Fliek NaNoWriMo2019

Ons het nie baie gaan fliek toe ons nog op skool was nie, dit was regtig darem net ‘n te groot opoffering om gereeld op ‘n Saterdagaand die veertig kilometer grondpad te ry dorp toe en terug, net om die volgende dag weer te ry vir kerk en die dag daarná vir skool. Dít nadat jy die pad op die Vrydag ook moes ry vir skool of dalk die Saterdagoggend vir sport. Ons plaasmense moet maar ver ry vir enige aktiwiteit. 

Soms was daar ‘n baie oulike fliek wat ons dan wel gaan kyk het, of eerder, ‘n fliek wat my ma wou sien en dan het ons tog gaan kyk. Soos Die seder val in Waterkloof, wat groot opspraak gemaak het in daardie jare. Sjoe! My ma laat ons sowaar toe om dit saam te kyk! Ek dink ek was nog te klein om die strekking daarvan te vang. 

Een aand, toe ons terugry, loop daar een van ons plaaswerkers langs die pad, op pad huis toe. My pa stop om hom op te laai, en al plek wat daar vir hom was, was agter in die kattebak. Hy was maar net te bly om saam te kon ry en klim in. Sy dag was egter alreeds lank, want hy kuier toe al heeldag op die dorp en die onvermydelike voggies het toe ook al sy werk begin doen. Heelpad lê hy en sing toe dronkmansliedjies, tot groot vermaak van ons. 

Ons het ‘n keer of wat na Riviersonderend se inry ook gegaan. Dit was nou weer ‘n heel ander belewenis. Een fliek wat ek kan onthou wat ons daar gaan kyk het, was My broer se bril, ‘n speurverhaal. Grillerig. 

Bredasdorp het die Regal teater gehad. Flieks het nog ‘n pouse tussenin gehad, want die flieks was op ‘n rol gedraai en pouse moes hulle die film omruil. Soms het die film nie lekker geloop nie en het die fliek dan gespring. Een van die grootste lekkertes was dat ons dan pouse ‘n sjokoladetjie of koeldrank kon gaan koop by die kafeetjie. 

Ek was nog in die laerskool toe Onrus op Kariba gewys het. Ons koshuiskinders kon gaan kyk. Ons het almal saam gestap soos dit goeie koshuiskinders betaam. Hierdie fliek het my in ‘n angstoestand gehad. Ek was verskriklik bang. Sodra die begin onrustig raak, het ek uitgesluip en in die badkamer gaan sit en wag. Dáár kon ek die onheilspellende musiek hoor, maar nie die gevaar sien nie, wat vir my selfs nog banger gemaak het. Wanneer ek weer genoeg moed bymekaar kon skraap, het ek weer ingesluip, net om ‘n klein rukkie te sit en weer angsbevange uit te sluip. Ek kon nie teruggaan koshuis toe nie, want ons moes in ‘n groep loop. Dit was een van die langste flieks denkbaar. 

Aan die begin van die fliek het hulle gesê dat ons nie dadelik moes loop as die fliek klaar is nie, hulle het ‘n verrassing vir ons. Toe die fliek klaar is en die ligte gaan aan, wie staan daar voor in die teater? Kaptein Caprivi in lewende lywe! Sjoe! En dit in Bredasdorp van alle plekke! 

Een keer wat ons by my ouma in Grabouw gekuier het, het ons Chitty Chitty Bang Bang gaan kyk by die inryteater in Somerset Wes. Weer was ek maar aan die bangkant, maar my ouers was mos by my en dit het baie gehelp. Dit lyk my ek was maar gewoonlik bangerig as ek gaan fliek het. 

Een van ons allergunstelinge was Herby, maar ek vermoed ons kon dit al op TV kyk. Toe televisie behoorlik op dreef was en Saterdagaande flieks gewys het, het my hele ervaringswêreld rondom flieks verander. Skielik het ek ook geweet wat in die wêreld aangaan. 

Die ander kinders het geweet van al die Cartoons, het hulle op die naam geken en hulle het selfs boeke gehad met al die stories in terwyl ek nie geweet het waarvan hulle praat nie. 

Flieks moes in die ou dae nog die sensuurraad se goedkeuring kry en ‘n fliek het baie gou ‘n ouderdomsbeperking op gekry. Met dié wat ek so laat in die jaar verjaar, was ek selfs in my hele matriekjaar nog te jonk om baie van die flieks te sien. Onder agtien was ‘n baie algemene ouderdomsbeperking. 

Sommer vroeg in ons eerste jaar op Stellenbosch, wys Blue Lagoon, ‘n baie duidelike onder agtien fliek. Maar ek het pas agtien geword en was nou oud genoeg om dit te kon sien. Daar was egter ‘n probleempie. Eerstejaarmeisies moes saans half agt in die koshuis wees. Die aandfliek sou te laat klaarmaak om betyds terug te wees. Al raad wat ons gehad het, was om Vrydagmiddag twee uur se ekonomieklas te bank. 

Ek en Ronel, wat al maats was sedert standerd vier toe ons saam ‘n duet moes speel, het al in die ekonomieklas gesit wat ons besluit het dat, as ons Blue Lagoon wil sien, ons onmiddellik moet spring. Net daar glip ons uit die klas uit. Die eerste wat om die hoek kom, is André, my broer, op pad na dieselfde klas. Ons staan toe agter die pilaar en hy sien ons gelukkig nie, ek sou nooit die moed gehad het om vir hom te vertel waarmee ons besig is nie. Om die volgende hoek kom Professor Sampie Terreblanche, ons ekonomiedosent. Weer moet ons agter ‘n muur skuil. Wel, ons het by die fliek uitgekom en ons eerste erge fliek gesien. Pure dogtertjies, ons twee. Ons is dit steeds! 

Een keer, tydens een van ons baie toere die land vol, wou ons kinders ‘n fliek gaan kyk, ek dink nogal dit was in Durban. Gaaf was al oud genoeg om te ry en ons ouers kon by die huis bly. Annelen was seker ook by en hulle wou seker gaan fliek het, as ek nou so daaroor dink, en toe moes hulle ons lot kinders saamsleep. 

Die hele tyd is ek bekommerd oor pouse, ek het nie geld by my nie en hoe gaan ek vir my ‘n lekkertjie koop? Gaan ek nou sowaar die pouse deur sonder ‘n lekkertjie? Toe pouse aanbreek, is Gaaf daar weg en bring vir ons elkeen ‘n Sweetie Pie. Ek was verniet bekommerd, my pa sou mos gesorg het! Hoe het ek dan gedink? 

Ek is nou nog lief vir ‘n goeie fliek. Ek het net al jare gelede verleer om ‘n goeie fliek uit te kies. Toe die seuns oud genoeg was, het hulle Saterdagaande en Sondagaande die fliek uitgesoek. Ek het gespot dat hulle my sensuurraad is. In hulle finale jaar katkisasie het Passion of the Christ gewys in die Kaap. Ds Ollie het besluit om die katkisante te neem om die fliek te gaan kyk. Hy sê toe die ouers mag ook saamgaan. Ek het egter nie kans gesien daarvoor nie. Toe die kinders die aand by die huis kom en ek vra of hulle dink ek moet dit kyk, was dit ‘n eenparige NEE wat oor hulle lippe gekom het. Ek wonder of ek ooit vir hulle gevra het hoe hulle die fliek ervaar het. 

Later jare het Martjie gesorg vir die fliek en deesdae is my man so oulik en soek vir ons oulike flieks uit. 

Ek en hy het in ons jongdae graag gefliek op Stellenbosch. Die heel eerste fliek wat ons saam gekyk het, was Clash of the Titans, gebaseer op die Griekse mitologie. Die ou moes ‘n klomp gode oorwin het, dink ek. Onthou, dit was lank, lank gelede. Ek het so mooi gekonsentreer om die naam van die fliek te onthou! Hier halfpad deur die fliek waag hy toe om my hand te vat en daar sit ek met papnatgeswete hande. Uitgevang! Op my senuwees! 

Toortsie

Ek onthou nou nog ‘n inry storie, maar ek hou dit vir ‘n ander dag. Ek trek by 33627 woorde. Volgende uitdaging is 35 000. (sewe tiendes)

10 thoughts on “Fliek NaNoWriMo2019

  1. Het jy nooit Passion of the Christ gesien nie? Sjoe, dit is ‘n awesome fliek. Nooit gedink stroopsoet Toorts sou skool slip om te gaan fliek nie 🤔 Jy het my nou aan die dink… voel vir my ek het ook ‘n storie agter die Blue Lagoon… maar kannie nou onthou nie.

    Like

    1. Ja, kan jy glo dat ek klas sou bank vir Blue Lagoon.
      Ek het ook klas gebank om te gaan klavier speel, kan jy glo!
      En om my beenhare te laat waks!
      Dit was omtrent die somtotaal van klasbank vir Toortsie.
      Nee, ek het nooit Passion of the Christ gesien nie. Op ‘n later stadium het ek dit probeer kyk toe dit op TV gewys het. Dit was kort nadat my broer die gif gedrink het. Ek kon dit nie kyk nie. Het probeer. Kon nie. Regtig nie.

      Liked by 1 person

      1. Eienaardig dat Passion of the Christ nou eweskielik na my kant toe kom. Was eergister op soek na iets op utibe en sien ‘n onderhoud wat hulle met die hoofspeler gehad het. Besluit om te luister. Wat ‘n kragtige getuienis. Die speler het deur waaragtige leiding gegaan terwyl hy aan die kruis gehang het. Hy sê Jesus het hom gevra hoe vêr is hy bereid om te gaan. Hy het gedog hy sterf daardie dag. Ek sal jou hand vashou dan kyk ons eendag die fliek.

        Like

Gesels saam, asseblief!