Liefhê ten spyte van

Dis nie die eerste keer wat ek oor hierdie boek skryf nie, ek hét al. Ek is steeds besig met die boek, want met my NaNoWriMo-skrywery het ek nie eintlik by lees uitgekom nie. Ek kry nou weer kans om dit te lees, maar weer eens, hoe verder ek lees, hoe meer voel ek dat dit ‘n boek is wat elke persoon moet aanskaf.

Gewoonlik, wanneer ek klaar is met een van die CUM-promosieboeke, skryf ek voorin dat dit ‘n promosieboek van Cum is, dat dit persoon dit moet lees en geniet, op Facebook of sy blog of Instagram daarvan moet vertel, vir sy vriende moet vertel, en wanneer hy klaar is, dit aangee vir ‘n volgende persoon om te geniet. Hierdie boek kry egter nie daardie inskrywing voorin nie. Voorin hierdie boek staan my naam en in potlood as iemand anders in ons dorp dit sou wou lees, want hierdie is ‘n boek wat ek wil hou. En weer lees. En nog ‘n keer.

Ons almal kry soms seer, word soms geaffronteer deur ander mense. Deur vreemde mense. Deur kennisse. Deur ons eie huweliksmaats. Deur ons kinders. Dit is so maklik om so ‘n persoon net eenvoudig ‘uit te sny’ uit ons lewens. Soveel keer is dit dit die boodskap wat ons ook op Facebook kry, om iemand uit jou lewe te sny wat jou seermaak of aftrek. Dit is die natuurlikste ding om te doen.

Hierdie boek leer ons om lief te hê, veral vir hulle wat naby aan ons is. Om daardie mure wat ons om onsself bou in ons eie gesinne af te breek. Dit gaan oor die bou van hegter gesinne, stewiger huwelike. Hy vertel van die ‘spelonk van getroudes’ waar die aartsvaders begrawe is, en verwys dan daarna as mense getroud gebly het tot die dood.

Ek haal graag ‘n paar goed uit die boek aan:

‘Die vyand het dalk jou huwelik aangeval, maar dit is nie die volmaakte huwelike wat die spelonk van getroudes haal nie.’ Dat dit juis huwelike is wat soms deur moeilike tye gegaan het, maar oorleef het.

Vir mans skryf hy: ‘Speel jou rol as man. Wees die wag. Staan vas in die geloof. Doen alles wat jy doen in liefde.’

Vir die vroue skryf hy: ‘Jy is die deur na die geestelike lewe in jou huwelik. Let op wat jy sê. Bou jou man op.’

Woorde om gereeld in ‘n huwelik te gebruik: ‘Ek was verkeerd. Ek is jammer. Vergewe my. Ek het nie gedink wat ek doen nie.’

Kry vir jou die boek, jy sal nie spyt wees nie, selfs al is jy nie getroud nie, want dit wat jy in hierdie boek leer, is van toepassing op alle verhoudings.

Toortsie

Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

12 thoughts on “Liefhê ten spyte van

  1. Ons het toorwoorde. “Ek is jammer, is jy bereid om my te vergewe?” Dis ontleen aan die Maksimum Man-seminare van wyle Louis Malherbe, waarmee ek myself “gebreinspoel” het met goeie resultate.

    Liked by 1 person

      1. Ek het gesit in die woonwa waar hy soggens gaan bid het saam met vriende, was in sy kantoor, het vir Annatjie ontmoet, ens. Terwyl hy geleef het, het ons gekorrespondeer.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!