Musieklesse #NaNoWriMo2019

Musiek speel my hele lewe lank ‘n baie belangrike rol in my lewe, al het ek self nie musiek gaan studeer nie. 

Ek kan vaagweg onthou toe my ma haar klavier gaan koop het by Heuer. Ek moes seker vyf jaar oud gewees het. Ek onthou die vertrek vol musiekinstrumente en dat ek in die venster gesit het. Of ek dit reg onthou, weet ek nie. Hoekom sou ek in ‘n venster gesit het? En dat hulle vir my ‘n bekfluitjie gegee het, maar dié het ek daar laat lê. Dalk het ek dit gedroom, ek weet nie. 

Dit was ‘n groot dag toe daardie klavier in ons huis ingedra is op Bosfontein. Die grootste wonder ooit. My ma het in die begin graag gesit en speel en ek sou by haar sit en luister. ‘n Groot gunsteling wat sy graag gespeel het, was O glo my, al sou hierdie skoonheid van jou, en dan sou sy sulke ekstra draaie en krulle ingooi en arpeggio’s speel so tussenin oor die hele klavier. 

Een keer was ons Koppie Alleen toe en my ma het iets gesing, wat ek die aand toe ons by die huis kom, met een vinger gaan uittokkel het op die klavier. Sy was in ekstase! Ons het graag gesing as ons gery het, ek en my ma. Eers sommer net liedjies, selfs later in kanon. 

Op ‘n stadium het sy my geleer om Stille Nag met twee hande te speel. Skielik was die pad vir my oop. Met Stille Nag se akkoorde kon ek toe op my eie heelwat liedjies op gehoor speel. Later jare toe ek harmonie in die musiekklas begin doen het, was dit maar net bevestiging van wat ek reeds met my oor prakties toegepas het. 

Toe ek in standerd een was, het ons ‘n oulike mansorrellis gehad, sy naam het ek lankal vergeet. Ek was toe nog op Ouplaas in die skool en my ma het hom gevra of ek maar kan kom klavierlesse neem by hom, hy was ‘n musiekonderwyser in Laerskool Bredasdorp. Net daar het die hemel vir my oopgegaan. Een keer per week sou my ma of pa my dorp toe neem vir my klavierles. 

Die volgende jaar is ek dorp se skool toe, koshuis toe, sodat ek musiek kon neem. Dit was vir my geen probleem om koshuis toe te gaan nie, ek het dit geniet. Ek kon twee keer per week musiekles kry, in die koor sing, behoorlike sangklasse bywoon, volkspele doen, aan die Eisteddfod deelneem elke tweede jaar. Dit was ‘n fees. 

In my standerd twee jaar is daardie onderwyser weg en het ‘n ander man gekom as musiekonderwyser. Ek weet nie of daar toe regtig behoorlike vordering was met my lesse nie, dalk het ek ook nie eintlik geoefen in die koshuis nie, net naweke. In standerd drie rond was daar een of ander tyd ‘n padda in die pyp en het ek in trane vir my ma gebel dat ek nie langer gaan musiek neem nie. Sy het gesê dat ek net tot die einde van die jaar moet aanhou. Slim ma! Intussen het dinge weer begin beter gaan en het ek toe nooit met die lesse opgehou nie. 

Toe kom tannie Elza Wessels in standerd vier en daar het dinge begin verander. Ek het by haar les geneem tot matriek. Toe ek in standerd 9 begin lui raak vir oefen, het sy die wêreld se geduld met my gehad. Ons het mekaar verstaan, was lief vir mekaar. Sy was bereid om te waag met my en het my vir musiekeksamens ingeskryf. Ons het mekaar se taal verstaan. Sy het ons in ons hoërskooljare vir operettes na die Nico Malan Operahuis in die Kaap geneem. 

In musiek moet ‘n mens tel. Een en twee en drie en vier en. Ee-een e-en twee-ee e-en ens. Ek dink dat dit vir iemand anders baie vreemd klink as musiekmense begin tel. Jy sing op die noot en uiter dan hierdie vreemde klanke. In die sangklas het ons ook Franse telname geleer, maar ek het maar die normale een en twee en gebruik. Of wat van Wellington, Wellington, Wellington vir triole? En moenie dat die een hand in dries tel en die ander een in vywe nie, dan tel die hele lyf saam! Hoor hoe het ek hierdie ding getel: Wellington, Wellington, Wellington, Wellington hu u hu u uuu, pam pam paaam, pam pam paam … Sjoe! Dit was ‘n ingewikkelde stuk! Teen ‘n vinnige spoed! Teen daardie tyd klop my hart kliphard saam en ek is skoon uitasem! Lekker!

My musikale tellery het sommer vroeg in my musiekloopbaan skipbreuk gely, alles te dankie aan ‘n proefjuffrou en die musiekmeneertjie. Ek dink nie ek het van hom gehou nie. My ouers het ook nie ‘n vleiende naam vir hom gehad nie. 

Ek is geleer om baie mooi musikaal te tel. Jy sing saam met die noot. Net mooi toe die proefjuffroutjie daar is, is ek met hoë note besig. Ek probeer my bes om by te hou met die tellery, dit het seker soos ‘n muis geklink wat piep! So in my gespelery en singery vang my oog net dat die tweetjies vir mekaar loer en hulle lag wegsluk en daar waai my musikale getellery by die venster uit. Ek laat nie vir my lag nie. Sedertdien het ek ‘n uiterste onmusikale gebrom hier onderlangs. Baie vreemd. Nou die dag toe gaan sit ek by die klavier en probeer musikaal tel en weet jy wat? Ek kry dit sowaar reg! Dalk moet ek dit nou weer op my oudag aanleer!

Waaroor ek sleg voel is dat ek my broer so ‘n lewe gely het. Hy moes vir matriekeindeksamen leer, ek moes vir naweke vir my musiekeksamen oefen. As koshuiskind was dit vir my moeilik om in die week te oefen. Daar was ‘n klavier in die koshuis, maar dit was altyd ‘n probleem. 

Kleintyd het die koshuis se klavier in ‘n sitkamertjie gestaan. Dit was die sitkamer waar die juffrouens hulle kêrels ontvang het. Baie swak reëling vir kind én juffrou! Die klavier is geskuif na die eetkamer toe, maar daar was ‘n gedruis. Oefen ek, veral in die hoërskooljare wat jy omvangryke stukke oefen met groot klank, sfz, dan word daar by die koshuisvader gekla en dan het hy nou weer die onaangename taak om my te kom stilmaak. Op ‘n stadium was die klavier in die kleinsaaltjie, maar dit was weer die ander kinders se speelplek. Ek het wel soms in die musiekkamer in die skool gaan oefen as tannie Elza nie daardie tyd leerlinge gehad het nie. 

Dus, naweke was dit oefentyd. Ek vermoed egter daar was ‘n bietjie asprisheid ook betrokke. As my broer kerm, dan oefen ek net harder en meer. Toonlere op en af. Arpeggios. Jammer, André, ek hoop jy het my vergewe. Daardie jaar het ek die beste ooit gedoen in ‘n musiekeksamen en jy het ‘n fantastiese matriekpunt behaal. Dalk het ons tog ‘n middeweg gevind? Ek weet nie? Al wat ek weet was dat ek die daaropvolgende twee jaar lui was vir oefen en ‘n musiekloopbaan onder die klavierstoeltjie ingeskop het. 

Ek was omtrent in standerd vier rond toe my ouma moes ouetehuis toe gaan. Ons was die naweek in Grabouw om die meubels op te pak. Ouma se klavier het my gepla. Want ouma se klavier was eintlik my ma s’n. Kan ons dit nie maar Struisbaai toe neem nie? Ons gaan so baie Struisbaai toe en dan kan ek vir tye nie oefen nie. Dit sal so lekker wees om ‘n klavier op Struisbaai te hê. Die klavier het egter kewers in gehad en my ma wou nie daardie kans vat nie. Kewers is regtig ‘n probleem hier in ons wêreld. Ek weet nie wat van die klavier geword het nie.

‘n Klavier was vir my ‘n heilige instrument. Hy moes met respek hanteer word. Hy moes ook ‘n goeie staanplek kry. Dit was vir my verskriklik toe my ma ons klavier op ‘n stadium iewers in ‘n donker kamer loop sit het. 

Ek kon musiek nooit regtig los nie. Sommer gou het ek in ons universiteitskoshuis die klavier ontdek en op ‘n stadium weer begin musiek neem by ‘n student. Ek het dan in die konservatorium se oefenkamers geoefen. Gelukkig was die oefenkamers toe nie gesluit soos wat dit tans is nie. Gereeld het ek sit en oefen en dan het ‘n student ingekom wat wou oefen, dan het ek maar opgetrek en ‘n ander oefenkamer gaan soek. Dit was hemels. 

As jong getroude vrou het ek my geldjies bymekaar gesit en vir my ‘n tweedehandse klavier gekoop en wanneer ek kon, weer les geneem. Ek het sommer weer by graad ses begin en die eksamens weer gespeel. Op skool het ons Royal Schools gespeel, as volwassene het ek UNISA gespeel. Weer eens was die oefenry soms ‘n uitdaging, veral met klein kindertjies. Ons het in trio geoefen. Die seuns het elkeen een van die buitenste oktawe gekry om op te oefen en ek het die res van die note gekry. Ons het voluit geoefen, ons drietjies saam. Hoe dit van buite af geklink het, weet ek nie, maar dis hoe ons dit gedoen het. Ek het hard geoefen. 

Toe my leermeester hoor wie die eksaminator is, het sy voorspel dat ek dit nie sou maak nie. Die dag van die eksamen het ek vir my ‘n hoenderburger gekoop en ‘n halfuur voor die tyd voor die lokaal gaan sit om my geestelik in te stel en om rustig te eet. Dit was regtig uitdagende stukke wat ek gespeel het en ek moes net gou ‘n bietjie rustig raak voor ek speel. 

Die volgende oomblik kom tannie Hettie uitgehardloop en sê dat ek dadelik moet kom, die eksaminator is haastig en dat ek op die vleuelklavier moet speel. Beide hierdie opdragte was teen die reëls. Die kleinsaaltjie se regopklavier was spesiaal gestem vir die eksamen, ‘n mens mag nie lokale ruil nie. 

Ek antwoord dat ek nie op die vleuelklavier gaan speel nie. Op daardie stadium het ek ‘n geestelike weerstand teen ‘n vleuel gehad omdat ek links is en tannie Elza al kleintyd verduidelik hoekom ek sal sukkel op ‘n vleuel omdat die linkersnare so lank is en hard speel en ek met my linkerhand harder speel. Ek moes myself altyd inoefen in ‘n vleuel in. Ek het ook gevra dat ek net gou klaar eet asseblief. 

Ek het daardie eksamen met twee punte gedruip. Ek het nie druipkwaliteit gespeel nie. Ek weet ek het dit gedruip terwyl ek nog in die kar gesit het. ‘n Jong, onervare eksaminator wat sy merk wou maak en nie geweet het wat om met ‘n volwassene te maak wat klaviereksamens speel nie en dit nie kon hanteer dat ek nie onmiddellik gespring het en gedoen het wat hy versoek nie, selfs al was dit teen die reëls nie, dit was die oorsaak van my druip.

Hy het my nie gebreek nie. Ek het dit die volgende jaar oorgespeel in Worcester. Want my juffrou het gesê dat die groter sentra meer ervare eksaminators trek. Ek was heerlik ontspanne. Die eksaminator was ‘n oudprofessor van die Universiteit van Stellenbosch en het destyds die Universiteit se kerkkoor afgerig. Ek was nie in die koor nie, omdat hulle ‘n koorkamp gehad het en ek wou daardie naweek huis toe gaan. Ek het dus onttrek van die oudisie. Op ‘n stadium het ek dit vir die oom genoem, dit is ook eintlik teen die reëls, ‘n mens gesels nie met ‘n eksaminator nie, veral nie tydens die eksamen nie. Ek het goed deurgekom en sy totsienswoorde aan my was dat as ek sou kom vir die oudisie, ek toegelaat sou wees tot die koor. Daar slaag ek toe op my oudag die oudisie! 

Toe Martjie spesiale talent in musiek toon, kon ek weer eens my inlewe saam met haar. Ons het wonderlike musiektye saam gehad. Ek het altyd gesê dat ek dit nie teen haar sou hou as sy nie haar musiek verder voer nie, maar sy het my dubbel en dwars beloon en bewys haarself uitstekend in die musiekwêreld. Ek is trots op haar. Ek wonder baie keer of daardie baie geoefen vir my graad agt terwyl ek haar verwag het, nie ‘n groot invloed op haar musikaliteit het nie. Die slim mense sê mos dat babas kan hoor terwyl hulle in die baarmoeder is. 

Al speel ek nie meer baie op my klavier nie, al het my spel verskriklik verswak, al het my selfvertroue om voor mense te speel by die deur uit verdwyn, verstaan ek en my klavier mekaar steeds en is hy steeds ‘n uitlaatklep vir vreugde, hartseer of enige emosie wat ek mag beleef. Ek dank die Here vir hierdie talent wat Hy vir my gegee het en ook vir die voorreg dat ek dit kon uitleef my hele lewe lank. Aan Hom al die eer. 

Toortsie

11 thoughts on “Musieklesse #NaNoWriMo2019

  1. Sjoe, dis ook n hele avontuur wat jy beleef het met die klaviere, eksaminatore en jou linkerhand spelery. Ek het nou lekker gesit en lees tot die einde! Jy is beslis iemand om mee rekening te hou as dit by reëls kom. Ek stem saam dat reëls is baie belangrik as dit by sulke eksamens kom. Almal moet oor dieselfde kam geskeer word. Welgedaan met die skrywe.

    Liked by 1 person

    1. Reëls is reëls. Hulle mag regtig nie aan klaviere verander tydens ‘n eksamen nie tensy daar natuurlik iets fout gaan. Die vleuel was ook nie gestem voor die eksamen nie. Dalk het ek die reël verkeerd, maar dis hoe ek dit altyd verstaan het.

      Like

      1. Dis reg so en ook te verstane. Die stem van klavier is uiters belangrik voor sulke geleenthede. Daardie proef jyffrou en meneertjie laat my ook dink aan my musiek onderrvinding toe ek studeer het en die musiek dosent net geen gevoel gehad het vir iemand wat wil en kan nie net omdat sy nie van my gehou het nie. Bly jy geniet die klavier nog steeds dis goeie terapie.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s