Worsboom

Daar’s ‘n verkeersknoop in die pad. ‘n Vriendelike man draai sy ruit af en beduie dat ons moet kyk, net links van die worsboom lê daar ‘n luiperd. Ons bedank hom vriendelik.

Worsboom? Watter boom is ‘n worsboom? Ons Kapenaars weet nie van worsbome nie.

Ek loer in die kaartboek, hulle sê dat koorsbome van die mees algemene bome hier rond is. Miskien is dit ‘n koorsboom.

Dit help steeds min, ons weet ook nie eintlik hoe lyk ‘n koorsboom nie.

Wel, ons hét die luiperd gevind, sy kop het uitgesteek daar links van een of ander boom.

Kameel het my mooi gehelp: As dit ‘n luiperd was wat ons gesien het, was dit heel waarskynlik ‘n koorsboom. Was daar egter ‘n worshondjie in die omtrek, dan was dit ‘n worsboom.

Geen worshondjies daar rond nie, hoor. Ook nie ander honde nie.

Jammer, ek kan steeds nie vir julle verduidelik hoe die boom gelyk het nie, hy het nogal ‘n dik stam gehad, met ‘n luiperd links van hom, as dit énigsins kan help.

Nee, ek het nie ‘n foto geneem nie, só gelukkig was ek darem nie.

Kry ‘n mens ‘n worsboom?

Toortsie

48 thoughts on “Worsboom

  1. Hahahahahahahahahaha………………..jy is die spreekwoordelike vars briesie met hierdie inskrywing. Ek het dit nodig gehad …en nee…ek weet ook nie hoe lyk’n worsboom nie. Tensy dit die drolpeer is? Of nee, dalk ook nie !

    Liked by 2 people

  2. Oulike skrywe, Toortsie! Dankie vir die heerlike humor en vertelling wat ek baie geniet het.
    Daar is regtig ‘n worsboom, maar ongelukkig dra dit net saad wat lyk soos worse, en nie regte egte Boerewors nie (waarvoor my bek nou water). Die boom het darem ‘n baie mooi rooi blom om op te maak daarvoor.
    http://www.florcomgardens.co.za/plant-van-die-week-worsboom-kigelia-africana
    Koorsbome kom in malariagebiede voor en daarom het die onskuldige bome die naam gekry – hulle was beskuldig dat hulle koors veroorsaak het (of so iets). Ons moes altyd malariapille drink as ons in daai wêreld getoer het in muskiettyd. Toe nooit malaria gekry nie, gelukkig, maar ek onthou die bitter pille goed.
    https://af.wikipedia.org/wiki/Koorsboom
    Die Kaap het nou wel die Suidooster en Noordwester, maar darem nie malaria nie. Mens is dankbaar vir alle genadetjies.

    Liked by 1 person

  3. Kyk, ek het dadelik die boek ‘Die Veldwagter Stap Saam’ gaan uithaal, en heerlik oor die Worsboom gelees. Dis regtig ń wonderlike boek om daar in die wildtuin aan te skaf, Toortsie.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!