Ek vas soms vir ‘n dag of wat om geestelike redes, gewoonlik vir iets spesifieks. Iets wat ek deesdae al hoe meer optel, is mense wat vas toepas om dieetkundige redes. Dit word ‘intermittent fasting’ genoem. (Google sê die Afrikaans is ook intermittent, wat ek sterk betwyfel.) Afwisselende vas. 😁
Ek is geen kennis van hierdie eetmetode nie, maar as ek dit reg verstaan, kom dit daarop neer dat jy konstant daagliks jou vaste vastye het en tye wat jy kan eet. Daar is ook verskillende maniere waarop jy dit kan toepas. Dit het te doen met die hormone wat jy afskei.
As jy jou gewig konstant wil hou, het ek iewers gelees, vas jy 12 ure per dag en kan jy gedurende die orige 12 ure jou kos geniet. ‘n Algemene ‘intermittent fasting’-plan is die 16:8 waar jy vir 16 ure vas (gestel van 6 nm tot 10 vm) en dan slegs in die oorblywende 8 ure van die dag eet. Daar is ook ‘n 5:2 plan waar jy twee volle onopeenvolgende dae vas in ‘n weeksperiode.
Nou kom die miljoendoller vraag: Gaan Toortsie nou die Banting los en begin vas?
My pa het altyd gesê ‘n mens moet nooit ‘nooit’ sê nie. Dus antwoord ek die vraag so: Ek hoop dat dit vir my moontlik sal wees om vir die res van my lewe die Bantingleefstyl te kan volg. Banting is goed vir my.
Tog kyk ek na ‘Intermittent Fasting’ omdat dit my interesseer. Ek het ook geen probleem as iemand dit wil volg nie. Ek het mos in elk geval geen probleem as enige iemand énige eetplan wil volg nie, elke mens is mos vir homself verantwoordelik.
Persoonlik dink ek dat as iemand ‘Intermittent Fasting’ wil doen, die Banting-eetplan ideaal is om saam met dit te doen vir die eenvoudige rede dat ‘n mens langer versadig voel met die hoë vet-inname van Banting. As jy koolhidrate eet, raak jy gou weer honger. Ek onthou nog uit my voor-Bantingdae was een van my eie sêgoed van boontjiesop, dat dit lekker is, jy voel lekker vol daarna, maar gou weer honger. Ook uit my voor-Bantingdae kan ek nog onthou hoe ek honger was die oomblik as ek my oë in die oggend oopmaak en ‘n nul-per-mond bloedtoets vir my angswekkend was, want hoé sal ek uithou tot 9 vm wanneer Pathcare oopmaak? Ook uit my pre-Banting dae was ‘n voldaggeloofsvas vir my baie erg, teen 12 uur in die middag was ek al bewerig en het ek die minute begin aftel na 6 nm. Sedert ek Banting doen raak ek steeds honger, steeds lus vir kos, maar is ‘n voldagvas nie so onuithoudbaar nie.
So ‘n laaste opmerking: As jy wel besluit om so ‘n vas te doen, hoop ek dat die hongerpyne wat jy wel voel, jou ook honger na God sal laat voel.
Mooi dag
Toortsie
Intermittent fasting – Afwisselende vas
Intermittend fasting, ek probeer om dit so drie dae ń week te doen. Eet net aandete, hoofsaaklik vleis.
LikeLiked by 1 person
Sjoe! Jy moet meer vertel asb.
LikeLike
Vertel asb Una
LikeLiked by 1 person
Ek doen dit nou saam met die Banting. Het nog net begin, so ek moet nou eers konsentreer nrt om te onthou. Ek vas van 8 nm tot 10 vm tans.
LikeLike