Roomys #NaNoWriMo2019

Ek wil sommer net begin deur te sê dat ek regtig wonderlike ouers gehad het. Ja, ek en my ma kon lekker vassit in my volwasse dae, maar dis snaaks hoe die lewe is, daar is baie goed wat ek nou verstaan en wat ek dink dat sy selfs beter hanteer het as wat ek ooit sal kan. In 1 Kor 13 staan daar mos dat ons deur ‘n spieël kyk in ‘n raaisel, maar dat ons eendag sal verstaan. Party goed sal ons seker nooit verstaan terwyl ons op aarde is nie, maar eers eendag in die hemel. Ander goed kry ons dalk later in ons lewe tog die voorreg om te verstaan soos ons self die pad loop. 

Ons gesin was lief vir roomys. Net ek was nie eintlik lief vir roomys nie. Die koue maak my neusbeen seer en ek het baie keer naar gevoel as ek roomys eet. Kleintyd was daar nie soveel verskillende geure nie. Rum and Raisin was ‘n groot gunsteling en Neapolitan. Nie een van hulle het my opgewonde gemaak nie. Pienk roomys het my regtig naar gemaak. In my volwasse lewe sou ek later een keer per jaar baie lus wees vir ‘n draairoomys met ‘n flake, maar baie min roomys daarin. Wanneer ek dit dan geëet het, was ek weer versadig vir ‘n baie lang ruk. 

Ek het altyd ‘n vanillaroomys verkies. Sou almal draairoomyse koop, het ek eerder vir my ‘n roomys op ‘n stokkie gekoop, van daardie wat eintlik net geysde koeldrank is. Op ‘n stadium het daar kafees begin om ‘n verskeidenheid kleure en geure roomys aan te hou, nie draairoomys nie, maar ‘n balletjie in ‘n horinkie. Ek kon nogal van daardie roomyse eet, nie elke dag nie, maar per geleentheid.

Om roomys ongeskonde op die plaas te kry, was nogal ‘n storie. Ons het veertig kilometer van die dorp af gebly. Die roomys het al in die eerste plek op pad huis toe begin sag word. Op die plaas het ons nie Evkomkrag gehad nie, maar ‘n enjin en ‘n paraffin vrieskas. Die roomys het gereeld uitgesak en ‘n harde deel onder gevorm. Bo-op was ‘n onsmaaklike skuim. Dit was maar die roomys wat ons geken het. 

Soms het ons ons eie roomys gemaak. Dit was ‘n vreeslike geklits. Die roomys was baie lekker en baie soet, maar hard gevries, nie die ligte roomys soos wat ‘n mens koop nie. 

Op Struisbaai was ‘n kafee wat goeie draairoomyse verkoop het. Dit was Aylesbury. Lieflike roomys. Ook op Struisbaai het ons dieselfde probleem as op die plaas gehad dat die roomys nie meer in die beste toestand is wanneer ons dit daar eet nie. ‘n Draairoomys was egter anders. Dit word daar gemaak terwyl jy staan en wag. 

My ma het toe met ‘n nuwe ding begin. Sy sou een van ons met ‘n bak stuur na die kafee toe om draairoomyse te gaan koop. Al die roomyse word dan omgekeer in die bak en so terugvervoer huis toe. By die huis word die roomys in bakkies geskep. Maklik en lieflik! 

Een aand word my pa opgekommandeer om ses roomyse en ses hamburgers te gaan koop by die kafee. Hy vra wie gaan saam, niemand wil nie. Hy vra ook vir my om hom te help, maar ek is ook nie lus nie. (Ek voel nou nog sleg daaroor.) Bak in die hand is hy daar weg en het lank weggebly. Uiteindelik is hy terug en sê dat hy darem vanaand ‘n %&* werk gekry het. My pa het regtig nooit lelik gepraat nie, dit moes vir hom baie sleg gewees het as hy sover sou gaan en ‘n lelike woord uiter.  

Wat gebeur het: Hy het die hamburgers bestel en die bak vir hulle gegee om die hamburgers in te sit. Intussen het hy solank die ses draairoomyse bestel wat hulle een vir een in sy hande gegee het. Heeltemal te veel vir een mens om vas te hou! Daarná het die groot wag begin vir die hamburgers wat nie opdaag nie. Die roomys het al begin smelt en teen sy hande afloop, maar hy moes bly staan. Uiteindelik het die bak met die hamburgers opgedaag en moes hy met daardie vrag, manalleen terugbestuur huis toe. 

Hoe hy dit reggekry het, weet ek nie. Ons het ons gebreek soos ons lag, want hulle moes net die hamburgers in ‘n sak gesit het en die roomyse in die bak, dan was dit baie makliker! Maar sies tog, dit moes vir hom bitter sleg gewees het. Ek sou woedend gewees het as my mense my so misbruik!

Ek het musiek geneem op skool. Klavier. Hier in my laat hoërskooljare het ek lui geraak vir oefen, maar eksamens wou ek speel. Arme tannie Elsa wat my nog moes aanpor week vir week! Sou ek my graad sewe-eksamen op ‘n Saterdag speel, want hoekom het my pa my geneem? Ek was nie goed voorberei vir hierdie eksamen nie. Party van die stukke het ek nie eers behoorlik geken nie. Ek was oorspanne. Ons het by die kerksaal se klein saaltjie eksamen gespeel. Toe die gehoortoetse gedoen word, sien ek my pa oorkant die straat loop. Met ‘n onsigbare hand het ek aan hom vasgeklou en my eksamen gedoen. Ek hét wel deurgekom, hoe, weet ek nie. 

Toe ek met hangskouers uitkom by die eksamenlokaal, wag my pa vir my buite. “Kom”, sê hy, “kom ons gaan koop vir jou ‘n roomys.” Daardie een was ‘n heerlike troosroomys en het diep in my hart gaan lê. My pa het net geweet hoe.

Toortsie

Ek staan vandag op 24 114 woorde. Min geskryf vandag as gevolg van gebrek aan tyd. Gelukkig het ek dit mos voorsien.

28 thoughts on “Roomys #NaNoWriMo2019

  1. Uitstekend geskryf Toorts! Veral jou wonderlike einde. Siestog, jou pa was n wonderlike pa.
    Weereens dieselfde as jy. Ook musiekeksamens elke jaar gedoen en is ook nie mal oor roomys nie- verkies ook liewer” ice suckers”. Of lekkers. Miskien was ons n tweeling lank lank lank gelede.

    Liked by 1 person

          1. Nog n foitjie mer die klonong. Miskien is dit dorlbewus so beplan as ek nie kon teken nie en jy nie kon koskook nie en ons nue wen kan hardloop of bal vang ni, sou dit darem swaar gegaan het daar op Rhebus!

            Liked by 1 person

  2. My ervaringe met roomys was na aan joune: ek onthou so goed dat die bakkie roomys wat ons in die dorp gekoop het sag was teen die tyd dat ons op doe plaas gekom het; daar was nie plek in die vrieskas van ons paraffin yskas nie. Ek eet ‘n draairomys elke jaar by die National Arts Festival – alhoewel nou dat ons kleinkinders en hul ouers die land verlaat het sal ek dit seker nie meer doen nie. Ek het baie gehou om van jou herinneringe te lees.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s