Lekkervurige Vuurvliegie se Woeste Woordsnoere

Woes is dit beslis! Eers moet ons die blokraaisel ontsyfer om die by die regte woorde uit te kom, maar regtig, jy het ‘n baie goeie woordeboek nodig net om die woorde in die blokraai te ontsyfer, wat nog te sê daaroor te skryf. Om ‘n storie uit die woorde te maak, is heeltemal te ver bo my vuurmaakplek. Dat Vuurvliegie baie goeie leierseienskappe besit, is nie altemit nie, anders sou ek mos sommer hierdie opdrag geïgnoreer het.

Ek het gedink om lekker rustig in my bed te kom klim en myself te vergas met ‘n boek, toe ek hierdie woordsnoer onthou. Natuurlik sou dit lekker gewees het as my dogter die agtergrondmusiek kon verskaf op haar dwarsfluit, maar ongelukkig is dit ‘n klarinet wat die verkose musiekinstrument is, ‘n instrument wat ek nie so goed ken nie. Ek dink nogal dit was ‘n klarinet waarop daardie meisie gespeel het, maar sy het dit soos ‘n saksofoon laat klink! Dink net: Sy speel saksofoon op ‘n klarinet! 😁 Hoor hier, en sy het dit goed gedoen! Dis eintlik so jammer dat ek nie filmpies geneem het daardie tyd nie.

Terwyl ek my verstand behoorlik tot die uiterste strek om die betekenins van die woorde te bepaal, is hier ‘n brommer wat in my kamer met brute krag rondvlieg, ‘n regte onrussaaier, wat my irriteer tot in die afgrond in, erger as ‘n terriër wat vir my grom, behoorlik onvanpas. Om hom op ‘n manier met die blik vlieëgif by te kom, is bykans onmoontlik. ‘n Fat is hy beslis nie, die ou groot, swart brommer. Miskien, as hy homself in mooi kleure getooi het, sou hy meer aanvaarbaar gewees het.

Terwyl dit, lyk my, omtrent oral in die land baie droog is, is hier tog dele waar dit beter gereën het. Ek hoop van harte dat daar behoorlike mielieoeste gemaak is vanjaar. Ai, veral in die Noord-Kaap, soos byvoorbeeld Calvinia, is dit uiters droog, maar ek wil ook vir julle sê dat die Klein Karoo net so erg droog is. En hier by ons in die Overberg gaan dit in groot dele regtig baie sleg as gevolg van die droogte.

En dan is daar nog ‘n klomp Griekse gode ook in hierdie blokraai, waaronder RA, maar Isis is die verkose een en ek hoop dat sy my poging tot hierdie woordsnoer met liefde sal aanvaar. Ek het ook vir Minerva, die Griekse god van kennis en wysheid nodig in hierdie uitdaging!

Daar is ‘n paar woorde wat ek nie kon plaas nie, jammer. Van party van hulle het mev Google ook nog nie gehoor nie. 🙂

Dankie, Vuurvliegie, jy het jouself oortref.

Toortsie

https://fresh.inlinkz.com/p/92c8b09853e5402590c33e01c6889258

6 thoughts on “Lekkervurige Vuurvliegie se Woeste Woordsnoere

Gesels saam, asseblief!