer. Tra la la … wat gaan die kinders van ons dink? 

Teen die tyd wat dit ons beurt is, is daar nie meer huis te hou met my nie. Ons begin sing, dit gaan heeltemal goed, maar hoe nader ons aan die gewraakte woorde raak, hoe meer gespanne raak ek. 

Voor ons nog daar kom, bars ek uit van die lag. Histeries. Adri probeer nog die fort hou om aan te sing, maar die res val saam in met my. Die trane spat soos ek lag, my neus loop net so vinnig en ek skud soos ek lag. Die hele saal se kinders lag natuurlik met hartelus saam. Almal is histeries!

Na die tyd wou almal weet hoekom ek so gelag het. Nou besef ek, as ek net kalmeer het, sou niemand dit eers agtergekom het nie, wie luister in elk geval na die woorde? 

Ook in standerd ses rond kon ons mondeling praat oor enige onderwerp. Die Huisgenoot was baie sterk verteenwoordig in die mondlingonderwerpe. Onthou, daardie jare was die Huisgenoot ons verwysingsraamwerk, ons Google. Dis die een ernstige onderwerp na die ander. 

Ek kies gesinsmoorde as onderwerp. In daardie tyd was daar ‘n paar sulke voorvalle in ons land, soveel so dat die Huisgenoot gevoel het om ‘n artikel daaroor te skryf.  Ons was drie of vier wat daardie dag mondeling moes praat. 

Die eerste kind praat oor een of ander donker onderwerp. Die tweede een ook. Toe die derde en sy onderwerp aankondig, het mnr Burger al ‘n opmerking gemaak. En toe kom ek met gesinsmoorde. Natuurlik was daar reaksie en tipies ek, raak ek aan die giggel. Ek dink nie ek het twee sinne behoorlik gepraat nie, Ek, en die kinders het die mondeling deurgelag. Deurgeskree soos ons lag. Dit was nou snot en trane op sy beste! 

Iewers is een of ander bekende taalkundige se geboortejaar herdenk. Ek weet nou nie wie dit was nie, ek het toe ook nie geweet nie. Was daar iemand soos Pannevis? 

Bredasdorp het deelgeneem aan die feesvieringe. Die koor het gesing, daar is konserte gehou. Juffrou Visser het ‘n baie besonderse item, sy lees een of ander ding voor. 

In die storie vertel dit die geskiedenis van Afrikaans. Dat van Holland daar mense gekom het, en van Frankryk, en Duitsland, waar nog oral. Wanneer die land se naam gelees word, stap die verteenwoordiger van daardie land statig van agter af in en kom staan voor bymekaar. Te mooi. 

Ek is Frankryk, pragtig geklee in ‘n baie mooi langrok en ‘n wit pruik op die kop. Chaos! Die skare lê soos hulle lag, ek het nie ‘n sakdoek byderhand om te help red nie. Toe ons dit nog ‘n keer by die hoërskool ook moes optree, het ek net geweier, nie weer die pruik nie. Ai toggie! Vol bravade, maar tog so skaam. 

Ek en Ronel het graag duette saamgespeel. As beste vriendinne het dit baie goed gewerk, ons het graag saam geoefen. En tannie Elza het vir ons die mooiste goed uitgesoek: Pizzicato Polka; Blommewals. Ek het die mooiste duetteboek gehad waaroor my hart nou nog huil omdat dit weggeraak het. Musiekboeke het dieselfde probleem as leesboeke, ‘n mens leen dit vir iemand en dit kom nie terug nie. 

Met die verwelkoming van die nuwe dominee moet ons weer, soos gewoonlik optree. Nou moet ek eers vertel, ‘n lang musiekstuk het merke waar ‘n mens gemaklik weer kan begin as jy sou vashaak. Dis met ‘n letter van die alfabet gemerk. Veral met ‘n duet is daardie merke goud werd. 

Iewers haak een van ons, en sê, B, bedoelende ons gaan daar aan. Ek begin speel, sy is nie reg nie. Weer probeer ons, hierdie keer is ek weer nie reg nie. Ai toggie, uiteindelik is dit gesinkroniseer en kon ons klaar speel. Giggel-giggel se Moses. Verleentheid se Moses. Skande op die huis!

Ek was net so verleë die keer wat ek Wispering Hope in duet saam met Adri gesing het. Die spanning het my stem so dun gemaak. 

Die eisteddfods was altyd baie vroeg in die jaar en in die hoërskool, wat ons al baie meer gevorderde stukke gespeel het, was ‘n stuk nog nie altyd so goed afgewerk wanneer die eisteddfod kom nie. 

Daardie een jaar het ek in ons groep gewen, maar ek het in my hart gevoel dit is nie reg nie. Toe ek die kommentare mooi bekyk, het ek vermoed dat Adri eintlik moes wen. Ons het dit vir die onderwyser gaan wys en sy het toe by die pryswennerskonsert gaan speel, eerder as ek. Dalk was ek nog al die jare verkeerd, maar wat maak dit saak? Op daardie stadium het dit vir my reg gevoel. 

Iewers het ons ‘n orkes gehad, Four Jills and a Jack, gedagtig aan die Four Jacks and a Jill wat daardie tyd groot nuus in Suid-Afrika was. Dit was ek, Adri, Karin, Alyssa en Neelsie Zondag, die Jack in die groep. Die pianiste was ek en Adri, maar sy wen toe die lootjie vir die klavier. Karin en Alyssa wou kitaar speel. Terwyl die orkes hulle idee was, was dit seker reg, ook dat Karin toe met my kitaar speel en nie haar eie nie. Neelsie het die dromme gespeel en ek? Ek het die rammelaar geskud. Ja. Die rammelaar. Ek sê maar eerder niks verder nie. Jou beurt is jou beurt. Dit was my beurt met die rammelaar. Ja. 

Vandag hou ek steeds nie daarvan om individueel op te tree nie. Ek hou daarvan om in die groep te wees, maar nie dat al die aandag op my gevestig is nie. Dis vir my lekker om die kerk te begelei, maar ek ontspan steeds eers sodra die mense begin sing. Ek geniet ook die orkes baie en speel nou self die kitaar. Ek leen ook nie meer sommer my kitaar vir iemand nie. Maar as ek vandag alleen by die huis by my klavier is en daar niemand is wat oor my skouer loer nie, dan geniet ek myself die heel meeste!

Toortsie

6 thoughts on “Optree – NaNoWriMo2019

  1. toe lê ek nou ook behoorlik en giggel hier in d bed( my man slaap nog), en kan nie ophou nie. Ek ken mos daardie gevoel! Een v ons duetoptredes se musiek was vrolik mooi en nogal vinnig, maar tussenin moes ons 2x omblaai. Toe ek verwoed omblaai, vlieg die volgende bladsy ook om en ons is op p3 ipv p2. so in die speel blaai ek gou terug en toe is ons weer op p1! Uiteindelik, met n woeste rondval van note, is ons darem uiteindelik op p2 en kan weer sien waar ons musiek is. Dis dan wat die giggels en koue swetery jou sommer gelyk tref. Maar die mense het darem woes hande geklap.

    Liked by 1 person

  2. Ook maar n ding op sy eie om so op jou eie te moet speel of optree. My seun se beste skool vriend was uiters intellegent en dan nog musikaal ook. Met groentjie konsert gaan sit hy voor klavier en hy begin – gehoor het net aangehou met klap dat hy moet aangaan. Hy het gereeld middae by ons gebly odat hy buite op plaas bly. Hy het musiekklasse gehad. Moenie dink hy oefen nie. Nee, sal so sit en kuier en dan skielik onthou hy moet gou die musiekstuk deurkyk. Geen geoefen of niks. Tjoef tjaf en hy het dit. Was fantasties om na hom te luister. Hy het ook kerkorrel gespeel. Selfde met liedere wat hy moes speel, kyk gou en hy doen dit. Dis nou wat ek begaafd noem. Vandag op 37 stel hy nie meer werklik belang nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s