Peste en plae NaNoWriMo2019

Peste en plae kry jy oral en dit bekruip jou sonder dat jy dit besef. My bynaam by Bedford se skool was Kokkerot omdat daar voorheen kokkerotte was in die gebou waar ek gewoon het. Ek het rekeningkunde gegee en die kinders het dit altyd vreeslik geniet as ek goed op die bord verduidelik het en Kokkerot een van die karakters was. 

Ons het een keer ‘n rooimierplaag in ons huis gehad. Bokant André se bed. Die muur was sommer bloedrooi. Of was dit rysmiere? Seker rysmiere, hulle maak mos nes in die muur. En dan, op ‘n stadium, broei hulle vreeslik en sit hulle so in ‘n vreeslike bondel aan die buitekant. Ons het dit soms op Uitkyk ook gehad in die ou mure van die huis.

My pa het gif gespuit, dan is hulle vir die oomblik weg, net om weer nuut te verskyn. Dit het vir dae aangehou. Toe gee iemand die raad dat ons gewone Johnson’s Babapoeier moet strooi. Ons het dit gedoen en net daar is hulle weg. Daarná het ek die Johnson’s Babapoeierraad baie keer gebruik. Die miere hou nie van die tekstuur van die poeier nie en trek dan op. Die voordeel daarvan is dat dit nie giftig is nie en nie mens of mier word daardeur vergiftig nie. 

Alhoewel spinnekoppe nie regtig ‘n pes of ‘n plaag is nie, is dit vir my ‘n massiewe pes. Ek ken hulle as bobbejaanspinnekoppe, maar blykbaar is dit reënspinnekoppe, volgens die slim mense. Ek vrees bobbejaanspinnekoppe met my hele lewe. 

Bosfontein se huis was lief vir bobbejaanspinnekoppe, of reënspinnekoppe as jy wil. My ma het tuin gemaak en daar was Ivy teen die mure wat ideaal was vir spinnekope om in te woon. Dan klim hulle tog te graag deur die kleinste gaatjie en kom maak my bang in die huis. 

Ons TV-kamer was teen so ‘n Ivy-muur. Dit het ‘n buitemuur gehad en daar het tog te graag ‘n bobbejaanspinnekop in die sifdeur gesit. Ek was later te bang om daar uit te gaan. 

Gaaf het aan die oorkant van die stoep in daardie stoepkamer geslaap. Toe hy die dag trou, het ek in sy kamer ingetrek. Dis ook iets waaroor ek sleg voel, want eintlik moes André toe die beurt gekry het om daar te bly. Daardie kamer het sy eie badkamer gehad. Dit was in elk geval nooit ‘n baie goeie besluit om daarheen te trek nie, want daardie kamer was net so lief vir spinnekoppe, dit was ook aan die tuin se kant. Die gordyne was so ‘n donker bont, ‘n mens het nie sommer die spinnekop gesien nie. 

My pa het gelukkig nooit omgegee om my te kom red van die spinnekoppe nie. Hy het selfs in die week as ek in die koshuis was, daar ‘n draai gaan maak en gekyk of daar nie dalk net ‘n spinnekop ingekruip het nie. Sou ons mense hê en ek gewaar ‘n spinnekop, kon ek maar net saggies gaan sê, “Pa”, dan sou hy hom onmiddellik verskoon uit die geselskap en my eers uit die verknorsing red. 

‘n Spinnekop het een keer ons huwelik gered, dit bly ‘n ou-ou grappie tussen my en Kobus. Ons was nog nie lank getroud nie en het die aand ‘n hewige woordewisseling in ons bed. Ek vlieg op en sê dat ek nie langs hom gaan slaap nie, bedoelende dat ek in die spaarkamer gaan slaap. Daar sit egter toe ‘n bobbejaanspinnekop bokant die deur waar ek moet uit. Net daar spring ek terug in die bed! Huwelik gered! En nou is ons al 34 jaar getroud. Kobus red my steeds keer op keer as die spinnekoppe my bedreig. 

Toe ‘n sakspinnekop my so ‘n paar jaar gelede byt, het ek nie gedink dis snaaks nie, veral nie toe ek net al hoe sieker en sieker raak en ek opswel en pyn verduur nie. Ook nie toe ek vir ‘n week lank elke dag in pyn dorp toe moes ry en antibiotika binne-aards moes ontvang nie. Dit, nadat die abses verwyder was nie. 

Sedertdien wil ek geen spinnekop naby my hê nie. Nee dankie! Hy bly in sy huis en ek in myne, ons kuier nie by mekaar nie. 

Toortsie

17 thoughts on “Peste en plae NaNoWriMo2019

  1. Ek stem… spinnekoppe hoort nie in die huis nie… hulle is stapelvoedsel vir ander gediertes. Hoekom hoor mens nooit spinnekoppe is ‘n bedreigte spesie nie??? Ek sien jou terugspring in daardie bed 😂😂😂

    Liked by 1 person

  2. Reënspinnekoppe en bobbejaanspinnekoppe is twee verskillende soorte.Altwee is redelik skrikwekkend en mens wil hulle nie in die huis hê nie.Ek wil ook nie sak- of vioolspinnekoppe hê nie…die res kan maar bly🤣🤣Oulik geskryf ,Toortsie!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!