Reën-reën-waar-is-jy-woordsnoer

Die aarde smag na reën.

Afrika smag na reën.

Suid-Afrika smag na reën.

Mens en dier smag na reën.

Ons hoor die een noodkreet ná die ander.

Keer op keer is daar nóg ‘n reënseisoen verby sonder genoegsame reën.

Dorpe kry swaar.

Boere kry swaar, hulle vee vrek, hulle graan groei nie. Alles is asvaal. In eensaamheid verval hulle, asof hul paria is. Duskant moedverloor.

Geen oproerige gedans of gejuig nie, geen eteriese klank van reen wat giet op ‘n dak nie. Geen poeletjie water wat iewers glim nie.

Geen plantegroei wat ontwaak ná ‘n lieflike reënbui in die Karoo nie.

Slegs ‘n gewag.

Stede kry waterbeperkings in die uiterste graad. Hulle vrees Dag Zero. Die swembad, waarby voorheen gazanias geplant was, word nou die opgaarpunt vir gebruikwater.

Dit voel soms of die aarde in ‘n oorlog gewikkel is teen die natuur, terwyl die aarde deel is van die natuur. Impi.

Die wolke weier astrant om te kom.

Mense verloor moed.

Verloor hoop.

Soos ‘n hert in dorre streke, smag my siel na U, o God.

Tog bring God uitkoms. Tog stuur Hy reën. Kry daar dele in ons land tog reën. Gebeur daar wonderwerke.

My hart gaan uit na elke persoon wat geraak word deur hierdie uitmergelende droogte. Mag God gou uitkoms gee. Mag die reën kom. Mag hier fees gevier word in Suid-Afrika.

Daarom kan ek net, saam met elke boer, elke mens, bid vir Suid-Afrika, Vader, dat U ons genadig sal wees. Dat U vir ons land reën sal bring, want Here, ons het U nodig om ons harte skoon te was, maar ook die reën so bitter nodig dat ons kan lewe. Seën ons land, asseblief Here. Amen.

Het jy al ‘n boer sien dans in die reën? Het jy self al gedans in die reën? Ek het al.

Toortsie

Bloguitdaging van Lekkervurige Vuurvliegie. Volg die ander bloggers se woordsnoere hier: https://fresh.inlinkz.com/p/f64779e6a80c44bfb5baa671f2d5bcdf

Sutherland Save the Sheep Projek

Droogtehulp met Burre Burger

Boere in Nood

Skoenboks vir boervroue in die Karoo Projek

21 thoughts on “Reën-reën-waar-is-jy-woordsnoer

      1. Baie dankie. Die klimaatsverandering en aardverwarming het ons ook heel uitgegooi uit ons seisoene. Die somers is afgelope paar jaar ongewoon droog en baie warm. Daar is net nie weiveld vir diere teen Februarie meer nie omdat alles intensiewe verbouing en boerdery is in ons klein wêreldjie hier.

        Liked by 1 person

          1. Spelling is nie so belangrik, ek verstaan wat jy bedoel. Wat hier ook n probleem isis dat met die baie diere op klein stukkies grond besoedel hul die waterweë. Nou word die boere gedwing om weg te beweeg van riviere en vleie. Die riviere kan op plekke nie meer varswater visse voortbring weens besoedeling. Dis maar n bose kringloop

            Liked by 1 person

  1. Ja, en ons hier in die “reëngordel” begin dit ook nou voel. Ons het in April laas reën gehad soos wat ons gewoond is aan die kus. Intussen verskroei die wind alles en dit raak vaal hier. Die plantegroei wat gewoond is aan baie water, verloor sommer vinnig hulle fleur. Brandgevare oral, veral daar waar dit met opset of deur onkundigheid gestig word.

    Like

Gesels saam, asseblief!