Al weer plastiek

In ‘n poging om minder plastiek te gebruik, nie net in Augustus nie, maar elke dag van my lewe, hou ek my oë en ore oop vir nog maniere om minder plastiek te gebruik. Die realiteit is dat ons steeds baie plastiek gebruik in die huis en dat dit regtig moet gaan oor minder plastiekverbruik, eerder as om te konsentreer op herwinning, omdat slegs ‘n klein deeltjie plastiek wel herwin word.

Ek probeer die plastieksakoorlog wen deur my lap- en papiersakke saam te neem winkel toe, waar moontlik eerder los groente te koop in gaassakkies as voorafverpakte groente. Baiekeer dra ek my inkopies sommer los in die hand as dit min is en ek my sak vergeet het.

Dan is my man so oulik om ‘n groentetuin te hê, so ek koop aansienlik minder groente wat verpak is.

Ek koop ook eerder eiers wat slegs in karton verpak is en nie nog ‘n plastiekomhulsel ook het nie.

Ek probeer onthou om te vra dat hulle my stukkie gaar hoender sommer net in ‘n papiersak sit, in plaas van ‘n polistereenbakkie.

Ek koop mayonnaise in glasbottels, eerder as plastiekbottels, maar soms is die prysverskil net só groot, dan knyp ek maar weer oë toe.

Ek konsentreer daarop om by die kassier te keer dat hulle nog weer seep of vleise in ‘n ekstra broodsakkie druk.

Ek probeer om eerder water uit die filterkraan te drink en minder gaskoeldrank uit bottels uit.

Ek kook in grootmaat en verpak die kos in stewige herbruikbare plastiekbakkies Met tyd sal ek oorskakel na glasbakkies met plastiekdeksels.

Nou lees ek gister in die Platteland van plastiek in klere en ek besef ek skiet ver te kort en wonder of ek ooit dáárdie oorlog sal wen, selfs of ek dit wíl probeer wen. Want ek is mál oor ‘n styfpassende broek met rek in die materiaal. Ek koop graag klere wat sommer net gewas en gedra kan word sonder dat dit eers gestryk moet word. Ek weet nie of ek regtig weer wil teruggaan na egte linne en katoen wat kreukel sommer as jy daarna kyk nie.

Net gister het iemand my gewys dat ons ons geskenke eerder in ‘n kombuisvadoek of ander artikel moet toedraai met ‘n strik om, net om die klompe geskenkpapier wat ook regtig ‘n vermorsing is, te verminder. Ek hoop natuurlik dat my geskenk so groot is dat hulle ‘n tafeldoek nodig het om dit in toe te draai. 😁

Dis ‘n lewenslange stryd en ek weet die geveg gaan eintlik oor plastiek wat net een keer gebruik word en dan in die asblik beland. Die doel van hierdie skrywe is nie om te wys hoe oulik ek is om darem al lapsakkies te gebruik nie. Dis eerstens om myself op die tone te hou, maar dalk gee dit tog vir een persoon ‘n idee om iewers in haar huis te besnoei op haar plastiekgebruik.

Mooi dag

Toortsie

9 thoughts on “Al weer plastiek

  1. Jy’s oulik met al die planne. Ons gebruik ook al heelwat minder plastiek, soveel so dat ons herwinningssak nou net elke veertien dae uitgesit word. (Ons munisipaliteit verskaf deurskynende plastieksakke (!!) so groot soos die swart vullissakke waarin ons die herwinbare goedere een keer per week kan uitsit vir hulle herwinningsdepot.

    Like

  2. In Worcester Spar word inkopies in papiersakke ipv plastieksakke verpak. Ek het al n paarkeer hierdie een daaroor gevra maar hulle wil he jy moet d papiersakke ten duurste aankoop. Verder wil hulle vir elke 3 items n nuwe plastieksak gebruik. Ek sê altyd dat hulle net 1 sak mag gebruik. Dit lol maar soms!

    Like

Gesels saam, asseblief!