Oordosis suiker

Dis mos geen geheim op hierdie blog dat ek al vir meer as vyf jaar die Bantingleefstyl vol nie en gevolglik geen suiker en stysel inneem nie.

Ek het wel egter die beleid dat as ek by mense kuier, ek eet wat vir my voorgesit word. Is daar genoeg kos om uit te kies, sal ek gewoonlik die stysel en suiker los, maar is stysel en suiker die enigste kos wat aangebied word, maak ek geen bobaai daarvan nie en eet dit.

My liggaan het regtig nou al ná al hierdie jare, gewoond geraak aan hierdie leefstyl. Ek het egter wel ‘n suikerverslawing en sal maar altyd versigtig moet wees om nie weer in die verslawing te verval nie.

‘n Rukkie terug was ek by ‘n lieflike funksie waar die mooiste en wonderlikste kosse voorgesit is. Ek het sommer net daar besluit om die kos wat vir my voorgesit word, te eet. Elke dis het suiker of stysel of albei bevat. Baie suiker.

Ons het die aand geweldig baie geniet en die gasheer en -vrou het uit hul pad gegaan om alles so lekker en mooi as moontlik te maak. Alles was vingerleklekker.

So driekwart deur die aand het my liggaan vir water begin vra. Dis nie te vreemd nie, ek drink baie water. Die nadraai van die suiker oordosis was egter ‘n ander verhaal. Ek het nie besef suiker kan jou ‘n ‘hang over’ gee nie!

By die huis aangekom, was my voete geswel, maar die volgende dag was die gevolge duidelik sigbaar. Ek was naar en het kwaai hoofpyn gehad. Dit het gevoel of ek sweef en of ek net nie heeltemal in beheer is van my liggaam nie. Ek wou nie eet nie, maar het liters water verorber net om my liggaam skoon te spoel. Ek het regtig sleg gevoel. Nadat ek middagete geëet het, het ek begin beter voel.

Vreemd genoeg het ek glad nie daarna gesmag na iets soets soos dit gewoonlik werk nie. Dalk het my liggaam gevoel genoeg is genoeg. Ek wonder, as ek my bloedsuiker sou neem, wat die uitslag sou wees? Dit was regtig ‘n geweldige skok vir my liggaam en ek sal in die toekoms baie mooi dink voor ek weer so iets doen.

Ek wil dit regtig nie aanbeveel nie.

Toortsie

12 thoughts on “Oordosis suiker

  1. As ek gewone suiker inkry of iets wat te soet is, kry ek ook kopseer en kwaai maagkrampe. So ek bly maar weg van dit, nie die moeite werd nie. Ek vind gewoonlik vooraf uit wat is daar om te eet en as daar niks is nie, eet ek by die huis of as dit ‘n ete is, vat ek ‘n gereg of 2 saam wat ek ook kan eet. Werk nou al 4 jaar vir my.

    Like

    1. Tog kry ek steeds lus vir ‘n soetigheid. Ek het netnou basaarpoeding gemaak vir die vlv volgens ‘n ou resep wat ek altyd gemaak het. Dis verskriklik soet! Het dadelik dit aangepas en vir my ook een gemaak. Myne is egger nie sosponsig nie.

      Liked by 1 person

  2. Ek is dieselfde. As ek by ander mense kuier, vra ek nooit vir iets anders nie. Ek eet ook wat my soort kos is as ek kan en gewoonlik is dit maklik. Maar soos jy; as ek te veel stysel en suiker eet dan voel ek ongesond. Maagpyn is die grootse probleem!
    Ek kan ‘n klein croissant nou en dan eet, maar nooit brood nie. Ek dink ek kan roomys eet – maar ek kannie! As ek ingee, dan betaal ek later!

    Liked by 1 person

  3. Ek het ook onlangs so sleg oorgekom met stysel. Ek het waterretensie gehad (nog nooit tevore gehad nie. Nie eers toe ek swanger was nie). As mens so gesond eet en dan van die wa afval, kom jy eers agter hoe sleg dit vir jou liggaam is.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!