Deurmekaar kop

Die bloggers gooi my kop deurmekaar. Eintlik is dit glad nie so ‘n groot prestasie nie, my kop is mos sommer vanself deurmekaar! Dit gaan oor Scrapydo se Wasdag nr 5 bloguitdaging.

Sy skryf so lekker oor hoe sy geleer het om te bestuur en ‘n ongeluk gemaak het en net daar kry ek my idee: Ek gaan ook vertel hoe ek in standerd ses leer bestuur het en by Louvain deur die draad gejaag het.

Intussen vertel Kameel dat sy die roosterdbroodgooikampioen was, dalk steeds is, en blykbaar volgens haar ma, nie ‘n dame nie, want dames gooi nie brood nie. Julle móét net by haar gaan lees hoe sy die roosterbrood sommer in elkeen se bord gegooi het van waar sy gesit het! Ek staan behoorlik in verwondering, want ek kan glad nie gooi nie, en is ook nie eintlik vreeslik ‘n dame nie. Ek het darem een keer my kind met ‘n tamatie gegooi, hy het hom vrek geskrik! Doodskoot, op sy wang! Kameel wonder of ander mense ook lawwighede aanvang en dadelik sê ek ‘ja!’

As ek die middag moeg van die dorp af die 50 km grondpad plaas toe moes ry, was ek nie dik van die lag as die kinders so sit en baklei nie. Ai tog, hulle was seker ook maar moeg. Later is dit ‘n groot lawaai, die kinders lawaai met mekaar en ek lawaai harder om die lawaai stil te kry. Ek dreig om hulle af te laai as hulle hulle nie gedra nie en een slimjan antwoord ewe kordaat: ‘Pêwê, dan het mamma nie meer seuntjies nie.’ 😳

Toe hoor ek van gilkompetisies, bedink dit en besluit dit gaan vir ons situasie werk. Ek tel tot drie en ons almal kyk wie die hardste kan gil! Die heel eerste keer gil ek my hart uit en sien net twee verbaasde gesiggies agter in die kar. 🙂 Dit was laaste. Sedertdien het ons graag gilkompetisies gehou, veral as daar vreemde kinders in die kar was. Groot pret en ‘n klomp frustrasie daarmee heen. Julle kan net dink hoe matriekdogters se gesigte gelyk het as die ma en die dogter van die kar hulle harte uitgil! Mal mense! Behoorlik mal! Elkeen het natuurlik die keuse om dit te doen of nie, maar by die tweede poging speel almal gewoonlik saam, tot groot vermaak van almal in die kar. 🙂 Ek wonder of hulle dit by die huise sou oorvertel? Gits! Ek hoop nie so nie!

Nou ja, by die deurdiedraadjagerybyLouvain het ek toe nie gekom nie. Tsk

Groete

Toortsie

Donkergedrukte woorde is dit wat Scrapy uitgedink het.

22 thoughts on “Deurmekaar kop

    1. Ek het die raad iewers raakgelees. Hoor hier, dis lekker. Bevrydend. En niemand hoor jou as jy teen 100 km/uur in ‘n kar voluit gil nie. Ek dink ek moet soms sommer op my eie gilkompetisies hou! Net ek en wk alleen.

      Like

  1. Daar is nou ‘n idee! Ons hou ook gereeld gilkompetisie in ons huis. Ek gil dat die kinders moet luister en hulle gil soos hulle baklei.

    Ek gaan jou raad vat Toortsie!

    Like

  2. Haha, nou sluit ek my dag heerlik af ek sien die kinders se gesigte voor my toe jy so uit volle bors gil. Ek gaan beslis saam met die kinders gil as hul so vreeslik gil in die klas. Bea is ook op die gil stadium. So n hoe skril stemmetjie, en aanhoudend. Bly jy het nog ‘n lekker storie vertel. Wys hoe woorde jou kop aan die gang sit.

    Like

  3. Ek het nou lekker gelag vir daardie kolskoot tamatie!!! Ek het al ‘n paar keer van pure frustasie kliphard gegil, en gegil (wanneer ek alleen was.) Dis bevrydend. Gaan my dogter sê sy moet dit met hulle jongste probeer… sy gil en skreeu vir alles.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!