Uitslaap – NaNoWriMo2019

Ek was ‘n koshuiskind. Vir dertien jaar van my lewe lank. Vanaf standerd twee tot matriek en daarná nog vier jaar op universiteit ook. Dit was vir my nooit moeilik om koshuis toe te gaan nie en ek het baie goeie herinneringe daaraan. 

Maar as dit huistoegaantyd was, wou ek huis toe gaan. Ek wou as skoolkind nie op ‘n Sondagaand koshuis toe gaan nie. Sonder dat ek dit besef het, wou ek ook nie graag naweke by maats gaan kuier en oorslaap nie. 

Koshuiskinders wil naweke huis toe gaan. Ek het selfs gesukkel om naweke huiswerk te doen, want ek het altyd gevoel dat ek slegs twee en ‘n halwe dag gehad het om alles te doen wat die dorpskinders die heel week tyd kry om te doen.

Tog, as die skool op ‘n naweekkamp was, het ek saamgegaan. My naam was eerste op die lys. Gelukkig was dit net een of twee naweke in ‘n jaar, gewoonlik ‘n CSV-kamp of ‘n Landsdienskamp, wat heerlik was. Die probleem was dat die volgende week in die koshuis dan ekstra lank was. 

GEk het dit ook met my eie kinders ervaar dat, as hulle ‘n naweek uitgeslaap het, hulle die volgende week swaar gekry het in die koshuis. En ek by die huis natuurlik ook! 

Sulke naweekkampe was tog te lekker. Ons was ‘n paar keer by die De Hoop Natuurreservaat, wat natuurlik vir my baie lekker was omdat dit ons bure was op die plaas. Ek kon dan nog gou op pad na die kamp toe by die huis aangaan. Ek sal nooit die pienk pap met die groen melk vergeet nie. Gewone hawermoutpap was groen gekleur. Party kinders het hulle neuse daarvoor opgetrek, ander het dit juis geëet omdat dit snaaks was. 

In standerd ses het my ma vir my ‘n kitaartjie gekoop wat soos ‘n tweede vel was, waar ek gegaan het, het die kitaar ook gegaan. Die kitaar was nooit in ‘n behoorlike sak nie, wat baie jammer was, hy het maar baie verniel. Is ons agterop ‘n lorrie gelaai met ons bagasie en al om by ‘n kamp uit te kom, is kitaar saam met my agterop gelaai, stofpaaie en al. 

So ‘n kitaar gee baie atmosfeer. Jy kan op jou eentjie sit en tokkel, maar voor jy jou kom kry, sit daar ‘n klompie en begin hulle sing terwyl jy speel. Die kampvuur in die aand was vir my ‘n hoogtepunt. Dis dan wanneer almal stil raak, nader aan mekaar raak, nader aan God raak. 

Om so ‘n kampvuur het ons goed gedoen wat ons nie by die huis doen nie. Ja, daar is gebraai, maar ons het ook malvalekkers op stokke gedruk en dit in die vuur gesmelt. Daar is brooddeeg gemaak en dan het ons stokbrode gemaak. Jy het jou balletjie deeg in ‘n lang slang gevryf en dit om die stok gedraai en bokant die vuur gehou om gaar te word. Dan het jy die botter en die goue stroop by die gaatjie ingegooi. Hemels. 

Een keer tydens so ‘n kamp het ons gestap vanaf Windhoek, ook een van ons buurplase tot by De Hoop. Dis nogal anders as ‘n mens op ‘bekende’ grond loop, teenoor byvoorbeeld in die berg by Hermanus, wat ook sy eie bekoring het. 

Tannie Jossie vertel vir my dat sy op Windhoek grootgeword het. Haar pa het ‘n groentetuin gehad en dan het die mense altyd by hulle kom groente koop. 

Toe ons by Hermanus rond gekamp het, moes ons die riviermonding wat toegeslik het, skoonmaak. Dit was ‘n landsdienskamp en ons was daar om ons land te dien, dis tog wat die naam sê. Ons het by mekaar ingehaak en ‘n lang ketting gemaak en die slyk met ons lywe skoongeloop. Jeggg. Grillerig. Maar as jy dit as ‘n span doen, gee jy nie om nie en is dit pret en iets wat jy die res van jou lewe onthou. Ek onthou ook vandag nog die een meisie wat op die wal gestaan het omdat sy dit nie wou doen nie. 

Ek sou baie eerder ‘n maat saambring huis toe vir die naweek as om by maats te gaan kuier. Daarvoor is ek my ouers baie dankbaar, dat hulle huis altyd oop was vir my maats en dat hulle my gasvryheid geleer het. 

Die feit dat ek in die koshuis was en naweke huis toe gegaan het, het beteken dat ek my klasmaats anders geken het as die ander. Ons koshuiskinders het mekaar goed geken, maar ek het nie die dorpskinders so goed geken nie. Ek het byvoorbeeld altyd gedink dat ons nie so ‘n hegte klas was nie, tot ek nou eers besef het dat die klasmaats baie dinge naweke saam gedoen het, soos motorhuispartytjies, wat ek nooit bygewoon het nie, dit was net te ver. Ek was ook nie eintlik soontoe genooi nie, seker ook maar omdat ek in elk geval nie sou kon kom nie. 

Sou dit nodig wees dat ek ‘n aand op die dorp moes uitslaap, was Ronel le Roux se huis altyd vir my wawyd oop. Aan haar ouers is ek net soveel dank verskuldig hiervoor. Ek het wel soms by Ronel gekuier, maar ek dink dit was eerder in ‘n lang skoolvakansie. 

Ek het een Saterdagaand by tannie Mags-hulle op Ouplaas gaan kuier in my hoërskooldae. Of dit sommer net ‘n kuier vir die lekkerte was en of my ma-hulle iewers heen was, kan ek nie onthou nie. Maar dat dit hemels was, dít kan ek goed onthou. Daardie aand het ek in die kamer langs hulle s’n geslaap, anders as die twee ses maande-periodes wat ek by hulle loseer het en by hulle in die huis geslaap het. 

Om by hulle te kuier was soos om in ‘n ouwêreld in te stap. Hulle het nooit elektrisiteit gehad nie, ook nie ‘n enjin om lig te verskaf nie. Daar was dit nog olielampe, kerse, misvloere. Verebeddens. Piepie in die potjie snags. Was in ‘n wasskottel. Kosmaak op ‘n houtstoof. Geen vertoon nie. Plat op die aarde. Eg. Sout van die aarde. 

Tannie Mags het nog outydse speelgoed gehad. Bakatel. Albasters van regte glas. Vingerbord. Ons het die aand eers vingerbord gespeel. Tannies Mags en Willa het saam in ‘n span gespeel en ek het alleen gespeel en heen en weer gehardloop om aan weerskante te speel soos wat die beurte kom. Later het ons ‘n ou legkaart begin pak met baie blokkies, te lekker in die sitkamer by die tafel by kerslig. Stiptelik twaalf uur die nag het ons opgehou, ‘n mens pak nie legkaarte op Sondae nie! Tannie Mags het dit seker maar in die week klaar gepak en weggepak. 

My twee honde is na hierdie twee liewe tannies vernoem, Mags en Willa. Hulle was ‘n legende. 

Mabeth-hulle het eers op Mooisig, net buite die dorp gebly. Ek het nooit daar gekuier nie. Toe trek hulle in ‘n huis sommer naby die koshuis in. Ek het graag by hulle ingeloer en het een nag by hulle geslaap, sover ek kan onthou. Dit was seker toe ons saam die Voet van Afrika halfmarathon gehardloop het. 

Haar ma was baie betrokke by ons kinders en ek het haar goed geken. Tannie Miemie. Ek het haar pa eers leer ken in die tyd wat hulle op die dorp gewoon het. Hy het een dag vir my iets gesê wat my nou nog bybly. In ‘n tyd wat alles hergebruik was, stukkende goed heelgemaak is, plastieksakkies uitgespoel was om weer gebruik te word, het hy vir my gesê dat daar ‘n tyd gaan kom wat mense goed sommer net gaan weggooi. Alles gaan net een keer gebruik word, dan gaan dit weggegooi raak. Dit was vir my so ‘n vreemde konsep. Die oom het regtig visie gehad. Ek moet eerlik sê dat ek nie weet of ek so baie van hierdie weggooikultuur hou waar kwaliteit en egtheid geen faktor meer is nie.

Ronel se ma was die stiller een. Ek onthou haar waar sy besig is by die naaimasjien of die breimasjien. Haar pa was ‘n platjie en kon altyd my siel uittrek. Dit het my heeltemal tuis laat voel, want my eie pa was ook ‘n platjie. 

Ek het graag by Ronel-hulle gekuier, veral in vakansies. Daardie tyd was hulle huis die laaste huis voor die bos begin het. Eers later is daar nog strate uitgelê. Ons sou koekies of pannekoek bak om ons besig te hou of haar ma help met kosmaak. Ons het graag gestap tot by die rivier aan die onderkant van die dorp. Ons moes dan deur die bos stap, maar daardie jare was dit nog veilig. 

Deesdae is daar huise amper tot by die rivier en is dit nie meer so veilig vir meisiekinders om alleen in daardie stukkie bos wat oor is, te stap nie. 

Een keer het ons in die berg gestap tot heel bo. Ons moes piekniekkos saamneem, want dit was omtrent ‘n daguitstappie. Oor die jare het die dorp gegroei en waar berg was, staan nou huise. Hier is uitgekapte paadjies in die berg waar ek en my man tog te graag en gereeld stap. Dit neem ons deesdae net ‘n halfuur om tot daar bo by die kruin van die berg te kom, ek stop natuurlik ‘n paar keer om eers asem te skep, maar dis hoe dinge verander het. 

Ek het vir Anél ontmoet in standerd ses by ‘n CSV-kamp te Kleinmond. Ons het groot maats geword en ek sou by haar in die Kaap gaan kuier of sy het vir my kom kuier tydens vakansies. Dit was altyd ‘n groot organisasie om bymekaar uit te kom, maar kuier sou ons kuier. 

Vir ‘n regte plaasjapie om in die Kaap te gaan kuier, is ‘n ongelooflike ervaring. Ons het graag met die trein stad toe gery, haar ma het ons dan by die stasie gaan aflaai en weer kom haal as ons terug was. 

Een dag het ons die middestad gaan verken. Ons is na die Nico Malan teater, deesdae die Artscape, en het daar ‘n toer onderneem. Ons is die aantrekkamers gewys, die kamers waar die kostuums gestoor word en hoe die verhoog werk. Ek was in ekstase. Ons het daardie dag ook die Tuine besoek en dit was nie vir my ‘n goeie ervaring nie. Dit was oor middagete en daar was baie mense van alle tale en soorte wat daar middagete geneem het onder die bome, nes ons. Tog het ek grillerig gevoel. Ons was ook by die museum. 

Een keer wat ek daar gekuier het, het sy ‘n kêrel gehad. Ons wou toe ‘n fliek gaan kyk by die inry. Die kêrel en sy vriend het ons kom optel met ‘n ou Volkswagen kewertjie. Ek en vriend sit voor, sy en die kêrel agterin. My sitplek kon nie meer vasknip aan die bak van die kar nie en was los. Stop hy by ‘n rooi lig, dan sit ek met my neus teen die ruit. Die volgende oomblik as hy weer wegtrek, sit ek stoel en al op Anél se skoot. 

Van kewers gepraat. Haar pa het ook met ‘n kewer gery. Een keer was ons met ‘n skoolding in die Kaap, ek dink dit was vir die vlegselpeloton. Hoe ek dit reggekry het, kan ek nie meer onthou nie, maar hulle het my kom haal vir middagete. Toe hulle my wegbring, gebeur daar ‘n wonderlike ding: die kar se kilometers het op 99 999 gestaan en het oorgeslaan en weer by nul begin! Of dit na 100 000 myl of 200 000 myl oorgeslaan het, weet ek nie meer nie, maar daar was net plek vir vyf syfertjies, hy het elke keer weer voor begin!

Toortsie

5 thoughts on “Uitslaap – NaNoWriMo2019

    1. Ons koshuiskinders was soos familie. Een meisie het epilepsie gehad en dit het ons vroegtydig geleer om so iets te hanteer. Daar was ook baie welsynkinders van die Kaap. ‘n Mens leer om met alle mense reg te kom.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap na Anne Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s