Laerskool Ouplaas NaNoWriMo2019

Laerskool Ouplaas is die skool waar ek die eerste drie jaar van skoolonderrig ontvang het. Dit is ook die skool waar my seuns hulle eerste paar jaar van skoolonderrig ontvang het en ook waar my pa in die laerskool was. Ons broers was ook daar. Ook my niggies en nefies wat in daardie kontrei gebly het. 

My pa het nog met ‘n perd skool toe gery, ek was bevoorreg om met ‘n skoolbus te kon skool toe gaan. Die skoolbus het ons by die huis kom optel. Eintlik is dit blykbaar teen die reëls, maar omdat die pad oor ons werf gery het en hulle dan ook twee ander gesinne kon optel as hulle so ry, was dit toegelaat. 

Die dag toe ek skool toe is vir die eerste keer, was dit ook die eerste keer wat die bussie gery het. Voor dit moes die ouers self hulle kinders by die skool besorg. Of eerder, ek dink dit was die eerste keer wat daardie roete bedien is met ‘n skoolbus. 

Die nuwe bus was ‘n groot opgewondenheid. Dit was ‘n vyftiensitplekbussie wat by oom Perry-hulle begin het en orals langs die pad kinders opgetel het tot by die skool. Daar is twee motorhekke op ons werf waaroor die bus moes ry en my ma het stringe van kreukelpapier gemaak en die hele motorhek toegespan. 

By die eerste motorhek het die bus ewe gestop en Dawie het uitgeklim om die ‘hek oop te maak.’ Ons het egter gewys dat hulle deur die kreukelpapier moes ry, natuurlik tot groot opwinding vir almal in die bus en ook vir ons. Toe die bussie stop en die deur oopgaan, klim ek dadelik in en gaan sit langs Wilfred, ‘n seuntjie wat ook in Sub A was, nes ek. Ons het mekaar geken, ons ouers was baie goeie vriende en hy het op so ‘n kort bankie gesit waar twee kinders kon sit. Dit was vir my glad nie vreemd om by hom te gaan sit nie. Vir my broers was dit egter ‘n groot bron van spottery dat ek sommer met die eerste intrapslag langs ‘n seuntjie gaan sit het. 

As jongste in die gesin en ook nog die enigste dogter, het ek maar baie deurgeloop onder my broers en hulle gespot. Dit was nie aldag maklik nie en ek is ook nie altyd met die oulikste en skerpste outjies gespot nie. Sonder dat enige iemand dit besef het, het dit sy merk gemaak en het so iets lewenslank ‘n invloed op ‘n mens. 

In Laerskool Ouplaas was daar in daardie dae omtrent sestig kinders in die skool. Die skool het aansienlik kleiner geraak en het sowat twintig kinders gehad toe ons seuns daar was. Die skool het vir baie lank ‘n oorlewingstryd gevoer totdat dit op die ou end sy deure moes sluit. 

Die grond waarop die skooltjie staan, is deur my oupagrootjie aan die kerk geskenk. Wanneer watter geboue opgesit is, weet ek egter nie. Daar was ‘n kerksaal op die gronde waar ons as gemeenskap van Ouplaas baie byeenkomste gehad het. Die oorspronklike skool het slegs een vertrek gehad wat gebou is met geld wat my oupa geskenk het vir daardie doel toe my oom verdrink het. 

My oom Daantjie het by Hamerkop verdrink terwyl hy visgevang het en ‘n fratsgolf het hom afgeslaan van die rots af. Daardie dag was my oupa-hulle ook op pad na Hamerkop met ‘n lorrietjie om daar te gaan vakansie hou, maar die jongmanne het solank vooruit gegaan op hulle perde.  Toe oom Daantjie van die rots afgeslaan is, het een van die ander wat daar was, op die perd gespring om hulp te gaan soek en vir oupa-hulle gekry langs die pad waar hulle op pad was met die lorrietjie. My oupa het blykbaar dadelik besef daar is fout toe die perd van voor af kom. Duikers is ingeroep om te kom help soek, maar hulle kon nooit sy liggaam vind nie. Hy was twintig jaar oud. Sy spaargeld is toe gebruik om die klaskamer te bou. 

Die Departement van Onderwys het later nog ‘n klaskamer aangebou. 

Die skool het drie juffrouens gehad, een vir Sub A en B, een vir standerd een tot twee en die skoolhoof vir standerd drie tot vyf. Die kindertuin, naamlik Sub A en B’s het in die saal skoolgegaan. In daardie jaar het die Departement toe nog ‘n klaskamer gebou. Dit was ‘n houtgeboutjie en ook dit was ‘n groot opwinding toe ons die spinternuwe gebou kon betrek. 

Waarvan ek natuurlik die meeste kan onthou, is die spelery, want ons het gespeel. Dit is ‘n plaasskool, so dit was regtig plaas. Die skoolgrond was nie met sement of teer bedek nie, dit was maar net gewone plaaswerf met grond en klippies. Daar was wel swaaie waarop ons kon ry. Ons het onder die bloekombome gespeel: Aan-aan, wegkruipertjie, Alley Rose, wat nog alles. Speletjies wat plaaskinders speel met klippe en stokke en grond. Die heel lekkerste speeltyd was ná tweede pouse wat die groot kinders nog weer terug klas toe is, maar ons kindertuin dan klaar was vir die dag en moes wag totdat die bus later die middag terugry. 

Terloops, my broer was een keer so in die moeilikheid toe hy een oggend in die wasem teen die ruit geskryf het met sy vinger! Die oom wat die bus gery het, het hom amper van die bus afgegooi. Sies tog, hy was dalk oor iets heeltemal anders gefrustreerd, vir al wat jy weet. 

Vrydae kon ons ‘n geldjie saamneem. Regoor die skool was ‘n winkel, maar ons kon nie elke dag winkel toe stap om lekkers te gaan koop nie. Die grootpad het tussen die skool en die winkel verby geloop. Vrydae kon ons dan eerste pouse ‘n lekkertjie gaan koop het by die winkel. As die pouseklok lui, het almal uitgestorm winkel toe. 

Oom Eric Pratt was die winkelbestuurder en ons was almal baie lief vir hom. Hy was ook ‘n kindervriend en het baie geduld met ons gehad. Ouplaas se winkel was ‘n kleinerige winkel. Daar was ‘n poskantoortoonbank en ‘n lang winkeltoonbank. Nie eintlik winkelrakke vir selfhelp nie, alles was agter toonbanke. Jy het vir oom Eric gevra wat jy nodig het en hy het dit aangegee. Dis eers later jare wat Suidhoek dit gemoderniseer het en winkelrakke ingesit het waar mense self kon koop. In die vertrek langsaan was die hardeware, dink ek. Ek het nooit eintlik in hardeware belang gestel nie. 

Die lekkergoed was in bakke op die toonbank. Jy het vyf sent se loslekkers gevra en dan sou oom Eric met ‘n koerant ‘n keël vou en die lekkers daarin gooi en dit toevou. Daar was sekerlik ander lekkers en tjips ook om uit te kies. 

Op een so ‘n Vrydag het ons, soos die gewoonte was, gehardloop om ons lekkers te kan gaan koop toe die pouseklok lui. Net voor ons oor die grondpad hardloop, is daar ‘n redelike skuinste en net daar slaan ek toe neer. Dit was in die winter en ons het sykouse gedra. Swartes. My bene was stukkend, sykouse vol gate, mens kan mos dink op ‘n grondpad en klippe dat jy nie heelhuids daar sal uitkom nie. Ai, ek het myself behoorlik bejammer. Ek het wel oorleef, al was dit net-net. 

Later die dag het ons sangklas gehad. Die hele skool het saam sang gehad. Ek twyfel of die juffrou musiek kon lees, maar dit maak nie saak nie. Ons moes daardie dag leer huppel. Juffrou Paula het gevra wie kan huppel, en ek kon. Die kinders het so in ‘n sirkel gestaan en ek moes al om die sirkel huppel, stukkende knieë en kouse vol gate en al. 

Baie jare later het hierdie insident weer te voorskyn gekom tydens ‘n Transformasie Gebedsbedieningsessie (Transformation Prayer Ministry, TPM) wat met my gedoen was. Tydens daardie sessie het ek gehuppel, maar het later gevoel of ek vlieg. Wonderlik! Ek wonder nou baie keer of daardie gehuppel toevallig was en of juffrou Paula sommer net baie oulik was en of sy geweet het dat juis dít vir my die wêreld se goed sou doen.

Dit laat my dink aan my ma wat, toe sy ook nog in Sub A was, nie in die skoolkonsert ‘n plekkie gekry het nie. Sy was baie ontsteld daaroor en sy vermoed dat my ouma dalk met die onderwyser gaan praat het. Ek kan dit beswaarlik glo, want ouma Lenie was nie iemand wat sommer ‘n onderwyser sou gaan aanspreek het nie. Wat wel gebeur het, was dat my ma die volgende dag ‘n plekkie in die konsert gekry het, ek dink sy was ‘n blommetjie. 

Ek dink nou sommer aan hoe koud ons soms gekry het. Dit was nog voor die tyd van skoolsweetpakke. In die winter het ons steeds mos maar ons skoolhemp van katoen aangehad by ons skoolrok met sykouse daarby. Seker darem ‘n trui vir die koue. Ek dink ook nie ons kon pouses binne gebly het nie. Ek kan onthou dat ons soms almal so styf teen mekaar gestaan het in ‘n poging om warm te word. 

Plaasskole is lekker. Plaasskole is knus. Die kleiner klassies kan help dat kinders dalk meer individuele aandag kan kry. Die feit dat daar ‘n paar grade in een klas is, help die sterker kind om sommer solank van die volgende jaar se werk ook te leer wanneer die juffrou met die ander klasse besig is. 

Plaasskole het egter ook sy beperkings. Ek dink dit moet ‘n geweldige uitdaging vir ‘n onderwyser wees om meer as een graad tegelyk aan te bied. Dit kan ook ‘n beperking wees omdat dieselfde onderwyser alle vakke moet aanbied en nie noodwendig in almal goed is nie. Wanneer ‘n kind dan vir ‘n paar jaar noodgedwonge by dieselfde onderwyser in ‘n sekere vak onderrig moet word, mag dit probleme skep as die onderwyser nie baie goed is in daardie vak nie. 

Iets anders wat ook sleg kan wees in ‘n plaasskool, is die feit dat daar min maatjies is. Soms is daar net een of selfs twee dogtertjies in ‘n jaargroep. Is hulle nie goeie maats nie, kan ‘n kind baie maklik uitgesluit voel omdat daar nie ‘n groot keuse van maats is nie. 

Aan die ander kant is die blootstelling wat kinders in plaasskole kry, ongelooflik. Kinders word gedwing om aan alles deel te neem. Die sportiewes én onsporttiewes neem almal deel aan elke sport wat aangebied word, net so met die kultuur. Almal speel in die skoolkonsert. Sodoende word daar gebalanseerde kinders ontwikkel. Ek is baie dankbaar vir die feit dat ek ‘n rukkie in ‘n plaasskool was, net so dat my kinders ook daardie voorreg kon hê.

Toortsie

Woordtelling tot op hede: 21503

6 thoughts on “Laerskool Ouplaas NaNoWriMo2019

  1. Ek het ‘n soortgelyke mynskool ervaar: 36 kinders van Graad 1 tot Standerd 5. Graad 1 to Standerd 2 in een klas en Standerd 3 tot 5 in die ander. Ek was die engiste Engelssprekende kind in die skool vir die eerste jaar! Daar was net vyf van ons in Standerd 5. Ons ervarings was wonderlik!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s