Eps Joubert was my wiskunde-onderwyser. Hy was ‘n legende. Hy het ongelooflik baie vir ons dorp beteken. En vir ons kinders.
Eps was kwaai. Hy het nie nonsens geduld in die wiskunde-klas nie en het sommer vroeg al die kinders wat nie wiskunde op hoërgraad met gemak kon deurkom nie, geskiedenis toe gepos.
Eps was ook snaaks. Ons was mal oor hom. Hy het ‘n sin vir humor gehad en het ons kinders op die snaakste moontlike maniere vermaak. Nou, op my oudag, besef ek dat dit maniere was om logiese denke by ons kinders te bevorder.
Hy was mal oor ‘n weddenskap. Een dag sê hy vir ons dat hy nou uit die klas uit gaan stap en as hy weer in die klas ingestap kom, sal die bos sleutels wat nou op die bank lê, op die tafel sal lê. Ons mag net nie aan die sleutel raak nie. Natuurlik sê ons dat dit onmoontlik is. Hy hou egter aan dat dit moontlik is, hy wed ons. Tien rand. Wie wed vir tien rand dat dit onmoontlik is? As dit so gebeur, moet die kind vir hom die tien rand gee, anders gee hy vir die kind tien rand. Wie gewed het, kan ek nie onthou nie.
Meneer stap uit die klas uit, die volgende oomblik kom hy op sy hande die klaskamer in.
Die geld uit sy geldsak rol die wêreld vol. Ons breek ons soos ons lag, die hele skool weergalm. Hoe hy die bos sleutels geskuif het, kan ek nie meer onthou nie. Sou hy so sterk wees dat hy op sy een hand kon staan terwyl hy dit skuif? Ek weet nie meer nie. Uit die klas uit, steeds op sy hande met die bene wat die wêreldvol swaai.
Die volgende oomblik kom hy weer die klas ingestap, sy hare staan penorent van die op-die-hande-lopery. Hy het die weddenskap gewen.
Sy klere was altyd spierwit van die bordkryt soos hy sy hande daaraan afgevee het. Hy het gesê hy moet dit so doen, dan weet sy vrou hy het hard gewerk die dag.
Deesdae leer die kinders al op ‘n vroeër stadium om met negatiewe getalle te werk. Ons het dit in standerd ses geleer. Hy het ons vir weke lank besig gehou met drake. Mindrake en plusdrake wat iewers in ‘n vallei gebly het. Daar was ‘n rivier wat die mindrake van die plusdrake geskei het. Elke dag het die drake teen mekaar geveg, mindrake teen plusdrake. Afhangende van wie die dag die meeste was, het bepaal wie die dag wen. Was daar meer mindrake as plusdrake, het die mindrake gewen, en andersom.
Of die drake nog betrokke was toe ons maal en deel met negatiewe getalle gedoen het, kan ek nie meer onthou nie. Wat ek wel weet, is, dat ek afgelos het in die wiskunde-onderwyser se plek toe ons tweeling in standerd vyf was. Daar kry hulle toe met negatiewe getalle te doen en ek leer hulle van die drake en hoe dit werk. Ek sou graag wou hê dat hulle hulle koppe gebruik, eerder as hulle optelmasjientjies, want om minus vyf plus drie met ‘n optelmasjientjie uit te werk is geen kuns nie. Verstaan die kinders dit regtig?
Toe hulle ‘n klastoetsie hieroor skryf, waarsku ek hulle dat daar geen optelmasjientjies toegelaat sal word in die klas nie. Van die mammas het nie daarvan gehou nie, maar wel.
Iewers vanjaar praat ek en my seun oor een of ander wiskundige iets, niks ingewikkelds nie. Hy sê, “ma, dit werk so, daar is plusdrake en mindrake.” Ek het diep in my siel geglimlag. Bravo, meneer Eps, wat dit vir my geleer het en bravo, my ingenieurkind, wat somme agterstevoor kan doen in sy slaap, wat die waarde van drake besef het.
Dit was vir ons altyd ‘n groot storie as ons ons eksamenvraestelle teruggekry het. Ai, op my rapport het hy net ‘insinking’ geskryf. Hy het egter sy rooipen baie kwistig gebruik as hy vraestelle merk. Hy het sy hart daar uitgeskryf, presies wat hy dink.
Ronel, my beste vriendin, was baie goed in wiskunde. Sy het baie fyn en beheers geskryf. Dun lettertjies, styf teen mekaar. Haar wiskunde-antwoordstel was net so ‘n dun lyntjie teen die kantlyn, net ‘n stukkie van die blad geskryf.
Eps het gevoel dat sy die goed ‘n bietjie meer moet spasieer, ‘n groter deel van die blad gebruik. Die een eksamen skryf hy vir haar dat sy ‘n bietjie oper moet skryf, dit lees seker nie so maklik nie. Toe daar by die volgende eksamen geen verandering in die skrif is nie, skryf hy vir haar dat sy vir haar ‘n kêrel moet kry om te druk sodat sy kan ophou om die wiskunde so te druk. Die volgende eksamenvraestel se opmerking was: “Ek het jou gesê jy moet vir jou ‘n kêrel kry om te druk, hoekom luister jy nie?”
Eps was lief vir hardloop. Marathons hardloop. Hy het gereeld aan marathons gaan deelneem in die Kaap en oral. Hy het die landloop begin in ons skool en ons sover gekry om te gaan saamdraf in die middae. Middae vyfuur het ons mekaar in die straat langs die laerskool gekry. Dan het hy die roete verduidelik wat ons sou hardloop. Die wat drie kilometer wil draf, moet hierdie roete volg, die wat vyf kilometer wil draf, daardie, ens. Gewoonlik het ek al die pad byster geraak by die eerste hek en nie klaar geluister nie. Ek het keer op keer sommer goed verdwaal. Voor in sy bakkie het ‘n groot wekker gelê en ‘n boek en as ons terugkom, het ons net ons tyd op die wekker gekyk en dit in die boek geskryf. Maklik.
In daardie jare is die Voet van Afrika Marathon gebore en hy was die vader daarvan. In die wiskundeklas het ons saam met hom gedroom daaroor. Hy het die kinders genooi om stukke daarvan te gaan draf solank die roete beplan was. In my standerd agt jaar was die heel eerste Voet gehardloop. Die mans kon die volmarathon doen, die dames die halfmarathon. Mabeth, my ander beste maat, het daardie jaar die halfmarathon gedoen, ek het in standerd nege my eerste een gedoen. In my lewe het ek dit tien keer gedoen.
Eps was ook baie lief vir die natuur en het die kinders in skoolvakansies op staproetes geneem. Ek is een keer saam op so ‘n staptog na die Hel, oftewel, die Gamkaskloof. Ek, Ronel en Mabeth, ons drie beste maats was in standerd sewe toe ons saam was. Ons was beslis die jongstes en ook onskuldigstes in die groep. Die drie dogtertjies.
Daar is iewers vir ons rugsakke gehuur en vir ‘n hele week is ons daar weg om te gaan stap in die middel van die winter. My rugsak was die heel ligste van almal, ek het heeltemal verkeerde klere ingepak. Net twee sweetpakke, glad nie kortmouklere nie, dit is mos koud! Ons hét snags koud gekry, sjoe.
Ons drietjies het saam in ‘n tweemantent geslaap. Die een wat in die middel geslaap het, het lekker warm gekry, die twee weerskante het gebibber van die koue. Want ons asem het gekondenseer teen die tent se wande en die water het die twee aan die kante sopnat en ysig koud gemaak.
Bedags was dit vuurwarm en wou ek sterf van die hitte, maar dit nou daar gelaat. Ek het gestap met ‘n paar ou velskoene wat ek gehad het, daar was ‘n gat op die een toon. Al wat ek kan sê is dat daardie skoene gehou het en tog te lekker gestap het.
Ons het die eerste aand by Seweweekspoort geslaap en is die volgende oggend afgelaai aan die bo-punt van die Duiwel se Trapleer. Dit is ‘n baie styl paadjie waarby die bewoners van die Hel met donkies in- en uitbeweeg het. Ons het daar afgeskuur op ons boude. Wat ‘n belewenis! Daar was nog twee huise waar daar mense gewoon het. Ons het langs die rivier tent opgeslaan. Die ‘ablusie’ was aan die ander kant van die rivier waar die seuns vir ons ‘n sloot gegrawe het waar ons ons ding kon doen.
Die een dag het ons rivierlangs gestap tot by die Gamkaskloofdam. Ons was aan die wal se kant, die dam was aan die ander kant. Dáár het ons teen die rivierwal uitgeklim tot bo-op die damwal. Dit was angswekkend. Skuins. Ons moes aan bossies vashou om nie te val nie. Die seuns het van agter af gekom en my help sleep. Dalk moes hulle van die ander dogters ook help, ek weet nie.
Bo gekom, het ek net geweet dat ek nie weer daar sal af nie. Hoe ek weer terug sou kom by die kamp, weet ek nie. Daar was ‘n hek en trappies binne-in die geboude wal en ons kon toe daardeur loop en weer onder uit. Dank die Vader daarvoor!
Met die terugstap het ons nie in die gebruiklike ry gestap nie en die sterk kinders is vooruit. Ek en Mabeth het agter geraak en André Hutchinson, ‘n klasmaat van ons, het saam met ons gestap tot by die kamp. Ek het nie vir André baie goed geken nie, al was ons saam in die klas. Hy was ‘n stil seun en ek dink hy het by sy ouma loseer. Daardie dag het ek ‘n dierbare kant van hom leer ken.
André is verlede week, in die ouderdom van 57, oorlede nadat hulle albei sy bene afgesit het as gevolg van diabetes en hy toe ‘n hartaanval gekry het. Dis ons derde klasmaat wat oorlede is. Juan du Preez het kanker gehad, ek loop nog gereeld sy stiefma raak by die ouetehuis. Die derde een is Henry Lourens, ek kan hom nie so goed onthou nie. Die Here begin ook in ons woud bome uitkap.
Die laaste dag in die Hel het ons rivierlangs teruggestap tot in Calitzdorp. Ek moet net baie duidelik stel dat dit nie die hele tyd tog te lekker onder langs die rivier was nie. Daar is nie noodwendig altyd ‘n pad nie. Soms moes ons klouter tot bo op ‘n rots, dan weer af. Ons moes mekaar soms letterlik optrek aan die hand. Daardie dag het ek en Ronel vir mekaar kinderstories vertel, alles wat ons kon onthou, amper net soos wat ek nou my herinneringe wat ek nou hier neerskryf. Ons het net al die fabels en ander verhale vertel. Om een of ander rede was my een been daardie dag effens lam en wou my terughou, maar deur die vertel van stories was my aandag op ‘n ander plek en kon ek dit tog met gemak klaarstap.
Ons het ons besig gehou met Ten Green Bottles. Ons het heeltyd gesing van die tien groen bottels wat aan die muur hang, en as een sou val, dan is daar nege oor, totdat daar op die ou end niks oorbly nie.
Iets wat ek op daardie staproete geleer het, was dat die swakker stappers voor moet loop, die sterkeres agter. Die swakker stappers gee die pas aan en wanneer daar gerus word, kry hulle langer kans om te rus. Baie keer as die agterste klomp bykom, begin die voorstes al weer loop. Ons jonges het voorlangs gestap.
Die staptoer was ‘n belewenis wat ek lewenslank sal onthou. Jare later het ons gesin weer een dag gery tot in die Hel. Toe ons onder in die Hel is, was daar net een groot donderslag. Op pad terug lê daar ‘n boom oor die pad. Ons, en die motorfietsryers wat aan die ander kant van die boom gewag het, het die boom uit die pad gesleep.
Toe ons in daardie verskriklike haarnaalddraai in die pas kom, was die pad verspoel. Daar was ‘n hoop grond waar ons moes ry. Net deur die genade van die Here is ons daar oor, my man het die kar in 4×4 gesit en alles aangesit wat hy kon. Genadiglik is hy ‘n ervare boer en kan hy sulke krisisse hanteer. Hy moes ‘n paar keer probeer en dit was glad. Ons het daaroor gekom, terwyl die afgrond net regs van ons was. My seun het vir sy vriend laat weet dat ons vandag amper hemel toe is in die Hel. Maar God het ons beskerm. Soos soveel ander kere ook.
Mnr Eps Joubert, ek eer u. Ek eer die herinneringe wat ons het, Ek eer u vir u pragtige nalatenskap, die natuurtuin in Bredasdorp wat u begin het, die Voet van Afrika Marathon wat steeds jaarliks gehardloop word en van krag tot krag gaan, die liefde vir wiskunde wat u in ons harte geplant het. Ek eer u vir die ekstra tyd wat u bereid was om op te offer vir ons skoolkinders, dit het ewigheidswaarde en het ons verryk, baie meer as wat ons ooit sou kon dink.
Toortsie
WHAT a tribute to a wonderful man!
LikeLiked by 1 person
Hy het dit verdien.
LikeLike
pragtige skrywe oor ‘n besondere onderwyser. Ek het ook so-een gehad. Op sy 90ste verjaardag het ek vir hom ‘n brief geskryf. Ek dini ek gaan dit op my blog sit!
LikeLiked by 1 person
Jy kan gerus. Die ander onnie was mnr du Plessis. Dalk moet ek vir hom so ‘n brief skryf.
LikeLike
EK dink nou daaraan, as daar een is vir wie ek regtig ‘n ode sal wil skryf, is dit vir mnr du Plessis, maar omdat hy nog leef, maak dit dit ongemaklik. Dis vir my moeilik om te vertel uit sy klas, hy was heeltemal ‘n ander persoonlikheid. SAg en stil, ‘n ware heer.
LikeLiked by 1 person
my kindees was ook mal oor hom. ek dink: sjryf terwyl hy leef. hy sal dir waardeer
LikeLiked by 1 person
Ek het iets geskryf, dit net nie na hom vernoem nie. Danksy jou.
LikeLike
Kobus het haar in sy toespraak op ons troue bedank vir haar groot invloed op my lewe.
LikeLike
Dis ‘n mooi getuigskrif Toorts. ‘n Goeie onderwyser is ‘n juweel en oefen soveel positiewe krag uit in ‘n kind se lewe.
LikeLiked by 1 person
Dis koninkrykswerk. My dogter en haar man het vanjaar haar drumline op ‘n toer generm. Die seuntjies is maar uitputtend sulke tye. Ek het net vir haar gesê dat dit ewigheidswaarde het, daardie kinders sal dit die res van hulle lewens onthou.
LikeLiked by 1 person
So ‘n onderwyser maak definitief ‘n lewenslange indruk en bly in jou hart. Soos my mnr Bekker.
LikeLike
Daar was ook ‘n mnr du Plessis, wat nog lewe, en ‘n tannie Elza.
LikeLiked by 1 person
leww rtannie Elsa nog? sy sal dit ook waardeer
LikeLike
Tannie Elza is al ‘n hele paar jaar oorlede. Ek en Martjie het een keer vir haar gaan kuier op pad na ‘n eisteddfod. Sy het breinkanker gehad rn was alreeds baie verswak. Sy het my natuurlik nie herken nie en ek verstaan dit. Toe ons die woord eisteddfod sê, het haar gesiggie opgehelder. Sy het dit sowaar herken. Sy is kort daarná dood rn die oom kort na haar.
LikeLike