Reën NaNoWriMo2019

Bredasdorp is deel van die Overberg. Heel suid in Suid-Afrika. Ons is veronderstel om Mediterreense see klimaat te hê. Winterreën. Só het ons op skool geleer. Dit is egter nie altyd hoe dit hier werk nie. Soos vanjaar het ons baie min winterreën gehad en nou, in die lente kry ons goeie reën. 

Ons is altyd dankbaar vir reën. Ons gronde is nie diep nie en raak gou droog. Oudminister Hendrik Schoeman het blykbaar gesê dat die Kapenaars nie eintlik bogrond het nie. Ook nie ondergrond nie. Wel darem agtergrond.

Natuurlik reken ons baie op winterreën ter wille van ons gesaaides, wat wintergroeiers is. Somerreën gee weer vir ons weidings deur die somer, waaroor ons baie bly is, want ons somers kan baie droog en lank raak.

Donderweer is nie iets wat gereeld hier by ons voorkom nie, maar dit kan soms erg wees wanneer dit die slag kom. Erg vir ons, dalk nie so erg vir die Transvalers nie. 

My ma was baie bang vir donderweer. Sy het die vrees ook vir my oorgedra. Oor jare is nie een van ons meer regtig so bang daarvoor nie, maar ek sal steeds nie buite in die weer loop nie, ek voel dit is baie onverantwoordelik. Ek wonder altyd of dit dan nodig is dat die reën met so ‘n lawaai moet kom? Tog, as dit so droog is en die donderweer kom in die somer, gee ek regtig nie om nie. Ek is maar net baie versigtig daarvoor. 

Wanneer die weer opgesteek het, het my pa gesorg dat hy by die huis kom om nie my ma alleen daar te los nie. My kamer het nog die ou, regop skuiframe gehad met stewige, soliede houthortjies. Daar was ook dik gordyne voor die vensters. Wanneer die weer swaar was, sou my ma dan in my bed kom lê met die hortjies styf toegegrendel en die gordyne ook toegetrek. Ek het weer geleer om my ore toe te druk totdat dit later seer was, oë toe. 

As die ergste reën oor was, sou ons almal in die bakkie klim en gaan kyk waar dit oral gereën het. Soms het daar nog ‘n blits of donderslag gekom, maar my pa het my gekalmeer dat jy veilig is in ‘n motor en dat die weer jou nie sou raakslaan nie. 

Ons sou ook almal mekaar bel om te hoor hoeveel reën almal gehad het. Toe ons nog plaaslyne gehad het, het almal sommer ingeluister as die ander mekaar bel, dan het jy sommer al die nuus eerstehands gehoor. 

Ons reënmeter het iewers in ‘n kampie op die werf gestaan. Dit was ‘n geleentheid as my pa die reën gaan haal het en ons het almal bygestaan as hy dit in die huis inbring in ‘n beker. In sy kantoor was die glasie waarin hy dit dan gegooi het, die lyntjies getel het en aangekondig het hoeveel reën geval het. 

My eerste onderwyspos was in Bedford in die Oos-Kaap. My pa, oom Christo Franke en Chris, my neef is saam toe ek soontoe getrek het. Ek en Chris het in my karretjie gery en my pa en oom Christo met die meubeltjies op die bakkie. Iewers langs die pad is ons deur ‘n donderstorm. Ons kon amper nie sien voor ons nie, so hard het dit gereën. 

Bedford was lief vir sy donderweer. Van die onderwysers het gou agtergekom dat ek bang is vir die weer en het my dan nog banger gepraat met hulle stories. Daardie wêreld is ook lief vir hael, maar dit het ek gelukkig nooit beleef nie, my kar het buite gestaan en ek sou dit nie waardeer het as dit met haelkorrels stukkend geslaan was nie. 

Martjie moes in Pretoria gaan deelneem aan ‘n musiekkompetisie by Unisa. Daardie hele uitstappie was ‘n storie op sy eie, ek en sy alleen in ‘n karretjie en ons het erg verdwaal. Maar die groot grap was die eerste aand wat sy vir ‘n oefening was saam met haar begeleier. Toe ons daar uitkom, is dit ‘n donderstorm. Ek staan asof versteend, almal reën nat, maar ek beweeg nie ‘n spier nie. Al wat ek gehad het om agter te skuil, was ‘n flipfile! Asof dit nou enigsins sou help! Dit het darem gemaak dat ek minder sien van die blitse, maar beskerming bied? Aikona. 

Daar is min dinge wat ‘n Overberger soveel energie gee as reën. As dit begin reën het in Stellenbosch, regte Kaapse winterreën, het die meeste studente teruggetrek in hulle kamers in. Ek het egter my reënjas en waterskoene aangetrek en met sambreel in die hand die strate ingevaar. As ek na ‘n reënbui op Facebook kyk, ervaar ek dieselfde. Mense wys foto’s van water, video’s van hoe hulle deur modderplasse ry dat dit so spat. Dis die Overbergse mense daai, ons is lief vir reën, ons geniet reën, ons is mal daaroor. Want ons weet hoe verskriklik afhanklik ons van reën is. 

Op Facebook sal ek nie sommer iemand ontvriend nie. Daar is egter ‘n paar gevalle wat ek dit doen, soos iemand met wie ek regtig nooit te doen kry nie, nie in die regte lewe nie, en ook nie op Facebook nie, iemand wat nooit iets opsit of reageer nie, wat ek vermoed nie eintlik op Facebook is nie, sal ek ontvriend. Iemand wat aanmekaar met my wil baklei op Facebook, is ook nie my maatjies nie, want ek wil speel op Facebook, nie baklei nie. Iemand wat my God verkleineer se tydjie is kort as my maat, en iemand wat aanhoudend kla oor reën. Ons is net té afhanklik van reën, as boere hang ons hele lewe daarvan af. Ek kry net te seer as iemand daaroor sou kla. 

‘n Spesifieke reënepisode sal ek nooit vergeet nie. Een Sondag kom Lourens en Gertjie by ons aangery op Uitkyk. Dit was al laat in die dag. Gertjie het sy weermagjas aan en ook ‘n veiligheidsbaadjie, een waarmee jy kan dryf. Hy sê dat hy goed toegerus kom kuier, want hulle voorspel groot reën en hy weet nie of hy dalk deur ‘n rivier sal moet swem om weer terug te kom by die huis nie. Daardie aand raak die wêreld aan die reën. Bredasdorp oorstroom. Gertjie het beslis geweet waarvan hy praat! 

Een keer het ek en Kobus, André, Martjie en Dewet gevlieg Johannesburg toe. Ek het al ‘n paar donderstorms in ‘n vliegtuig beleef en daar is maar turbulensie, maar daardie dag was dit regtig die vier by vier roete. Op ‘n stadium het die vliegtuig rof geval, soveel so dat van die mense se koffie bo teen die plafon gespat het. In daardie tyd hét daar ‘n ander vliegtuig geval in die kwaai storm, ek kan maar net dankbaar wees dat ons veilig daar deur is. My broer het net so oor die bank vir my geloer. Jammer, maar donderweer is nie regtig my maat nie, maar ek verduur dit en byt vas omdat dit die welkome reën bring.

10 thoughts on “Reën NaNoWriMo2019

  1. Reén, reën, lieflike reën, val in die laning val om ons heen.
    Ek het al gehoor dat die Kapenaars nie lief vir donderweer is nie. Dit bly maar angswekkend as dit so blits en donder al is mens n Transvaler. Donderweer hier is heel anders as waaraan ek gewoond is. Net so n geblits en gerommel een of tweekeer endit was nou n donderweer gewees wat almal laat skrik het. Bly dit reën al was die winter nie te nat nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s