Toortsie se Rebuskonsert

Goeienaand dames en here, honde, katte, pappegaaie, arende, ag, welkom aan al wat leef en beef. Ek hoop julle het vir julle lekker warm komberse saamgebring en dat julle lekker gemaklik sit. Soos almal weet, is ek mos lief vir musiek, enige musiek, en is dit eintlik vir my ‘n onbegonne taak om net ‘n paar gunstelinge uit te soek, om die waarheid te sê, aanvanklik kon ek aan niks dink nie en moes my dogter se hulp inroep!

Die program sal effens langer wees as die normale, maar moenie dat dit julle ontstel nie, ontspan, geniet dit en loer gerus wat is in die piekniekmandjies wat by julle sitplekke neergesit is.

Toe ek op hoërskool was, hoor ek ook laat agter drie dat ‘n mens ‘n gunstelingsanger moet hê, ek het regtig nie dit geweet nie. Of nee, ek het ‘n ander gunsteling gehad: Johan Strauss II van Wene, wat reeds baie jare voor dit oorlede was! 🙂 Ek kies toe vir Glenys Lynn van die Four Jacks and a Jill. Enigste persoon in die skool wat van Afrikaanse musiek hou, kan jy nou meer! My allergunsteling was natuurlik RAMAJA!

In die dae wat ek nog ordentlik kon klavier speel, in my Universiteitsdae, was die Tromars van Mendelssohn my gunsteling. In volle volume het ek dit gespeel, ons koshuis se dames het geweet as ek daar by die klavier was. Hierdie verwerking daarvan is vir my regtig mooi, ek weet egter nie wie die pianis is nie. Ek sien ‘n steven960929 het dit op Youtube gesit, so kom ons verwelkom vir Steven! (Ek sou hom nooit kon nadoen nie!) Sjoe, dis uitstekend!

Ek is mal oor Les Javan se eerlikheid wanneer hy sing. Hierdie lied, Met jou aan my sy, was die lied waarop my dogter en haar man by hul trouonthaal ingestap het.

Verwelkom vir Chris de Burgh met Riding on a Rainbow. Ek het dit die heel eerste keer in FNB gehoor en dit het dit bloed in my are laat bruis. As ek daarna luister, voel dit of ek op ‘n reënboog gly met my arms wyd uitgestrek. So, strek jou arms uit en ry saam op die reënboog.

As boervrou kan ek nie anders as om vir Touch of Class te nooi nie, julle weet dat dit op ons plaas in die Klein Karoo meer as drie jaar laas gereën het? Besproeiingslande wat lusern moet verbou is pikswart. Ons gaan nou vir jaar vier. Ek vra jou: Het jy al ‘n boer sien dans in die reën? Luister en geniet.

Geniet die volgende lied! Phantom of the Opera se temalied.

Ek is so bly dat Elvis Presley die uitnodiging aanvaar het om vir ons te kom sing. Sit, luister en verlang sommer na alles waarvoor jy lus het. Are you lonesome tonight?

Ek het nou die dag vertel hoe ons gilkompetisies gehou het in ons kar, maar ek en my dogter en maats het ook vir Queen se Bohemian Rhapsody op vol volume geluister as ons ry, saamgesing en saamgedans. Dat ons nooit ‘n ongeluk gemaak het nie, is net genade. Geniet dit!

Ter afsluiting, ‘n lied uit my hart, ‘n versoek uit my hart. Gee vir Jannie du Toit ‘n groot handeklap van verwelkoming.

Die program is saamgestel in opdrag van Woordnoot. Rebusfontein is ‘n dorpie in ons verbeelding waarheen die Towerinne ontsnap wanneer hulle so voel. Kyk gerus wat die ander Towerinne skryf en, sou jy ooit lus wees om aan te sluit by die Towerinne en deel te neem aan die ervaringe, jy is meer as welkom.

https://fresh.inlinkz.com/party/24f3cd306d0d4f75a62c1f4aaa1fa76f

Geniet die res van die aand!

Toortsie

24 thoughts on “Toortsie se Rebuskonsert

Gesels saam, asseblief!