Elke mens het iets anders wat vir hom ‘n uitdaging is. Wat vir die een persoon soos soetkoek is, is vir die ander persoon iets verskrikliks.
Soos NaNoWrimo. Vir die een persoon is dit om jaarliks die tyd te maak en die boek te skryf waarvoor hy die heeljaar nie tyd het nie. Dis dalk al sy tiende NaNoWriMo. Dalk is hy ‘n topverkoperskrywer en het hy ‘n doel met NaNoWriMo wat ek nie eers in my wildste drome aan kan dink nie.
Vir my is dit ‘n uitdaging net om deel te neem. Dis heeltemal buite my gemaksone. Ek vergelyk my ook glad nie met skrywers van naam nie en dit is vir my heeltemal goed genoeg.
Op skool was ek ongemaklik oor die opstelle wat ek geskryf het. Eerstens het ek regtig te min lewenservaring gehad om goed te kan skryf. Ek het nie geweet waaroor om te skryf nie. Ek wou die onderwyser tevrede stel en het meer gekonsentreer op die feite, op dit wat ek dink in die opstel behoort te wees. My ma sou vra wat die onderwerp was en dan, voordat sy myne gelees het, gesê het dat ek dit of dat moes skryf, wat ek nie gedoen het nie, my opstel was reeds ingehandig. Die stemmetjie in my kop sou dan sê dat ek weer eens verkeerd geskryf het.
Om dus ongeveer tien jaar gelede ‘n blog te begin skryf, was vir my ‘n massiewe waagstuk. Ek was bang. Onseker. Wat gaan die mense sê? Wat gaan hulle van my dink? Oor jare het ek dit oorkom en het dit vir my maklik geraak om 400 woorde te skryf. Oor iets waarin ek glo. My eie opinie. Of ander daarvan hou of nie.
Ek het ook aan bloguitdagings begin deelneem en begin waag om oor onderwerpe te skryf waar ek nie so gemaklik is nie. Ek het ook gewaag om my verbeelding te begin gebruik, iets wat ek beslis nie op skool gedoen het nie. Wat verbeelding aanbetref, is daar nog baie kans vir verbetering en my volgende waagstuk sal kortverhale wees. Sommer net om te sien of ek dit regkry. Sommer net om te sien of ek my verbeelding beter kan inspan. Sommer net om te sien of ek 2500 woorde kan skryf. Sommer net om te ontwikkel.
By NaNoWriMo2019 is die uitdaging vir my, Toortsie, om daagliks te skryf, om daagliks meer as 1800 woorde te skryf. Ek probeer om nie te vervelig te wes nie. Nee, ek gebruik glad nie my verbeelding nie en probeer om my verlede so goed as moontlik te dokumenteer. Ek doen dit vir myself. Die rede hoekom ek dit wel op my blog sit, is omdat daar mense is wat so dierbaar is en gevra het om dit te lees.
Ek geniet NaNoWriMo en begin alreeds dink hoe ek verder kan waag in 2020. Dalk ‘n bietjie meer voorberei? Dalk ‘n bietjie oplees voor die tyd? Wie weet? Weer eens doen ek dit vir my eie ontwikkeling.
Want, sou ek nie in daardie jare begin waag het om te blog nie, dan sou ek nie vandag aan NaNoWriMo deelgeneem het, of aan bloguitdagings, of deel van die Towerinne se boeke nie. Sou ek nie begin blog het destyds nie, sou ek nie twee boeke suksesvol uitgegee het nie.
Wat ‘n mens my skryfsels noem, weet ek nie, ek gee ook nie om nie. Al wat ek weet, is dat ek oor jare in my menswees gegroei het danksy hierdie skrywery. Baie selfsugtig, ja, maar ek kon natuurlik myself met verkeerde dinge ook besig gehou het!
Alaya Dawn Johnson, een van die aanmoedigers by NaNoWriMo, skryf:
Respect your bravery for even starting.
Yes, Alaya Dawn Johanson, I do. I do respect the bravery I had for even starting.
Mooi dag
Toortsie
My NaNoWriMo2019 woordtelling staan op 35 947. Volgende uitdaging: 40 000.
Dankie tog jy het begin skryf, Toortsie, want dis hoe ek jou leer ken het!
LikeLike
🙂 Ek kyk nie een oomblik terug nie. Ek is net so dankbaar, vir die skryfwerk, en ook die wonderlike vriende wat ek hier in blogland leer ken het.
LikeLike
Ek het nie vir een oomblik getwyfel dat jy dit met vlieënde vaandels sou kon doen nie.
LikeLiked by 1 person
Met maatjies soos julle sal ek die oorlog aandurf!
LikeLiked by 1 person
Vanjaar se onderwerp was maklik. Dis in volgende jaar wat die groot uitdaging lê.
LikeLiked by 1 person
Jy doen goed. Klop jouself op die skouer.
LikeLiked by 1 person
Dankie Hester, ek is skoon uitasem. Vanoggend het ek nie geweet waaroor om te skryf nie. Die volgende oomblik begin die gedagtes hardloop en moes ek net tik om by te bly. 😁 Jy doen net so goed. 😁
LikeLiked by 1 person