Tuine en tuiniers NaNoWriMo2019

Met ons wat so ver van die dorp af gebly het op ‘n grondpad, kon my ma nie aan al wat vereniging was, behoort nie. Sy het aan die Blommeskool behoort. Dáár het hulle blomme gerangskik en tuin gemaak. 

My ma kón blomme rangskik volgens die nuutste mode. Ek kan nou nog nie blomme rangskik nie en druk dit net in ‘n pot, ek noem myne ‘indrukkings’, want dit is wat dit is, net indrukkings en ek twyfel of dit aan die Blommeskool se standaarde sal voldoen. 

Daar in die droë Bosfontein het my ma ‘n lushof van ‘n tuin gemaak met bome en struike en blommetjies, bruggies en paadjies, klippe op die regte plek. Sy het deelgeneem aan tuinkompetisies en het gewoonlik baie goed gedoen. Waar die water vandaan gekom het, weet ek nie, dit was lank voor skemawater. Sy het ure in die tuin spandeer. 

Aan die onderpunt van die tuin was ‘n groot dam en ‘n tuinhuisie. Ek dink dat die dam in die ou dae gebruik was om die groentetuin, wat net aan die ander kant van die tuin was, van water te voorsien. Of die blomtuin ook uit daardie dam natgelei is, weet ek nie. Ek vermoed my pa het windpompwater daarvoor aangelê.

Daar was twee manne wat in my leeftyd in ons tuin gewerk het: Oupa en Koos*, wie se naam ek om ‘n baie spesifieke rede verander het. 

Vandat ek maar kon onthou, was Oupa in die tuin. Hy was ‘n Xhosa-man wat volgens my pa gehelp het om aan Bredasdorp se silo’s te bou. Toe die silo’s klaar gebou is, het hy by ons begin werk. Dit was nog voor my geboorte. 

Ons was lief vir Oupa. En hy vir ons. Hy was ‘n kindervriend. Ek wonder hoeveel tyd ek in sy geselskap deurgebring het. Jaar vir jaar is daardie hele tuin met plantjies geplant, een vir een. Eenjariges. Oupa het dit gedoen. Geduldig. En sou ek vir hom wou help plant, sou hy geduldig vir my toelaat. Netjies in rytjies. Om en om die grasperk. Heel voor in elke bedding was twee rytjies gesiggies. Daar was ranonkels, in die skadukant rye en rye cinerarias. Leeubekkies. Ag, noem maar op, dit was daar. Tuin behoorlik uitgelê. Niks uit plek nie. Goed beplan. Oupa was die man wat dit versorg het. 

Oupa was ook die man wat ‘n ogie oor ons gehou het. Wou ek ‘n bietjie op ‘n ponie ry, sou hy die ponie vang en opsaal. Een dag het ek en ‘n maatjie besluit om Ouplaas toe te ry met die ponies. Ek dink beslis nie ons was al oud genoeg om so ‘n rit alleen aan te pak nie. Ons het net mooi by die grootpad gekom, toe die ponie my kamtig afgegooi het, waaroor ek nou baie sterk twyfel. Op daardie stadium het my pa met ‘n stofstreep daar aangekom om ons te keer. Hoe die ponies weer by die huis gekom het, weet ek nie. Dalk het oupa saamgekom om hulle weer terug te kry by die huis. 

Ek het nooit weer daarná op ‘n ponie se rug geklim nie, ook nie op ‘n perd nie, behalwe so ‘n paar jaar gelede wat ek op Struisbaai op ‘n perd se rug geklim het en iemand vir my gesê het ‘n mens kan op ‘n afstand sien dat ek nie kan perdry nie. Ek was lekker oorgewig op daardie stadium en die perd het gekreun onder my! Dit was seker maar ‘n kleinerige perd!

Op ‘n stadium was ek weer lus vir perdry en het dit vir my pa genoem, waarop hy geantwoord het dat ek dit dan elke naweek sal moet doen, ‘n mens kan nie net af en toe op ‘n perd ry nie, ‘n perd raak dan steeks. Ek het dit maar eerder gelos, bang dat ek nie daarby sou kon hou nie. 

Baie baie jare later is ek een keer na ‘n ooievaarstee vir ons buurvrou op ons buurplaas, daar waar ons toe gewoon het. Ons dogter was net gebore, nog ‘n ou pap babatjie, toegedraai in ‘n wit kombersie. Toe ek daar uitklim, sien ek vir Oupa ‘n entjie verder staan. Hy het seker saam met my broer gery, of iets. Pikswart baadjie en langbroek aan. Martjie was ‘n spierwit babatjie met wit kleertjies aan, toegedraai in ‘n wit kombers. 

Toe ek vir Oupa sien staan, stap ek dadelik na hom toe met haar in my arms. Hy kom ook dadelik om vir my te groet. Hy het haar by my gevat en daar staan hy, die groot, swart man in pikswart geklee met die bondeltjie wit in sy arms. Daardie gesig sal ek altyd diep in my hart bêre. 

Hoeveel keer as ek op Bosfontein gekom het met my kinders, sou hy hulle kom haal om op te pas. Een keer het ek vir Martjie in die kombuis gelos en seker net iets in die kamer gaan haal. Toe ek weer in die kombuis kom, was sy weg. Buite gekom, loop Oupa rond met haar in sy arms. Al wat hy gesê het was dat die kind gehuil het en niemand het gekyk nie. 

Koos* het eers in my hoërskooljare in die tuin kom werk. Hy het ‘n baie unieke eienskap gehad: Hy het ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet gehad. Hy het altyd ‘n groter nommer skoen gedra en dan ‘n sny aan die binnekant van die skoen gemaak sodat die ekstra toon daar kon deursteek. Sjoe, dit moes darem maar ongemaklik gewees het met die tone wat so na binne wys. 

Sy seun, Mannetjie*, wie se naam ek ook verander het, het later jare in my ma se huis gewerk. Hy kón kook soos min. My ma het hom geleer en hy het die heerlikste kos uit resepteboeke uit gemaak. Ek moet darem sê, in ons huis is daar altyd baie lekker geëet. Sara was net so ‘n uitstekende kok en sy kon nie eintlik lees nie. Tog het sy uit die resepteboeke gekook. My ma sou vir haar die resep lees vir die eerste keer en daarná het sy die kos gemaak soos min mense haar kon nadoen. Elke middagete was ‘n feesmaal en sou my ma mense oornooi, was alles net van die beste. Wat ‘n voorreg!

Terug by Mannetjie*. Hy het, nes sy pa, ‘n ekstra vinger aan elke hand gehad en ‘n ekstra toon aan elke voet. Tog het hulle hande en voete verskil. Die een s’n was net ‘n ekstra vinger of toon soos al die ander vingers en tone. Sy hand en voet was net breër om die ekstra vinger of toon te akkommodeer. Die ander een s’n was basies ‘n los toon wat hier uit die middel van sy voet uit dwars gegroei het. Die ekstra vinger was ook so ‘n klein vingertjie aan die pinkie se kant. 

Ek was nie ‘n goeie tuinier nie. Ek het van ‘n mooi tuin gehou, maar nie om heeldag in die tuin te werk nie. Vir die eerste aantal jare het ek ook nie ‘n tuinman gehad wat vir my gehelp het nie, dus het daar baie min aangegaan in die tuin. Dit kan ook ‘n duur speletjie wees om ‘n tuin behoorlik uit te lê, wat ek natuurlik nie kon bekostig nie. 

Toe ons Uitkyk toe trek, het ek ‘n tuinman geëerf saam met die tuin. Wát ‘n plesier! Die vorige boervrou het baie moeite met die tuin gedoen, alles was kleurgekoördineerd geplant, elke boom en struik op sy plek. Klok moes net sorg dat dit netjies bly. 

Met tyd het hy egter begin om plantjies uit te plant en was die kleure nie meer heeltemal so mooi georden nie. Nie dat ek regtig omgegee het nie, ek het óók begin saadjies gooi en steggies indruk, waar daar ook al ‘n plekkie was. Dit het ‘n regte bont mengelmoes geraak en ek was mal daaroor. Later het Kate in die tuin gewerk. Tuinwerk was haar liefde en ‘n mens kon dit duidelik sien.

Ek en Klok het ‘n mooi verhouding gehad. Hy was ‘n dierbare mens en ek het hom toegelaat om sommer self met die tuin aan te gaan. Hy het ‘n vreemde plantjie daar iewers in die tuin gehad wat hy gesê het sy twak was. Na baie jare het ek een dag gewonder of dit nie dagga is wat hy in my tuin kweek nie en het hom toe gevra om dit te verwyder. Toe Gaaf die dag die gif gedrink het, het ek dit vir hom vertel en sy antwoord het my net laat besef hoeveel insig die ou man het. Later jare het hy tering gekry en ek moes daagliks vir hom sy pille gee, wat vir my ‘n groot uitdaging was om te onthou. Ongelukkig is hy toe oorlede en het ons nooit die reeks pille voltooi nie. 


Nou maak ek glad nie meer tuin nie en sorg my man vir ons tuin. Ek hou daarvan. 

Toortsie

Advertisements

9 thoughts on “Tuine en tuiniers NaNoWriMo2019

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s