Dis ‘n present

Ek besef net al hoe meer dat die CUM-boksies wat so by my huis opdaag, ‘n present van die Here is. Behalwe dat dit wonderlike boeke inhet, bring dit soveel seën, nie net vir my nie, maar vir ons hele gemeenskap omdat ek die boeke uitdeel as ek daarmee klaar is.

Wat vir my heerlik is, is dat my man ook loer in die boksie en graag daaruit lees. Ek geniet dit as hy ‘n boek gelees het en vir ander mans daarvan vertel en selfs vir hulle die boeke uitleen om ook te lees. 😁 Soms is dit ‘n boek wat ek nog nie eers gelees het nie en wíl lees, dan moet ek mooi kophou dat die boek terugkom. 😊

Ons lees dinge raak en al hoe meer is iets wat ons gelees het, ‘n gesprekspunt tussen ons. Ons blaai daardeur en vertel vir mekaar wat ons raakgelees het.

Baie keer is daar ‘n boek wat ons albei se aandag trek. Hy sit solank die boek voor sy bedkassie om te lees as hy met ‘n ander boek klaar is, maar intussen vat ek dit, want my vorige boek is reeds klaar, en dan lees hy weer daaraan. Dit klink deurmekaar, né?

Só ‘n boek wat ons gelyk gegryp het, is Leierskap 101, deur Stephan Joubert en Johan Smith.

Ek moet dit nog lees, die boek het nou al behoorlik gesweef tussen ons.

Hoekom hierdie boek my oog trek:

  1. Ek hou van sy formaat.
  2. Dis nie ‘n dik, ingewikkelde boek nie, maar kort stukkies, net meer as ‘n bladsy per onderwerp.
  3. Hulle gebruik interessante onderwerpe, soos: Wat leierskap nié is nie, God roep die verkeerde mense, Suksesvolle mense is swak, Leiers beskik oor GTI -Geestelike tyd-intelligensie, Uitbranding is nie verpligtend nie.
  4. Baie keer is daar ‘n oulike aanhaling groter gedruk by, sommer net om die punt te bevestig.

Ek kan nie wag om hierdie boek self te lees nie!

Toortsie

Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

8 thoughts on “Dis ‘n present

  1. Oor lees: met my eie kop in ‘n carousel het ek pas vir my wegwoon-Pa ‘n lekkerleesbrief geskryf. Jip. Regte outydse brief, mens kry gefrankeerde koeverte by die Poskantoor. ‘n Pak van 10 kos R58.

    Dan kry Oupa nuus elke week of so, soos in Hitler se Oorlog of toe Liegjannie ons mense gaan interneer het, Blommie gekalf of Santie haar eersteling gehad het.

    Skryf het ons geskryf en so het die land mekaar se harte geroer en betower. As niemand skryf nie, wie gaan lees?

    Liked by 2 people

    1. Deesdae skryf ons maar eerder op die blogs.
      Lank gelede was hier ‘n ‘pay it foward projek’. Ons moes iets drur die pos aanstuur.
      Ek het beskuit gebak en gestuur aan 5 persone.
      Een pakkie het teruggekom. Dis deesdae net soveel organisasie om by sommige poskantore in ‘n ry te gaan staan vir ‘n pakkie.
      Ek was natuurlik baie bly, my beskuit was toe net mooi op! 😁
      Ek pos nog baie pakkies.

      Like

      1. Hehehe. Hoe lyk beskuit in die pos? Daai ou rooi REO-busse sou dit mos fynskud.

        My brief neem twee tot drie dae oor 125km. Ek pos sommer op die hoek. Gelukkig is die Waterfront se Poskantoor flink. En pakkies na ander lande het anderkant aangekom, dit net geregistreer.

        Like

        1. Ek het nog geen probleem gehad met enige van die oakkies wat ek pos nie.
          Beskuit was goed verpak in roomysblik tussen lae waspapier. In uitstekende toestand Transvaal toe en terug. Ons het lekker geëet.

          Like

Gesels saam, asseblief!