Kaap toe #NaNoWriMo

Om Kaap toe te gaan kleintyd was ‘n groot storie. Ons het meestal by my ouma gaan oorslaap op die plaas by Grabouw en dan die oggend vroeg vertrek om inkopies te gaan doen. Soms het ons in ‘n hotel in die middestad gebly. 

Die inkopiedoenery was erg. Ek het altyd gesê dat jy ‘n gesin uit die platteland myle ver kon uitken. Almal netjies geklee in ons beste klere het ons die Kaapse strate aangedurf. Kerkrok. Netjies. Onmiskenbaar ‘n gesin bymekaar. Dit was vóór inkopiesentrums. In die middestad. 

Middestad. Ek was maar bang ook. Bang vir die gedruis. Bang vir die baie mense. Bang, omdat hulle baie gebou het in die middestad en dan skiet hulle dinamiet of ‘n yster val of wat ook al, dan skrik ek my in ‘n ander bloedgroep in en huil. Gespanne. Bang vir die sakkerollers. Bang dat ek sal verdwaal of my ma per ongeluk verloor en wat dan? Sommer net bang vir die hele opset.

Ons het in die parkade parkeer en stap dan die middestad plat. Adderleystraat en St George’s straat op en af. St George’s straat was nog ‘n straat met verkeer, nie ‘n lekker toegemaakte straat waar jy na hartelus kan stap nie. Later het ons op die stasie geparkeer. Dit was makliker. Ons het dan deur die Sanlamsentrum gestap en daar was genoeg winkels sodat ons nie so erg nodig gehad het om in die strate te op en te af nie. 

Twee keer per jaar het ons hierdie uitstappie onderneem. In die Maartvakansie om wintersklere te koop en in die Septembervakansie vir somersklere. Die hele winterskas of somerskas op een dag. My arme ma moes behoorlik hare op die tande gehad het!

Ons sou in ‘n winkel instap en die assistent sou kom en vra waarmee sy kan help. My ma het dan gesê sy kom koop vir my klere, ek het alles nodig. Ons sou nie vreeslik rondkyk nie. Die dame sou die een armvol klere na die ander aandra en ek moes net aanpas en aanpas. My ma sou besluit wat reg is en wat ons koop. As ek nou daaroor dink, besef ek dat sy so ‘n keer net vir ons kinders klere gekoop het, sy het seker op ‘n ander dag vir haar klere gekoop. Sy het in elk geval vir haar laat klere maak en nie veel in winkels gekoop nie. 

Later jare, toe ek al ouer was, het ons ‘n bietjie deur die rakke geloop, maar die prosedure sou redelik dieselfde bly. Die persoon, wat my en my smaak glad nie ken nie, sou die een vrag klere na die ander aanbring wat ek moes aanpas. Baie van daardie items sou nie my smaak wees nie, maar ek het so sleg gevoel om elke keer te sê ek hou nie daarvan nie en het maar net stilgebly. 

Een jaar het ons weer, soos gewoonlik, met ‘n vrag klere by die huis gekom. ‘n Hele seisoen se klere. Onthou, ek het vinniger gegroei as ‘n koolkop. Elke seisoen het ek regtig nuwe klere nodig gehad en my ma het daarvan gehou om my volgens die nuutste modes aan te trek. Sy het die modes bestudeer en het presies geweet wat is in en wat is uit en ek was lank en maer, so sy het daarvan gehou om my aan te trek. Ek was toe al ‘n tiener. 

In die hoop klere was daar een item waaroor ek baie opgewonde was. Dit was ‘n Indiese baadjie wat onder die jongmense baie gewild is. Ek het vir my pa die klere gewys wat ons gekoop het, veral die baadjie. Hy het gesê dit lyk soos pajamas. Ag ja, ek dink hy het net geterg. 

Een keer is ek, my ma en my skoonsuster Kaap toe vir inkopies. My broer was seker ook by. Ek was seker so agt jaar oud, so dit was in daardie tyd wat ek so bang was. Ons het net by Foschini se deur uitgestap in die straat in toe ons ‘n gegil net agter ons hoor. “My purse! My purse!” Ons kyk verskrik om en sien die gillende vrou en ‘n man wat hardloop. Hy het haar handsak gegryp. Sy was totaal oorweldig. Ek ook. Die res van die dag kon my ma nie met my huis hou nie. Vir baie jare daarná ook nie. Vir baie jare daarná het ek my handsak geklou as ek in die stad loop, baie bewus van wat om my aangaan, my hande om my handsak geklou en wat nie een oomblik verslap nie. 

Toe ontdek ons vir Woolworths. Ek het vir Google gevra, maar sy sê Woolworths in die Kaap het al in 1931 oopgemaak. Ek sê ‘sy’, want ek glo met my hele hart dat Google ‘n dame is. Geen man kan so baie dinge gelyk doen soos Google nie. Dalk was dit ‘n nuwe Woollies wat in die middestad oopgemaak het, dalk het my ma maar net nie daarvan geweet nie. Sjoe! Het ons gekoop! Dit was ‘n fees! 

Daardie dag het ek in die Kaap ontdek dat my kerkrok wat ek aanhet, se soom uit is. Die hele dag loop ek en hou my soom met my twee hande vas! Plaas dat ek dit net uitlos, niemand sou dit opmerk nie, maar nee, ek is net te bewus daarvan. In Woollies het my ma toe vir my een van die nuwe rokkies laat aanhou sodat ek tog net vrede met die soom kon hê. Toe loop ek weer selfbewus rond, die hele Kaap weet nou ek het die rok sommer aangehou!

My ma het ‘n rekening by die meeste van die groter winkels waar sy inkopies gedoen het, gehad. Wanneer sy gekoop het, het hulle die strokie in so ‘n buis gesit waarmee dit seker na ‘n ander vloer vervoer is waar die rekeningafdeling dit eers moet goedkeur. Dan, na ‘n rukkie het die buis weer teruggekom met die goedkeuring en ons kon aangaan. Hoe dit gewerk het, weet ek nie. Met lugdruk dalk?

Roltrappe en heisers was ‘n belewenis. Sodra ons binne ‘n winkel was, het ek ontspan. In Garlics was ‘n lieflike kafeteria waar ons graag geëet het. Een so ‘n dag het ek ‘n boek gesien wat ek graag wou hê. Complete Book of Handicrafts. Ek het gekerm en gekerm oor daardie boek. Uiteindelik het ek my ma oortuig om die boek te koop. Ek het sekerlik nooit iets uit hom gemaak nie, maar daardie boek het ek geblaai en gelees en is vandag nog lief daarvoor om in hom te lees.

Later jare, as student, het ek vir ‘n week by my niggie gaan bly in die stad en daagliks middestad toe gery met die trein. Ek het die trein ook van Stellenbosch af geneem om my inkopies in die stad te gaan doen. Tog was ek nooit lief om in die strate te loop nie en het ek die meeste inkopies sommer in die Sanlamsentrum gedoen.  Eers heelwat later het winkelsentrums gekom wat die pyn uit stadtoegaan gehaal het. 

Een keer is ek en my ma en my broer die oggend deur Kaap toe. Ons het weer by my ouma geslaap in Grabouw en is vroeg die oggend daar weg, paraat om die winkels oopmaaktyd te bespring. Ons tref toe spitsverkeer en daar is ‘n fout met die motor. Dis stop en ry en elke keer wat ons stop, vrek die kar en sukkel dit om weer aan die gang te kom. By Mowbray gee my ma moed op en ons trek net daar af by die stasie en neem die trein tot in die middestad. 

Ek was Sub B rond toe Gaaf daar by Ouplaas geval het met sy motorfiets. Albei die pype af in sy een pols. As gevolg van hierdie ongeluk moes ons ‘n paar keer na ‘n Kaapse dokter gaan by Medipark in die middestad. Vir die res van sy lewe het sy hand altyd so effens na buite gestaan. Terwyl hy en my ouers by die spesialis was, ry ek en André, toe elf jaar oud, solank op en af met die hyser. 

Op ‘n stadium gaan ons terug na die dokter se spreekkamer, maar my ma-hulle was nie daar nie. Hulle het op ‘n ander vloer gaan plate neem. Ons twee laerskoolkindertjies van die plaas dink hulle is seker maar kar toe. Genadiglik kry ons hulle toe in die voorportaal van die gebou, want waar in die Kaap sou hulle ons opgespoor het as ons die dag alleen daar uit is? Terloops, hier is ‘n bewys van die goue draadjie van God se beskerming wat daar my hele lewe lank was. 

Toortsie

My woordtelling tans: 26229 op 14 November 2019. Die halfpadmerkie staan agter my. Die volgende uitdaging is 2/3: 33 333. Nee, nee! Eers 30 000 haal, dan 33 333

17 thoughts on “Kaap toe #NaNoWriMo

  1. Toortsie, jy het my sommer so KAPLAKS! neergeplak in my kinderjare en ons inkopietogte in die Kaap. Ek was jou sekerlik ‘n dekade of wat vooruit, maar ons het ook die parkeer-en-stap ding gedoen. Ek in my mooi Sondagrokkie met wit sokkies en kerkskoentjies. My skoolvriendin se ma het aangedring dat hulle twee ook hulle kerkoede moes dra en wit handskoentjies – my ma het darem nie so ver gegaan nie. Ons pa’s in hulle double breasted kerkpakke. Ek onthou die die kompanjies tuine, die blommerverkopers, die straatfotograwe (ek het ‘n hele paar foto’s wat daar geneem is), die pie & gravy by OK Bazaar se restaurant. Die seer voete. Ai tog, namiddag se kant het my ma my letterlik aan die hand moes rondsleep. Dan, wanneer al die inkopies klaar gedoen was – die swem by Muizenberg of Blouberg- / Melkbosstrand. Of piekniek by Kirstenbosch.

    Like

    1. Ek wou dit nou nie so duidelik uitspel nie, maar ja, ons get ook ons kerkrokke en langsokkies en alles aangehad. Ons plattelanders het dinge naar dieselfde gedoen. Ek voel lekker dat ek jou kon terugstuur Kaap toe!
      Verspoel julle?

      Liked by 1 person

      1. Ons huisies staan darem nog, want ons water loop net af rivier toe en daarvandaan see toe. Maar ons ly al aan vrotpootjie. Die grond is versadig en die water bly staan. Ons hoor daar is ‘n hengse storm op pad vroeg môreoggend.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s