Televisie NaNoWriMo2019

Ek dink ek was in standerd vyf toe Suid-Afrika televisie gekry het. Aanvanklik kon net die Transvaal televisie-uitsendings ontvang, ons in die Kaap het maar aan die agterspeen gesuig. 

My ma was egter paraat en toe televisies beskikbaar geraak het op Swellendam, vir ons ‘n televisie bestel. Mnr Heineman het vir ons die televisie kom insit. Al wat daar te sien was, was die vertikale gekleurde strepe. 

Aand vir aand het ons hoopvol die televisie aangesit, net om die strepe te kon sien. Male sonder tal het André ons uitgevang en uit die sonkamer, wat toe die TV kamer geraak het, geroep dat die TV speel. Dan het ons soos een man dit waarmee ons besig was, gelos, TV toe gestorm, net om weer eens die gekleurde strepe te sien. Selfs al het ons geweet dat hy jok, wou ons darem nie iets mis nie, wie sê die Kaap het nie dalk daardie dag TV gekry nie? Ek is tog seker dat dit op die radionuus uitgesaai sou wees die dag wat die Kaapse TV aangeskakel was. 

Uiteindelik het dit gekom en was daar een kanaal wat vir ‘n volle twee ure per aand gewys het. Engels en Afrikaans het beurte gekry om eerste uit te saai, ‘n uur elk. 

In die Ouplaaswyk was ons die eerstes wat TV gekry het en dan het die ander mense saans by ons kom TV kyk. Mettertyd het dit al hoe minder geraak soos wat die mense hulle eie televisies aangeskaf het. 

Baie debatte het gegaan daaroor of dit goed is om TV te kyk, of nie. Wat sal dit aan die kinders doen? 

Eers ‘n jaar of wat later het hulle ook advertensies begin uitsaai. Mag ek dit maar noem dat ek mal was oor die advertensies? Ek weet ek was nie al een nie, my vriendin het ook daarvan gehou. Ek dink steeds dat ‘n goeie advertensie lekker is om na te kyk. Nie so lank gelede nie het Toyota so ‘n oulike advertensie tydens Boer soek ‘n vrou gewys waar die trein die hele dag wag voor hy dit waag om oor die pad te ry, want hy is nou in Toyotawêreld. Ek geniet altyd die storie agter die advertensie en sal mooi kyk om agter te kom wat hulle eintlik wil sê daardeur. 

Terloops, my pa het vertel dat, toe radio’s vir huishoudelike gebruik beskikbaar geraak het, hulle ook die eerste was wat ‘n radio gekry het. In daardie selfde huis op Bosfontein. Toe het die hele omtrek se mense weer kom radio luister, net soos wat hulle kom TV kyk het in 1975. Ek dink baie mense wou eers sien of dit regtig werk, of nie. 

TV kyk was ‘n gesinsaktiwiteit. Baie produkte rondom televisiekyk was toe goeie verkopers, soos TV skinkborde in verskillende vorms. My ma het vir ons sulke skinkborde gekoop met holtes in vir die bord en die glas en messegoed, ens, sodat dit nie van ons skote afgly nie. TV skinkborde met pote was die beste idee en jy kon jou kos dan op die skinkbord voor jou neersit. Dit word vandag nog gebruik en my Kobus is baie lief vir syne. 

Net so baie gesprekke het gegaan oor mense dan nie meer saans aan die etenstafel eet nie, maar by die televisie en soos ons vandag weet, het saameet om ‘n tafel in baie huise heeltemal verdwyn, wat jammer is. Saam met televisie het gesinsgesprek ook uit baie huise verdwyn. 

In daardie jare het ons alles gekyk. Ek dink tog dat die programme goed gekeur was. Saans ses uur was Haas Das met sy nuuskas aan die beurt. My ma en André was die sportiewes in ons huis en het graag sport gekyk, net nie sokker nie. Ek dink hulle het ook nie motorwedrenne gekyk nie. Ek, wat glad nie ‘n sportman is nie, het ook gekyk. Ek onthou hoe graag ek die gimnastiek tydens die Olimpiese Spele gekyk het. Rofstoei was aanvanklik vir my ook baie snaaks. Was dit nie Mike Schutte wat eers geboks het en later begin stoei het nie? En boks! Gerrie Coetzee het met sy boksvernuf ons vasgenael gehou voor die TV.  Ons het rugby gekyk en tennis, ek het selfs die tennisreëls verstaan en kon telling hou. Al probleem is dat ek nog steeds nie die bal kan raaksien nie. Met krieket het ek gesien daar kolf ‘n ou en ek het gesien daar slaan ‘n ou. Die bal waarmee hulle speel, was egter buite my bereik of sig. 

Later het ek nie meer sport gekyk nie. My man is lief vir sport en kyk dit graag. Aanvanklik het ek dit saam met hom gekyk, maar oor jare al hoe minder. Ons kinders was ook nie baie lief vir sport op TV nie. 

Spesiale wedstryde sou ek wel saamkyk, soos die Wêreldbeker eindstryde as die Springbokke speel. Ons het al ‘n spottery dat, wanneer ek kyk, die Springbokke altyd wen. Nou wil ek darem nie te veel druk op hulle plaas deur elke keer te kyk nie! 

Een keer, nog in my hoërskooljare het die Springbokke gespeel ten die Leeus, as ek reg onthou. Dit maak eintlik ook glad nie saak teen wie hulle gespeel het nie. My oom-hulle het die naweek by ons gekuier en ons het almal oorgehaal rugby gekyk. Die wind het egter gewaai en dit het steurings op die TV veroorsaak. Onthou, dit was nog in die tyd van TV-antennas, lank voor skottels ingekom het. My pa het op die dak geklim en die hele tyd die antenna vasgehou sodat ons kon TV kyk! Kan jy dit oorvertel! Hy was so ‘n goeie mens! Wie gewen het, kan ek nie meer onthou nie. 

Ek was altyd baie lief vir die Saterdagaandaandfliek. Toe my broers al altwee uit die skool is, moes ek saans alleen fliek en het nie daarvan gehou nie. Ek dink ek was maar effens bangerig om alleen daar by die TV te sit. Met net ‘n klein bietjie aanpor kon ek gewoonlik my pa ompraat om saam met my te kyk. Hy het, nes ek, ook baie van kinderstories gehou en ons het saam gekyk na Redding Internasionaal, ‘n animasieprent. Wanneer hy sou opstaan om kamer toe te gaan, sou ek vra dat hy die fliek saam met my kyk. Hy sou dan sê dat hy wil gaan lê en lees. Dan sê ek, ‘kyk net gou die begin’. Hy sou dit staan en kyk, en so ‘n rukkie later sou hy dan sit en die fliek saam met my kyk. Saterdagaand vir Saterdagaand. Ek was so mal oor hom. 

André het graag LA Law gekyk en dit was ’n vreeslike frustrasie as my pa altyd iemand in die stuk herken het en wou weet waar hy die persoon nóg gesien het, gewoonlik op die stadium in die storie waar konsentrasie allerbelangrik is. Nou raak my kinders deesdae so moedeloos as ek saam met hulle ‘n fliek kyk en op verkeerde plekke praat! It runs in the family, kyk dit my! 

TV programme het my ook in my lewe beïnvloed, soos dit sekerlik die idee van die programskrywers was. Ek dra byvoorbeeld tot vandag toe nog altyd ‘n veiligheidsgordel as ek ry te danke aan ‘n kort stukkie wat een keer op TV was. Hulle het ‘n hoendereier in ‘n houtwaentjie gehad, vasgemaak en teen ‘n skuinste laat afry en vas ry teen die muur. Die vasgemaakte eier het niks oorgekom nie. Hulle doen dit toe weer, maar hierdie keer was die eier nie vasgemaak nie. Nodeloos om te sê, die eier het hom te pletter gery ten die muur. 

Toe ek in my matriekjaar aansoek doen vir ‘n onderwysbeurs, moes ek my vakke wat ek beplan om te neem, invul. Ons wat van die platteland af kom, weet nie veel van vakkeuses nie, dis maar die normale rekeningkunde en wiskunde, ensovoorts wat ons ken. Ek vra vir my rekeningkundeonderwyser hoe ‘n vak handelsreg is. Hy antwoord dat dit eintlik privaatreg is. Op daardie stadium was Professor Kingsley van Beste Professer op televisie in beheer en die student wat die hoofrol gespeel het, James Hart. Ek is nou nie heeltemal seker of ek die name reg het nie. Net daar het ek besluit dat ek nie handelsreg sal neem nie, want vir Professor Kingsley sien ek nie kans nie! 

Ek moet darem vertel van die handgranaat wat op die kaggelmuur gestaan het in ons TV kamer. In die winter het ons tog te lekker vuur gemaak daar, ons het net die handgranaat eenkant gesit. Sy slagpennetjie was uit. Genadiglik het daar nooit ‘n ongeluk met daardie handgranaat gebeur nie. Die polisie het dit ‘n paar jaar gelede, maklik veertig jaar later, in veilige bewaring geneem. 

Deesdae kyk ek min televisie. Ek hou steeds van ‘n oulike fliek of ‘n goeie reeks, die res hou ek maar meestal verby. 

Toortsie

#NaNoWriMo2019

13 thoughts on “Televisie NaNoWriMo2019

  1. Lekker man. Hoeveel woorde het jy hier gebruik. Dis n goeie klompie. Ek onthou ook die TV storie. Omdat ons nooit krag gehad het nie het ons ook nooit n TV gehad nie. Ek het wel naweke by my suster in Potgietersrus ta die toets uitsendings gekyk. Selfs naweke Naboom toe gery om te kyk. My vriendin wat langs my gebly het het n kleur TV gehad en ek het saans die nuus en die vervolg stories by haar gekyk en saam tee kedrink voor ons gaan slaap. Ek het heelwat later n klein swart en wit draagbare TV gekry wat nmeeste v tyd te veel gesneeu het. Goeie ou dae en lekker om te onthou.

    Liked by 1 person

      1. Ja ek moes net aanhou lees. Was interessant gewees. So baie wat ek ook onthou, Ons het nooit krag gekry nie omdat dit te duur wasom aan te lê. Ons moes daardie tyd mos self betaal vir pale en drade en dan die aansluiting ook wat my ouers net nie kon bekostig nie, ons het gas en kerse of parrafienlampe gebruik.

        Liked by 1 person

  2. Goeie ou herinneringe. Ek het nooit veel erg gehad aan tv nie en jy het my nou herinner aan die rede daarvoor. Dis omdat my man running commentary gee op alles. Hy probeer ook elke ateur / aktrise herken en vertel die geskiedenis van die dorp waarin die fliek afspeel. Ek het al baie flieks gesien, maar weinig van hulle gehoor. Ons het gelukkig nou Showmax en Netflix en ek kyk flieks op my rekenaar – in stilte, rus en vrede.

    Liked by 3 people

  3. Baie goed geskryf, Toortsie! Jy het nou baie herinneringe by my wakker gemaak, veral daardie klim op die dak en iemand voor die tv wat dan moet kyk of die antenna reg opvang. Jou arme pa was seker gaar gebraai in die son, om ‘n hele wedstryd op die dak deur te bring!!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op scrapydo2.wordpress.com Kanselleer antwoord