Die been

Toortsie het sowaar weer in die teater gaan draai. Die hospitaalteater, nie die Arts Cape Teater nie. Ek wens!

Daar was so ‘n paar aartjies wat verwyder moes word. Blykbaar ‘n hele paar aartjies. Ag, dis net ‘n oppervlakkige operasietjie, een nag oorslaap, vinnig uit en tuis.

Al wat ek kan sê, is, met die histerektomie het ek regtig nie pyn gehad nie, die pynmedikasie was voldoende. Maar aits, hierdie is vir jou ‘n ander storie, hoor!

Ek is ‘n soet pasiënt, ek lê mooi op my bed, klim nie af nie. Maar my voet is seer. Erg seer. As ek my kleintoointjie beweeg, gesels hy. Dit hou my die hele nag wakker. Selfs die sterkinspuiting wat hulle vir my gee verdwerg nie regtig die voet se pyn nie, maar dit laat my darem lekker slaap.

Paraat kom ek huis toe. Bly mooi op my bed, maar die natuur noop my soms om ‘n draaitjie te loop. Nee, te hink. Gelukkig het my man vir my ‘n stapstok gekoop, ons woerts mos alewig in die bergpaadjies rond en ek wil nog in Spanje en Peru loop stap.

Een of ander tyd maak ek die agterdeur oop om vir die honde kos te gee. Ek besef hulle is in die huis en dit is vreemd stil. Hulle het die biltong raakgeloop! Hulle was waar hulle nie mag wees nie! Ek hink agterna met die stapstok en al …

Intussen raak die een bloginskrywing na die ander verlore, die drie treë tot by die rekenaar is net te ver, raak al hoe verder, soos Spanje ook verder en verder raak.

In die nag weet ek nie hoe om te lé nie, as die toon nie kla nie, kriewel dit iewers op die been. Ek tel die ure van die een pynmedikasie tot die volgende, nie dat dit enigsins help nie.

Op die ou end is dit Toortsie op Moedverloor se vlakte.

Dit blyk toe dat die verband om die voet baie styf gedraai was en dat die voet dalk nog geswel het ook. Manlief draai die verband los, gee die voet ‘n bietjie ruimte om asem te haal, draai dit weer toe, maar bietjie losser.

Mense, nou klink die mobiliseer na drie dae meer ‘n realiteit, ek het al begin wonder of hulle dalk vir my krukke moes uitdeel.

Waar is my stapstok, laat ek loop oefen!

Toortsie

38 thoughts on “Die been

  1. Ai tog, sterkte Toorts! Een vd dae loop jy met daardie bikini hier op die strand en dan het jy lankal vergeet vd pyn, want jy gaan so baie wolwefluite kry! Asseblief, moet net nie nog tiramisu ook saamneem strand toe nie!

    Liked by 1 person

              1. Blykbaar is 9 dae te gou. Ek sal dalk in die week by my huisdokter ‘n draai gaan maak. As die swelsel begin sak, gaan die verbande nie ‘n plesier wees nie. Ek vermoed die stywe verband om die voet se doel was ook om die res beter in posisie te hou. Ag, ons vat maar die week soos dit kom. 😁

                Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!