NaNoWriMo Skryf-Camino

Ek het gister gesê dat ek die NaNoWriMo ‘n skryfmarathon noem. Nou, na die tweede dag van skryf, dink ek ek wil dit ‘n Skryf-Camino noem. Soos die Camino de Santiago waaraan ek so graag wil deelneem.

Nie dat ek enigsins ‘n idee het hoe die Camino de Santiago regtig is nie. Ek lees baie daaroor, ek droom daaroor, maar het geen ondervinding daarvan nie. Dalk sit ek die pot heeltemal mis met wat ek in my gedagte het dit is.

Van marathon weet ek ‘n bietjie meer. Ek het nooit in my lewe ‘n vol marathon van 42,2 km gehardloop nie, wel verskeie halfmarathons. ‘n Marathon pak jy anders aan as wat ek dink jy die Camino sal aanpak. Jy oefen vir ‘n marathon, skryf in en hardloop dit dan. As jy oor die eindstreep hardloop, kry jy jou medalje en is dit afgehandel.

Die Camino, aan die ander kant, stap jy oor ‘n lang tyd. Jy berei anders voor. Jy oefen, maar jy het stamina nodig. Ander stamina. Nie stamina wat vir jou vir die twee ure wat jy die halfmarathon hardloop kan hou nie, maar stamina wat jou vandag sal hou, en môre, en die dag daarna, en nog baie dae daarna. Amper soos ‘n staproete, maar net langer. ‘n Gewone staproete gaan gewoonlik ook oor vier of vyf dae. Nie die Camino nie. Dáár hou jy weke aan as jy ‘n volledige roete wil doen.

Hierdie NaNoWriMo is so. Elke dag vat jy nuut. Elke dag vat ek nuut. Aangesien ek nie ‘n novelle skryf wat op bladsy een begin en op bladsy 50 000 vind die held en heldin mekaar en spring saam in die bed nie, hanteer ek dit anders. Ek skryf oor my kinderjare met betrekking op vandag. Elke dag hanteer ek ‘n splinternuwe onderwerp.

Gister het ek met die eerste skryfsessie myself bekendgestel. Daarná het ek my eerste onderwerp hanteer, nl televisie. Vandag het ek oor begrafnisse geskryf, want ek was vanoggend by ‘n begrafnis en dis waarom my gedagtes gedraai het.

Dit werk nou basies vir my so: Ek het reeds gedink waaroor ek môre gaan skryf, so my gedagtes draai ‘n bietjie daarom. Wanneer ek dan tyd het, skryf ek wat ek wil rondom die onderwerp. Ek vertel storietjies wat daarmee verband hou, my gedagtes dwaal soms ‘n bietjie weg en met dit dwaal die storietjies dan ook ‘n bietjie weg. Vandag het ek stuk-stuk geskryf. Nou tien minute, dan ‘n halfuur. ‘n Bietjie op my skootrekenaar, dan weer ‘n stukkie op my selfoon terwyl ons pendel, weer op my skootrekenaar. Dan lees ek dit deur, al sê die kenners dat daar nie regtig tyd is daarvoor nie. Dit help vir my om dit deur te lees, omdat ek dan nog hier en daar iets byskryf of verander.

Wanneer ek klaar is, is ek klaar met die onderwerp. Daar mag dalk tog ietsie kom wat ek nog byskryf, maar dis min. Ek besluit dan op die volgende dag se onderwerp en begin daarop fokus.

Ek is moeg en leeg as ek klaar geskryf het. Dan het ek lus om my skoene uit te skop en saam met my mense te verkeer. En om vir julle te kom vertel hoe dit vorder.

Aan die einde van dag twee staan ek by 4896 woorde uit 50 000.

Ek geniet dit, dankie. Dankie vir julle ondersteuning. Ek weet ek kon hierdie 500 woorde eerder aan NaNoWriMo spandeer het, maar ek het nodig om met my blogvriende te gesels. Vandag se onderwerp is mos afgehandel, dan nie?

Toortsie

19 thoughts on “NaNoWriMo Skryf-Camino

          1. Bedoel jy wat ek doen of wat ek skryf? Die doen is net die gewone daaglikse sleur wat maak dat ek ure verloor langs pad. Die skryf is niks waarvan jy nie weet nie. Ek het lank terug ‘n paar blogs geplaas oor die tyd wat my ma in die ouetehuis was. Maar jy weet hoe blog ‘n menns – versigtig om nie te veel te sê nie. Ek het besluit om dit nou chronologies saam te vat en al die gate in te vul.

            Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s