
As ek gedink het die hoofstuk oor vergifnis in Om lief te hê ten spyte van seerkry is fantasties, weet ek nie hoe om die volgende hoofstuk te beskryf nie. Elke hoofstuk raak net beter en beter en ek is nog nie eers halfpad met die boek nie.
In die volgende hoofstuk leer ek van liefde vir myself. Nie selfsugtige, Narcisisiese liefde nie, maar dat ons sal goed voel oor onsself soos wat God dit wil hê. Dat ons sal leer om oor onsself te dink soos God oor ons dink.
Want die duiwel sit allerhande leuens in ons koppe, soos dat ek nie goed genoeg is nie, skynheilig, lui of ongedissiplineerd is of dat jy nie jouself ‘n Christen kan noem as jy nie jou lewe kan regruk nie.
As ons nie onsself kan liefhê nie, ontneem ons onsself van soveel seën. Dan laat ons toe dat die leuens nie net vir ons beïnvloed nie, maar ook vir almal om ons.
God wil hê dat ons ook onnself sal liefhê. Is dit nie ‘n lekker gedagte nie? Ons is dalk tans nie waar God wil hê ons moet wees nie, maar ons is bestem vir ‘n oorwinnaarskroon. Want ons is Koningskinders.
Sonde en skaamte laat ons lelik voel, maar gelukkig dien ons ‘n God van nuwe dinge. God kan vir ons ‘n nuwe voorkoms gee. Hy kan vir ons ‘n nuwe begin gee. ‘n Nuwe lewe. ‘n Nuwe perspektief.
Hy sluit ook hierdie hoofstuk af met praktiese raad. Hoe kan ons uit hierdie gevangenis van leuens breek? Hoe kan ons ons denke vernuwe? Hoe kan ons van skaamte ontslae raak?
Die boek is uitstekend vertaal in baie goeie en leesbare Afrikaans. Dis oorspronklik uitgegee in Engels. Love like you’ve never been hurt. Jentezen Franklin kry dit reg om op ‘n warm, liefdevolle manier met my, ‘n gewone mens met gewone foute en probleempies en help my om op God te fokus.
Toortsie
Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.