Ek kan nie onthou van soveel begrafnisse wat ek as kind bygewoon het nie, maar sommige van hulle staan tog vir my uit.
Ek was sommer nog klein toe twee van my maats se ma’s kort na mekaar oorlede is. Sommer nog op ‘n jong ouderdom. Beide hierdie tannies se begrafnisse was gehou uit oom Kosie en tannie Johanna in die huis op Spitskop. Die een was Franco se ma, maar dis baie vaag en ek kan dit nie so goed onthou nie. Wessel se ma se dood kan ek beter onthou, ek dink ek was ongeveer Sub B rond. Wat ek onthou, is die groepie vriende om die graf in die familiekerkhof op die plaas. En dat ons aan die buitekant van die kerkhoffie gestaan het, die naaste familie was seker binne. Daardie kerkhoffies is mos maar eintlik baie klein.
Familiebegraafplase op plase is hier by ons ‘n algemene gesig. Ons de Wet-familie het ook ons kerkhof op my oom-hulle, oom Eddie en tannie Dinah van Eeden se grond, Driefontein. Hulle kinders en kleinkinders woon tans daar. Driefontein is die oorspronklike familieplaas van die de Wet’s. Heelwat van my voorgeslagte is daar begrawe soos my oupa en ouma en ook my boetie wat gesterf het by geboorte.
Alhoewel ons maar net ses kilometer van Ouplaas se kerksaaltjie af is, is die begrafnis elke keer uit ons huis gehou wanneer iemand in ons kerkhof begrawe is. Eers my ouma toe ek in standerd drie was, en later my neef, Dewet van Eeden (vE).
Hy het verongeluk presies twee dae ná sy twintigste verjaarsdag. Hy was in die lugmag op daardie stadium en hulle het teruggevlieg van Valhalla af, as ek reg onthou. Vier lugmagoutjies in ‘n privaatvliegtuig. Die vliegtuig het aan een van die outjies se pa behoort. Daar was probleme met die vliegtuig se radio en hulle kon eers nie vertrek nie. Uiteindelik is hulle in uiters gure weer weg en het verdwyn. Ek weet nie of die radio toe weer moeilikheid gegee het nie, maar hulle het in die digte mis teen die berg vasgevlieg tussen Oudtshoorn en Mosselbaai. Sou hulle slegs drie meter hoër gevlieg het, sou hulle dit gemaak het en was dit oop lug tot by Riversdal waar hulle sou land. Vir ‘n week lank is daar landwyd na hulle gesoek. Daar was selfs die vrees dat hulle uitgewyk het vir die slegte weer en in vyandige Mosambiekse gebied beland het, maar genadiglik was dit nie die geval nie. Genadiglik is hulle gevind en kon hulle ouers van hulle afskeid neem.
Dewet vE se begrafnis is uit ons huis gedoen. Biduurbanke is ingedra, elke moontlike stoel, ons groot sit- en eetkamer is volgepak, ook die groot stoep buite. Almal was tjokkenblok vol, daar het nog mense op die gras ook gestaan, of hulle kon hoor wat die dominee gesê het, weet ek nie. As so ‘n jongmens sterf, kom daar baie mense. Ons het redelik voor in die stoet gery, en ons was al lankal by die graf, geparkeer en uitgeklim, toe het die string karre steeds gekom en gekom. Dit het ‘n geweldige indruk op my gemaak.
‘n Landsvlag is om sy kis gedrapeer met sy lugmaghoed bo-op.
Ek kan goed huil by ‘n begrafnis. Ek hoef nie eers die persoon te ken nie, as die familie die kerk instap, trek my keel toe en loop die trane. My eie Dewet-kind het in sy hoërskooljare ‘n ou tannie besoek. Dit was ‘n projek van die skool. Kinders het ‘n bejaarde aangeneem en dan op ‘n gereelde basis besoek. Ek het die tannie een keer ontmoet in die bank. Kort daarná is sy oorlede. Ter wille van my kind besluit ek om die begrafnis by te woon. Ek en my vriendin, Suria. Ek neem aan sy het die tannie geken.
Daardie dag breek my sluise toe behoorlik, ek huil sommer vir my kind se verlies, die tannie was regtig goed vir hom. Arme Suria kry my so jammer, dink by haarself dat ek darem baie lief moes wees vir die tannie. Op ‘n stadium, so tussen die snikke deur, sê ek vir haar dat ek die tannie glad nie geken het nie. Sy wou haar breek!
Dawie Beyers het daardie tyd by ons gewerk, ek was die bestuurder van ons vervoerbesigheid en Dawie het my gehelp. Toe ek met dikgeswelde oë by die kantoor aankom, het hy aanbeveel dat ek myself as ‘n roubeklaer kan uithuur. Ek sou blykbaar goed kon geld maak daarmee. Sê hy.
Dawie was ‘n wonderlike kollega en vriend. Sies tog, hy het ‘n baie lang stryd teen kanker gehad wat hy op die ou end verloor het. Sy ouers moes al drie hulle seuns die een na die ander begrawe. Dit wens ek nie my vyand toe nie. Hulle was só sterk. Oom Perrie en tannie Daphné, ek eer die manier wat julle die verlies van julle drie seuns verwerk het.
Dawie was eintlik aanvanklik meer my broer, Gaaf, se vriend. Ons het later jare maats geraak. Die einste Dawie het vir my so ondersteun met Gaaf se begrafnis, sonder dat hy dit eers besef het.
Gaaf is op ‘n nuwejaarsdag oorlede, twee weke na sy dogter, wat verongeluk het met haar motorfiets. By haar roudiens het ek so sleg gevoel dat ek nie by Gaaf gaan inhaak het toe hy so verskriklik hartseer was nie. Met sy roudiens was ek geweldig ontsteld.
Toe ons as familie instap in Struisbaai se kerk, staan Dawie toevallig aan die kant van ‘n ry in die paadjie se kant. Hy het vorentoe gekyk, nie na die familie se kant toe nie. So in die verbyloop het ek net so aan sy bo-arm gevat en dit gedruk. Dit was vir my ‘n baie moeilike begrafnis. Daar was baie dinge wat ek moes verwerk. Met die uitstap na die diens het ek gevlug en vir baie lank eers agter ‘n muur gaan staan.
Ek was in standerd drie toe my ouma oorlede is en in standerd vyf toe my tannie oorlede is. My pa-hulle was vyf kinders, en daar was ‘n baie groot gaping ná die eerste twee kinders gebore is, omtrent dertien jaar, voor ouma nog drie kinders gehad het. My tannie Jakoba was die oudste terwyl my pa die tweede jongste was. Tipies wat gebeur, is dat wanneer iemand doodgaan, mense oor die persoon praat. Die mense het gewonder of oom Wienand-hulle nou op die dorp gaan woon, of nie. Ek, muis met groot ore, het die gewonder gehoor en sommer vir tannie Rita gaan vra wat hulle plan was. Dit was blykbaar verkeerd, ai tog. Uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor, né.
Ek het ‘n ietwat vreemde uitkyk oor begrafnisse. Ja, ek huil tog te lekker by elke begrafnis, maar familiebegrafnisse is vir my op ‘n vreemde manier eintlik baie lekker so te midde van die hartseer. By só ‘n geleentheid sien ‘n mens gewoonlik familielede wat jy min sien en kuier almal gewoonlik lekker saam. Baie keer kom die familie al die vorige aand bymekaar en word dit eintlik ‘n lekker saamweesgeleentheid. Op die ou end kan ‘n begrafnis uitdraai in ‘n groot lekkerte.
So ‘n jaar of wat gelede het ons ‘n groot familiesaamtrek gehad by Pieter en Celia op Bosfontein. Al my oupa en ouma se nasate was daar. Die eerste amptelike bymekaarkom was by die kerkhof. Die meeste van die familie het op Waenhuiskrans by Die Herberg gebly. André het ‘n bus gereël om die klomp daar te kry. Om een of ander rede het ons self gery, nie met die bus nie. O ja, ons moes my ma by die ouetehuis oplaai.
Ons het egter baie lank gewag, die bus het aanmekaar gebreek op pad. Stuk-stuk het ons daar opgedaag, al die oues van dae ook. Lekker sit en gesels daar tussen die grafte. My Inka-lelies was in volle blom en ek het solank flesse vol blomme op elke graf gesit. Francois Potgieter het ‘n baie mooi boodskap gebring daar in die begraafplaas.
Ná die tyd het ek gehoor dat daar meer mense by die geleentheid teenwoordig was as wat ons met die oog kon sien. Dit klink my ouma Ellie het ‘n ogie kom gooi oor ons lotjie. Iemand het ook blykbaar die span ponies daar verby gejaag. Ek weet van die ponies wat daar verby gehardloop het en die vreemde windjie wat gewaai het, so, wie is ek om te stry of hulle daar was, of nie? Wel, ek dink ons het heel oulik uitgedraai, Ouma kon maar trots wees op ons!
Toortsie
Jy het heerlike herinneringe, Toortsie. En ja, ek kan net so grens by ń begrafnis, selfs al gaan ek net saam met iemand.
LikeLiked by 1 person
Interessant hoe enkele begrafnisse uit my kinderdae ook in my geheue vassteek. Mooi vertel, ek geniet jou skryfwerk.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie. Ek waardeer die kompliment.
LikeLiked by 1 person
Hi Toortsie, baie mooi geskryf.
Weet jy dalk of Gaaf De Wet die skooltjie by Ouplaas gebou het ter nagedagtenis aan sy seun wat by Hamerkop verdrink het?
Die gedenksteen is nog daar by Hamerkop op die punt waar die tragedie afgespeel het. Die woorde op die steen:
“Op 3 Oktober 1937 het Daniel Stephanus de Wet van hierdie punt afgespoel in die ouderdom van 20 jaar, die seun van Gaaf en Ellie de Wet, Driefontein”
Ek het iewers verneem dat Gaaf die skooltjie laat bou het ter nagedagtenis aan Daniel, sal graag wou weet of dit wel so is, as jy dalk weet.
Groetnis Anton
LikeLiked by 1 person
Dit was ‘n wonderwerk dat ek op jou blog afgekom het Toortsie. Ons het verlede week die Walvis Roete gestap, en natuurlik weer die gedenksteen vir Daniel daar gesien. Baie hartseer wat gebeur het.
Ek wou nog graag altyd weet omtrent Ouplaas se skooltjie, en nou het ek my antwoord, baie dankie!
Het op die Internet gesoek totdat ek op jou blog afgekom het, kon nêrens inligting kry nie.
Ja ek is die jongste seun van Moxie Dunn wat al die jare by die Pont by Malgas was.
Dit is nou regtig ‘n verrassing dat ek jou kon opspoor en die ware feite kry.
So baie mense het my woord in twyfel getrek as ek vir hulle sê Oom Gaaf De Wet het die skooltjie laat bou.
LikeLiked by 1 person
Hy het net die een klaskamer laat bou. Die tweede klaskamer is later aangebou, seker deur die Departement van onderwys. En hier ontmoet ek nou oom Moxie se seun. Ons het soveel keer oor die pont gery.
LikeLike
Baie dankie Toortsie!
Ja baie dinge het verander op Malgas sedert my kinderjare, die Pont ook.
Van ons kinders woon nou permanent daar, en die ander gaan maar naweke of vakansies soontoe.
Ek sien jy skryf sommer oor baie dinge, gaan met tyd nog lees.
Mooi week, en weereens dankie.
Groete
LikeLiked by 1 person
Mooi aand.
LikeLike