Die begin

Ek kon die bloginskrywing ook ‘die einde’ genoem het, maar ek verkies eerder ‘die begin’. Die einde? Jaaa!

Ses weke was ek in huisarres ter wille van my operasie. Daardie ses weke mag ek so te sê niks gedoen het nie. Nie skottelgoed was nie. Nie wasgoed ophang nie. Vir lank kon ek nie buite die huis beweeg nie. Nie gaan stap nie. Nie winkels toe gaan nie, dis nou nie te sê dat ek ‘n vreeslike winkelmeisie is nie, maar soms moet jy daar ook kom. Nie rondry nie, nie saam met ander nie, ook nie op my eie nie.

En net toe ek dink nou is die ses weke om en ek gee myself nog 2 weke van nie te woes aangaan nie, is ek weer in die hospitaal vir nóg ‘n prosedure. Nie so groot hierdie keer nie en ek was nie onder huisarres nie. Om die waarheid te sê, na tien dae het die chirurg my toestemming gegee om te stap net so ver ek sou wou. 🙂 Daardie kleine proseduretjie het sy eie nagevolge gehad, maar nie te erg nie.

Nou is daardie ses weke ook om. Ek is gesond. Prys die Here! Drie en ‘n halwe minder lekker maande is verby. 🙂

En ek was bevoorreg om ‘n bietjie vakansie te kon gaan hou.

Want ek het kajuitkoors ontwikkel, selfs al kon ek uitkom. Ek het negatief begin raak. Soos ‘n ou mens begin optree. Stadig. Met min durf. Vergeetagtig. Koersloos. Sukkel om te konsentreer.

Maar nou is die ou Toorts hier. Dié een wat eerder praat van die begin as die einde, selfs al was die einde nodig voor die nuwe begin kon gebeur. Die Toortsie met ‘n huppel in die stap. Die Toortsie wat eerder ‘n oplossing raaksien as ‘n probleem. Die Toortsie wat wil woel en werskaf. Die Toortsie wat babbel en met ‘n glimlag op die gesig rondloop. Die een wat te veel goed gelyk wil aanpak. Die een wat honderde planne het, waarvan almal onmoontlik nie kan realiseer nie, maar wat maak dit saak?

Sjoe! Daar is baie verskuil in ons denke! Daar is KRAG in POSITIEWE DENKE. 🙂

Jippieeee! Toortsie is terug! (Jammer vir julle, maar, sy is terug, hoor!) Jammer dat ek nou dit self sê, maar ek is bly daaroor. Die dooierige, negatiewe Toortsie is nie lekker om mee saam te leef nie, hoor! Julle willie weetie. Ek kon regtig nie met haar uithou nie.

Hello world!

Groetnis. 🙂

33 thoughts on “Die begin

  1. Bly jy is weer die helder skynende Toortsie. Altyd welkom.
    Na my laaste beroerte is ek aan’t werk, so ‘n seisoenswerkie geskik vir ‘n fikse eerstejaarstudent. En ek is nader aan sestig. Elf beroertes en sewe groot hartskrikke verder, het ek weereens gesien hoe die liggaam genees as gevolg van gebruik. Net nie my internis of ortopeed vertel nie, die mense moet kan deurslaap. En nie wakkerlê oor ons nie!

    Liked by 3 people

Gesels saam, asseblief!