Ek is ‘n Christen en het in ‘n Christenhuis grootgeword. Ons was nog altyd lid van die NG Kerk van Bredasdorp. In my omswerwinge was ons lid van Stellenbosch, De Rust en Swellendam se NG Kerk.
Ek is gedoop, voorgestel en getroud in die NG Kerk van Bredasdorp. Ons het nie elke Sondag kerk toe gekom nie, meer elke tweede week. Dit het veroorsaak dat ek nooit ‘n Sondagskoolseël vir bywoning ontvang het nie. My Sondagskoolsertifikaat was leeg. In my finale jaar van Sondagskool het ons wel meer getrou dit bygewoon.
Ek het baie geleer in die Sondagskool. Hoe die kerk werk. Ons moes ook in die hoërskooljare een keer ‘n kwartaal ‘n toets skryf, waarvoor ek nie baie hard geleer het nie, moet ek sê. Ek wonder hoe op aarde ek dit deurgekom het!
Kerk was ‘n ordelike besigheid. Die ouderlinge en diakens het daar voor in hulle banke gesit, netjies geklee in manelpakke. Hulle het voor die diens bymekaargekom in die konsistorie en daar saam gebid. Dan het hulle netjies ingestap in die kerk in. Wanner daar gebid is, het al die mans opgestaan tydens die gebed, die vroue het bly sit.
Terug na die vroeg reg wees vir kerk. Ons moes só ry dat ons omtrent ‘n halfuur voor die kerk reeds op die dorp was. Die rede daarvoor was dat ons tyd moes inruim vir ‘n moontlike pap wiel op die grondpad. Al ons plaasmense het so vroeg gery en ons sou die ander se stoffies sien trek. My pa het gehou van ‘n bietjie pret en sou dan iemand aanpor om ‘n bietjie resies te jaag. Baie keer het iemand aan die aas gebyt en was die gala aan. Dan gaan dit rof op daardie grondpad op pad kerk toe!
Een Sondag toe ons voor die kerk stop, besef ons dat ek nie ‘n hoed op het nie. Genade, dis erger as om kaal te loop! Wat nou gemaak? Ons het by oom Willie en tannie Betta Beyers gaan klop in die hoop om ‘n hoed te leen, maar hulle het nie die geklop gehoor nie. Daardie Sondag gaan ek toe sonder hoed kerk toe en ek was maar ‘n skrale standerd vier.
Toe die NG Kerk uiteindelik hier by standerd agt rond aankondig dat vroue sonder hoede mag kerk toe gaan, het die dominee wat ons toe gehad het, baie hard en baie duidelik van die preekstoel af gepreek dat vroue steeds in hierdie gemeente hoede sal dra. Vir ‘n ruk het ons nog daarby gehou, tot ons klompie meisievriendinne een dag op die speelgrond besluit het dat ons dit sou waag om die Sondag sonder hoed kerk toe te gaan. Ek weet nie of die ander nie meer kans gesien het toe Sondag kom nie en of hulle ouers dit nie wou toelaat nie, maar daardie Sondag was daar een vroumens in die hele kerk sonder ‘n hoed en waai wie was dit? Die uwe! Niemand het my darem gelukkig uit die kerk gejaag nie. Die volgende Sondag was daar aansienlik minder hoede in die kerk!
‘n Mens moes baie stil sit in die kerk en jou gedra. Geen gevroetelry of gefluister of rondkykery in die kerk nie. My pa sou net saggies aan my raak as ek te woelig begin raak het. Lag was in elk geval taboé en het jy vir iets groot lag gekry, moes jy behoorlik sluk daaraan dat dit nie op enige manier tot uiting kom nie. Of ek die preke gevolg het, weet ek ook nie altyd so mooi nie. Wat ek wel gedoen het, was om na die stemtoon van die dominee te luister en dan te raai wanneer hy Amen gaan sê. So lief soos ek vir sang en musiek is, dink ek die singery in my skooldae was nie baie suksesvol nie. Mense het sag gesing. Bang om uiting te gee. Ek is tog so dankbaar dat dit verander het. Eredienste is ook baie meer informeel en lekker om by te woon.
Ons het altyd voor Meulhuis geparkeer. Op ‘n stadium het ons het ons so ‘n liggroen kar met ‘n bruin dak gery, ek dink dit was ‘n El Camino. My pa het altyd ‘n Chev gery, maar dit kon dalk ‘n Ford ook wees. Karin Lourens-hulle wat saam met my in die klas was, het dieselfde kar gehad. Dieselfde liggroen met ‘n bruin dak. Ons en hulle het daar voor Meulhuis geparkeer, die twee karre wat dieselfde lyk.
In daardie dae is ‘n kar nie gesluit as ons uitklim nie, om die waarheid te sê, ek dink die sleutel het sommer in die aansitter gebly. Dit was net vir inklim en wegry. Ons kom die dag uit die kerk uit en klim in die kar. Eers tóé besef ons dat ons in die Lourense se kar geklim het! Ons het tog te lekker gelag daaroor.
Een Sondag per maand was daar ‘n erediens in Ouplaas se saaltjie. My ma het die klavier gespeel en het daar voor by die klavier gesit. Wanneer die dominee begin preek, het sy net agter die klavier gaan sit. Ons het by my pa in die bank gesit, maar as hy die slag ouderling was, het hy in die voorste bank saam met die diaken gesit. Dan het ons drie kinders alleen gesit. Gaaf teen die muur, dan André, dan ek. André wou altyd langs die muur gesit het, maar Gaaf is die oudste, hy mag teen die muur sit.
Een aand tydens pinkster vra Gaaf ewe vriendelik vir André of hy teen die muur wil sit. Natuurlik is André maar net te gewillig en hulle ruil om. Die res van die aand is dit ‘n gegiggel, want tannie Martha Johnie het haar jas oor die bank gehang. Sy het in die ry net agter ons gesit. André sit ongemaklik. Hoekom ons nie net ‘n stoel opgeskuif het, weet ek nie. Begin ons sing, sing Gaaf vir André: “Sit jy lekker?”
Op Ouplaas het die ou mense nog só gesit: Die vrouens in die linkerkantste blok en die mans aan die regterkant. My ma-hulle was die eerste geslag wat die mans en vrouens bymekaar gesit het. Terloops, ons het een aand ‘n Nagmaalsdiens by Elim bygewoon wat ‘n wonderlike ervaring was, en daar sit dit mans en dames ook apart. Die mans het almal swart aan en die vroue almal wit. Dit is so mooi.
Dit was al sterk skemer toe ons die aand by Elim inry tot by Paul en Carol Swart saam met wie ons die diens sou bywoon. Die Elimiete was alreeds op pad kerk toe en dit was so mooi toe die lig op die vroue val, almal met hulle wit rokke. Tydens die diens is daar baie gesing en die uitdeel en neem van die wyn en brood neem baie lank. Dit word op ‘n baie spesifieke manier gedoen. Die suster wat die wyn of die brood uitdeel, staan by die punt van die ry, dan staan die hele ry se mense op. Sy vee die beker af en dan word die beker een vir een aangegee. Jy en sy wat dit uitdeel, gee ‘n ligte kniebuiging, dan neem jy die beker, drink daaruit, kniebuiging en gee die beker terug. So beweeg hulle aan van persoon tot persoon totdat die hele kerk almal gedrink het uit die beker. Die uitdeel van die brood geskied op dieselfde manier. Solank die mense sing, deel hulle uit. Is die lied klaar gesing, stop almal met waarmee hulle besig is solank die volgende lied aangekondig word.
‘n Ander besonderse kerkdiens wat ek bygewoon het, was op kersdag in Wongan Hills, Australië. Ons gesin het daar gekuier by my man se broer en vrou en gesin. Kersoggend was daar baie min mense in die kerk, dit was eintlik net ons en seker nog so sewe of ag ander mense. Blykbaar hou die Australiërs op Oukersaand ‘n groot geleentheid. Daardie oggend is daar ook nagmaal bedien. Ons het ry vir ry vorentoe gegaan en die predikant het die nagmaal self aan elke persoon bedien.
Terug by Ouplaas. Oom Johnie du Toit was ‘n karnallie. Ons kinders was mal oor hom. Soms, as ons my pa se arm genoeg kon draai, het ons dan voor by oom Johnie gaan sit. Hoe soet of hoe stout ons was, kan ek nie onthou nie, maar ek dink nie ons sou te stout gewees het nie.
In my hoërskooljare het my ma gevoel dat ek haar plek moes inneem voor die klavier in Ouplaas se kerk. Dit was harde oefen. Ek dink nie dit het té sleg gegaan nie, al moes ek maar bitter hard oefen aan die gesange voor die tyd. Dalk moes ‘n predikant of twee maar byt op die tande, hoe sal ek nou weet?
Ek was altyd baie lief vir die Pinkstertyd. Bidure was vir die volle tien dae gehou en ons het baie gesing, waaroor ek natuurlik mal was. Pinkstertyd het ons uit die Hallelujaboek gesing en ek is nou nog lief vir daardie liedere. Ek het die liedere uit my kop uit geken.
Ons koshuiskinders het altyd in ‘n groep Pinkster bygewoon. Die dogters het aan die oudelinge se kant gesit en die seuns aan die diakens se kant. Mooi in ‘n groep het ons geloop en saans terug, wanneer ons dan nog moes gaan studietyd hou.
Toortsie
Ek staan op 29640 woorde.
Een lang verhaal, maar als christen toch boeiend om lezen.
Toen ik nog kind was werden de kerkdiensten hier in Vlaanderen ongever hetzelfde georganiseerd.
Jammer genoeg is dat allemaal teloor gegaan.
Lege kerken, bijna geen priesters meer.
Vele kerken worden gewoon verkocht om er zelfs dancings van te maken.
Als ik er voor uitkom dat ik gelovig ben, proberen er velen dat in het belachelijke te trekken, maar daar word ik niet wakker van, ik ben gelovig en blijf gelovig.
Met de achteruitgang van het geloof , zie ik ook het sociale aspect en de moraliteit van het geloof hier achteruitgaan.
Fijn dat je dit artikel geschreven heeft, ik heb ervan genoten.
Vriendelijke groeten uit Vlaanderen.
Theo
LikeLike
Ai jai Toorts dis presies soos dit was. My temprament en daardie boksies het liederlik gebots.
LikeLiked by 1 person
Gelukkig het ek dit daardie jare asnvaar. Ek het eers op my oudag begin kriewel en toe is dit al toelaatbaar.
LikeLiked by 1 person
My ousus was die gedissiplineerde, slim, voorbeeldige een en was gaande oor kerk. Dit het heeltemal by die mens wie sy was gepas. Sy en die NG predikant se seun het uitgegaan en dit het gelyk of die twee gaan afhaak. Hy het ook predikant geword. Ook maar goed hy het nie my swaer geword nie… kan jy dink wat hy van sy rebelse skoonsuster sou dink. 😊
LikeLiked by 1 person
Ai toggie! Jy sou hom al sy dae gegee het!
LikeLiked by 1 person
Kan jy dink hoe hy my onder hande sou geneem en vir my gepreek het. Toorts, Mauritz (dit was sy naam) kan baie dankbaar wees daardie huwelik het nooit plaasgevind nie. Hy sou vir my ‘n heerlike target gewees het om al my rebellie op uit te haal. Arme man!!! 😂😂😋😋
LikeLiked by 1 person
Of dalk het julle mekaar gevind. Dalk het hy geweet hoe om jou te hanteer. 😁
LikeLiked by 1 person
Nou sal ons nooit weet nie 🤔
LikeLike
Ai man
LikeLike
Altyd interessant om te sien hoedat verkeerde interpretasie gelei het tot wettiese reëls op grond van die prediking van Paulus wat kom sê het ons is vry van die Wet. Letterlike interpretasie het gelei tot die Dorslandtrek, waartydens baie mense en diere dood is. Dit het ook apartheid geregverdig, ten spyte van Kol 3. Baie tradisies het seker maar so ontstaan.
Julle kerkgebou is pragtig, soos ook dié op Napier en Swellendam.
LikeLike
Hoe het dinge nie verander nie, ne. Pinkster, van koshuis na kerk stap, dit was lank en ons was morg van al fie laat slaap, aand na aand. Ooh ek en my NG dominee het in my finale jaar vreeslik vasgesit oor die kerk se dubbel standaarde… tot my ouers ingeroep maar ek het by my standpunt gehou….
LikeLiked by 1 person
En dit was sommer nog toetsreeks ook in pinkstertyd
LikeLike
Mens kan sien waarom jy kleingeld van die 50000 woorde maak. Lekker om by jou te lees.
LikeLiked by 1 person
Raak julle nie uitasem nie? Dis eindeloos lank! Dankie dat jy lees.
LikeLiked by 1 person
Nee dis interessant dan kan dit maar lank wees en jy verloor nie belangstelling nie!
LikeLiked by 1 person
Dankie dis ‘n groot kompliment. Hierdie jaar is maklik, want dis mos maklik om oor jouself te skryf. Volgende jaar is die groot uitdaging.
LikeLiked by 1 person