Sôtie NaNoWriMo2019

Ek kan nie ‘n boek oor my kinderjare skryf en nie ‘n hele hoofstuk aan Sôtie wy nie. Eintlik behoort ek sommer die hele boek aan haar te wy. Sôtie was my lieflingpop. My kind. Die beste wat daar ooit was. Ek en Sôtie was beste maatjies, ons het met mekaar gepraat, kliphard, het lang gesprekke gevoer. Ons was onafskeidbaar. 

Hoeveel keer het iemand vir my ‘n nuwe pop as geskenk gegee. Ek sou ‘n rukkie met die nuweling speel, maar voor jy jou kom kry, was Sôtie maar weer die gekose een. Sy was my gunsteling. Sonder twyfel, my allergunsteling. Ek was lief vir haar en soos ek hier skryf, voel ek steeds die liefde vir haar sterk klop. 

Oor jare kon ek van al my speelgoed ontslae raak, maar nie van Sôtie nie. Om die waarheid te sê, ek het haar steeds. Nou die dag het my man iets in my kas gesoek en sien toe vir Sôtie lê. Verbaas het hy gevra of ek dan sowaar nog vir Sôtie het, waarop ek geantwoord het dat sy maar eendag saam met my begrawe moet word. 

Jy weet, soos My grandfather’s clock wat die oupa die dag met sy geboorte gekry het en wat vir neëntig jaar sonder ophou getiek het en opgehou tiek het die dag toe die oupa oorlede is. Dís my Sôtie daai. Sy sal maar seker eendag sterf saam met my. 

En nee, ek speel nie meer met haar nie, net as jy dalk wonder! Ek mag koekoes klink, dalk ís ek effens koekoes, maar ek speel nie meer met haar nie. Lankal nie meer nie. Ek kan egter nie waarborg dat ek nie op my oudag wel met haar sal speel nie, maar vir eers lê sy veilig in ‘n kas. Vóór enige persoon in elk geval weer met haar kan speel, sal sy ‘n behoorlike bad en ontsmetting nodig hê en beslis ‘n kas vol splinternuwe klere. Ek sal sowaar by volgende jaar se basaar moet gaan kyk of daar nie dalk iemand is wat popklere gemaak het wat vir haar sal pas nie. 

Van ouetehuis gepraat. Ek het ‘n rukkie gelede ‘n video gesien van ‘n versorgingsoord vir Altzheimerpasiënte waar hulle vir die pasiënte babapoppe uitgedeel het. Dit het my geweldig geïnspireer omdat ek tans ook geliefdes in ons Altzheimersafdeling het. Ons het begin om babapoppe, toegedraai in kombersies, aan te skaf en daar uit te deel. Ek het nie woorde om te beskryf wat daar gebeur wanneer die mense die poppe in hulle hande vashou nie. Hulle begin weer lewe. 

Ek is nie altyd seker of die bejaardes weet dis ‘n pop en of hulle dink dis ‘n baba nie, maar dit maak eintlik glad nie saak nie. Daardie poppe word gesus, geliefkoos en gesoen. Die tannies gesels met en sing vir hulle babas. 

Dis egter nie net die tannies wat die poppe geniet nie, die ooms geniet hulle net so baie. Daar is een oom wat homself as beskermheer oor die poppe aangestel het, lyk dit my.  Nou die dag lê daar ‘n pop naby hom, niemand speel met haar op daardie oomblik nie. Een van die susters maak toe die fout om die pop op te tel om vir iemand anders aan te gee. Was dit nou ‘n konsternasie! Die oom was só ontsteld dat hulle die baba kon pla as sy slaap! ‘n Ander keer het hy weer al die poppe na sy kamer geneem en hulle op sy bed neergesit, want niemand kyk dan na hulle nie! 

Ons het ook ‘n klompie poppe in die siekeboeg uitgedeel. Elkeen van die mense reageer verskillend. Die een tannie wil eers dink oor die saak of sy ‘n baba wil hê of nie. ‘n Ander een is te dankbaar om ‘n baba by haar te hê vir wanneer sy na haar kinders verlang. Toe ek vir die een tannie sê dat ek vir haar ook nog ‘n baba sal bring, sê sy baie beslis: “Asseblief nie. Ek voel nie lekker nie.”

Een van die bejaardes is baie verswak en die suster wonder toe of ons vir haar ‘n pop moet gee. Sy hou die pop ‘n hele ruk so voor die tannie terwyl die tannie net vir die pop kyk. Die volgende oomblik glimlag die tannie, blykbaar die eerste keer in maande. Ons sit die pop toe by haar in die bed, waarop die tannie net aanhou glimlag en haar kop instemmend geskud het. 

So lief soos ek vir poppe is, so graag soos ek met Sôtie gespeel het as kind en so graag soos wat ek met my kleinkinders speel, weet ek dat ek eendag ‘n pop sal geniet as ek bejaard en stokalleen in my bed lê. Ongeag of die pop lewe, of nie. 

Ek moes nog baie klein gewees het toe tannie Sally Marais haar vir my gegee het. Sôtie het ‘n plastiek kop en arms en bene en ‘n sagte materiaallyfie. ‘n Regte babapop. Later  het haar nekkie deurgeskaaf. Tannie Mags het my jammer gekry toe ek by haar was en een dag toe ek van die skool af kom, het tannie Mags vir haar ‘n hele nuwe lyfie gemaak van ‘n sykous. Sy het haar lyfie nog ‘n keer vervang. Die tweede lyfie het langer gehou en ek het heelwat jare later, toe my eie dogter met Sôtie gespeel het, die lyfie weer met materiaal versterk. 

Ja! My dogter het ook gedink sy is wonderlik! Ek het een dag die boks met al my ou speelgoed uit ‘n kas gehaal en voor haar neergesit. Sy het letterlik vir Sôtie uitgeduik tussen die ander poppe uit. Toe my broer daarna by ons kom, het ek net vir hom gesê: “Sien jy, ek was nie verkeerd nie.” Hy het net gelag. 

Sôtie het haar naam gekry toe een van die plaaswerkers se vroue ‘n baba gehad het. Ek was toe seker so vier of vyf jaar oud. Hierdie babaseuntjie se naam was Sôtie. Die regte spelling was seker Shortie en soos ek maar net kan dink, was dit net ‘n noemnaam, hy sou ‘n string name op sy ID-boek hê. Niemand het hom Shortie genoem nie, wel Sôtie en net daar het my Sôtie haar naam gekry. 

Jaarliks as die nuwe skooljaar aangebreek het, het ek die eerste week sonder Sôtie koshuis toe gegaan. Ek wou eers sien of daar van my ander klasmaats ook hulle poppe saambring. Sodra een van die ander haar pop daar gehad het, was Sôtie die volgende week ook ingepak. Toe die hoërskooljare aanbreek, het die maats nie meer hulle poppe saamgebring nie en het Sôtie tuis gebly. Ek moet darem sê dat ek toe nie meer so ernstig met haar gespeel het nie. Sy het wel snags nog by my in die bed geslaap. 

Elke Junie-vakansie is ons karevaan aangehaak en het ons die land vol getoer. Dan sou my broer sê dat Sôtie by die huis moet bly. Ek het gehoor gegee en sou gewoonlik al in die kar sit solank my pa-hulle nog die heel laaste goedjies kry voor ons vertrek. Soos die vertrektyd naderkom, sou ek al hoe benouder raak. Skielik sou ek uit die kar klim, saggies die huis inglip, vir Sôtie gaan haal en wegsteek tussen my klere. By die eerste piekniekplek waar ons stop, het Sôtie dan te voorskyn gekom. Ek kan net dink hoe bekommerd ek oor haar sou wees as ons vir drie weke weg van die huis af sou toer en sy was nie saam nie! In Mosambiek het my broer sowaar haar vingertjie met die gasstoof vermink! Tsk. 

Sôtie was nie baie mooi nie, al moet ek dit self erken. Sy het gou-gou al haar hare verloor. Mense sou soms ‘n lelike opmerking oor haar maak, seker maar om my te terg. Sou ek enigsins vermoed dat jy nié van Sôtie hou nie, of negatief oor haar voel, moes jy weet dat jy in my slegte boekies is, hoor! Sy was myne. My eie liefiepop.

Toortsie

17 thoughts on “Sôtie NaNoWriMo2019

  1. Dis soms erg as Pa’s nie hul dogtertjie se pop se naam ken nie. My dogter s’n was Sweet Caroline, ‘n basterlappop.

    Vir my Meesgeliefde het ek die mooiste fyn porseleinpop gekoop by Parys (die Vaal een) se landbouskou. Ek kon verstaan toe daai gesiggie in haar sagte hart gaan nesmaak het. Sy was toe rondom 30.

    Liked by 2 people

  2. Dit was nou regtig n lekker onthou hierdie. Ek is baie bly dat jy jou gedagtes lekker terugneem na vroeër en dan terug na die hede. Sotie is n heldin in jou oë. Daardie geliefde verswakte ooms en tannies het almal nog daardie instink om liefde te gee en om iemand spesiaal te hê al is dit ook net n pop.

    Liked by 3 people

  3. Het jy nie ‘n foto van Sôtie nie? Ek het ook nog my ou pop,Lalie. Sy is nou 64 jaar oud en verskriklik lelik. Haar rubbergesig begin so taai word, soos wat sy begin vergaan. Ek het jou verhaal baie geniet, veral die oumense met die poppe. Nooit besef dit kan soveel waarde hê vir eensames nie!

    Liked by 1 person

  4. Jinne, my Laliepop lyk amper netso, behalwe dat sy hare het en haar hele lyf is van lap. Ek onthou sy het ‘n rubberagtige lyf gehad, wat met sand opgestop was. Dit het later gebreek en al die sand het uitgeloop. My ma het toe vir haar ‘n laplyf gemaak.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s