Vier geslagte al

Una het hiermee begin, Christa het daarmee aangegaan en nou probeer ek ook. Wat is hier wat van my ouma af na my ma na my na my kinders oorgedra is? Is daar tien goed? Na my mening het Una die moeilikste taak gehad, hoe meer mense skryf, hoe makliker raak dit, want ek kry idees by die ander. Ek skryf ‘vier geslagte’, maar dit kan mos baie meer ook wees!

  1. Geloof. Ons geloof. Ek het net my oumas geken en Ouma Lenie was ‘n gelowige vrou. Ek glo ook Ouma Ellie was een, maar sy was al baie oud en ek nog klein. Ek weet my Oupa Gaaf het bidure gelei en glo ook Oupa Andries was ‘n gelowige man. Daardie geloof in God die Vader, die Seun, die Heilige Gees wat hulle gehad het, daardie liefde vir die kerk, vir Sy Woord, is beslis oorgedra van geslag tot geslag en ek sien dit ook in my kinders en begin dit al sien in my kleine kleinkinders en bid dat hulle ook die geloofstokkie sal aangee eendag. Dit skryf ek met dankbaarheid.
  2. Hekel en brei en naaldwerk doen. Ek kan onthou hoe my oumas by ons kom kuier het en sit en hekel het. Ouma Lenie het die pragtigste tafeldoeke met die fynste gare gehekel. Vandag nog lê haar gehekelde tafeldoek in my ma se kamer oor die tafel. Een nag kon ek nie slaap nie, my man was plaas toe en ek en my dogter was alleen by die huis. Daardie nag twaalf uur het ek haar leer hekel. Die tradisie gaan voort. Ons brei en ons doen naaldwerk, nes ons oumas van ouds.
  3. Ons is lief vir kosmaak. Ouma het defnitief meer outydse kos gemaak, my ma baie meer modern, ek iets heeltemal tussenin en my dogter het dinge weer vernuwe, maar ons maak kos. En ons eet graag. Kuier om ‘n etenstafel is vir ons lekker.
  4. Ons is familiemense. Ons familie is vir ons baie belangrik en sou daar ongemaklikhede wees, is dit vir ons almal sleg. Ons soek ons familie op. Ons kuier saam.
  5. Ons gaan Desembervakansies see toe. Ouma-hulle aan my pa se kant het Koppie Alleen toe gegaan, Ouma-hulle aan my ma se kant Kleinmond toe. Ons gaan Struisbaai toe. Maar ons gaan see toe. En ons kuier ons dae om by die see saam met vriende.
  6. Ek weet nie of my ouma-hulle al die toergeen gehad het nie, maar die toergogga is beslis tussen ons al van my ma-hulle se dae. Ek vermoed toer was nie so ‘n groot ding in die geslag voor hulle nie. Die toergeen loop egter dik in ons bloed en in ons kinders s’n.
  7. Ons bid by die etenstafel. My voorgeslagte het voor én na ete gebid, ons doen dit net aan die begin. Anders as my voorouers, vat ons hande as ons bid.
  8. Bidure/bybelstudie. In my ouma-hulle en ma-hulle se dae is daar wyksbidure gehou. Ons het ook nog wyksbidure gehad in die verlede. Ons het ‘n bybelstudiegroep. Ons kinders ook. Prys die Here!
  9. Familiename. Ons gee ons kinders familiename op die tradisionele manier. Eerste seun word na die oupa aan vaderskant genoem, tweede seun na die oupa aan moederskant, eerste dogter na die ouma aan moederskant, tweede dogter na die ouma aan vaderskant. As dogter het ek oorweeg om nie my dogters te vernoem nie en my ouma het vir my oortuig dat die kind dan weet waar sy vandaan kom as sy die familienaam dra. Vandag voel ek, jy moet tog iets of iemand vernoem, hoekom nie maar jou ma of pa vereer deur hulle te vernoem nie? My kleinkinders is nog tradisioneel vernoem.
  10. Kersfees. (Hierdie het ek by Christa gesien.) Ja, ons vier Kersfees. Met kos en presente en saamwees. Ons gaan die oggend saam kerk toe en daarná kuier ons en vier ons fees. Dis vir ons sleg as ons die jaar nie bymekaar is nie.
  11. Vleis. Ons is lief vir vleis. Ek noem ons die Vleisvreters van Egipte. Gisteraand het ons gebraai en het ek gesien dat hierdie liefde ook al oorgedra is tot by die kleinkinders.
  12. Afrikaans. (Ook by Christa geleen.) Ons is lief vir Afrikaans. Ons praat Afrikaans in ons huise.
  13. Trou. Ons glo nog in die huwelik. Soos ons voorgeslagte, ook ons kinders. Baie dankbaar daarvoor.

Toortsie

13 thoughts on “Vier geslagte al

Gesels saam, asseblief!