Ons kuier by ‘n besonderse plek

Ek het vandag by ‘n besonderse plek gekuier en raai wat? Dit was héérlik!

Die plek waarvan ek praat, is die demensie-afdeling van ons ouetehuis. Iemand het kolwyntjies en koeksisters geskenk vir die demensie-afdeling se inwoners en ek was bevoorreg genoeg om deel daarvan te kon wees.

Toe ons daar aankom, sit al die demensie-inwoners buite in die son. Tog te gesellig onder sonsambrele.

Ons kry gou alles reg en toe word elke inwoner een vir een, met soveel liefde en deernis, ingehelp tot by haar sitplek. Die eetgoedjies word uitgedeel en ons help om die papiertjies om die kolwyntjies te verwyder.

Intussen begin ons eenvoudige volksliedjies te sing en een vir een val almal in en sing al daardie ou mense wat soveel van die lewe verloor het, saam. Ek sing, maar met ‘n knop in my keel. Ek soek na my Dina, Vader Jakob, So ry die trein.

Die klompie wat om die tafel sit, voer ‘n heerlike gesprek wat my vriendin lei, almal gesels tog te lekker saam, elkeen gee haar mening, al verstaan almal mekaar nie heeltemal nie.

Die een tannie moet beslis musikaal wees, sy wil net dans! 😁

Maar…

Wat my opgeval het, wat my hart week gemaak het, is die sorg en deernis wat elkeen van die personeellede wat daar werk, vir die inwoners het. Dis besonderse mense. Uitgesoekte mense wat nie net werk vir ‘n salaris nie, maar elkeen van daardie oumense dien, hulle help, hulle liefdevol versorg, hulle voer waar nodig, aan die hand vat toilet toe, saam met hulle stap, luister na hulle stories.

Dankie, Suideroord Tehuis vir Bejaarders, julle is tops. Ek haal my hoed vir julle af. Dankie, dankie, dankie.

Toortsie

11 thoughts on “Ons kuier by ‘n besonderse plek

  1. Baie dankie dat jy dit gedeel het hier op jou blog. Daardie versorgers is werklik die sout van die aarde. Hulle buig ekstra agteroor om die mense te help. Dis goed om te weet dt daar nog plekke is waar die spesiale mense goed en menswaardig versorg word. Dis ook goed om vrywiliglik deel te neem aan sulke byeenkomste. Dit doen mens se hart en siel die wêreld se goed.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!