Om ‘n boek die tweede keer te lees

Dis vir my soms lekker om ‘n boek ‘n tweede keer te lees, soms selfs ‘n derde keer. As dit ‘n storieboek is, is ek geneig om dit die eerste keer baie vinnig te wil lees om te sien wat gaan gebeur, baie detail gaan verlore in die proses. Die tweede keer lees ek dit rustiger en neem al die ekstras wat verskuil is tussen die reëls in.

Dit is dan nou ook presies wat gebeur met Verlos deur die Liefde, deur Francine Rivers. Ek het dit jare gelede gelees, seker toe dit destyds gepubliseer was as Redeeming Love.

Ek kan die hooftrekke van die storie onthou, dat Hosea met ‘n hoer getrou het en dat sy keer op keer weggeloop het en hy haar elke keer gaan soek het en teruggebring het. Destyds het hierdie boek vir my die boek Hosea in die Bybel, lewendig gemaak. Sedertdien verstaan ek die betrokke Bybelboek soveel beter.

Die detail van die storie kan ek glad nie onthou nie en dit voel vir my of ek ‘n nuwe boek lees. Sjoe, maar ek geniet dit behoorlik! Ek staan verstom oor die liefde wat Micheal vir Angel het en hoeveel geduld hy met haar beoefen. Terselfdertyd huil my hart vir Angel en al die slegte dinge wat al in haar lewe met haar gebeur het, haar onsekerheid, haar wantroue in mense. Haar vrees om haar man lief te hê.

Hierdie is beslis ‘n boek om te lees, of dit nou vir die eerste keer is of die hoeveelste keer. Hartlik geluk ook aan die vertaler wat dit in Afrikaans vertaal het, u het uitstekende werk gedoen.

Groete

Toortsie

Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

8 thoughts on “Om ‘n boek die tweede keer te lees

  1. Redeeming Love een van my gunsteling Francine River’s boeke. Saam met haar reeks van drie definitief haar beste boeke. Ek het in ons tyd in Knysna al my gunsteling boeke weer oorgelees. Tot Ben Hur weer gelees. Dink toe ek getel het was dit diep in die dertig boeke wat ek oorgelees het. Ek het elkeen terdeë geniet. Dis presies soos jy daar sê; ‘n mens lees die eerste keer te vinnig agter die storie aan. Daarna kan jy meer inneem. Nou gaan ek deur my boekrak kyk watter boek ek weer kan lees. Jy ok?

    Like

Lewer kommentaar op perdebytjie Kanselleer antwoord