Al die veld is vrolik

Scrapy sing van die veld wat vrolik is, terwyl dit nog sommer behoorlik koud is daar by hulle.

Toe ons ‘n paar jaar gelede dorp toe getrek het, moes ek leer om in die dorp se strate my stapwerk te doen. Ek geniet dit nou al, maar ek het baie keer gewonder wat ek gaan doen as ek glad nie meer op ‘n plaas sal kan rondloop nie. Daar is regtig net geen vergelyking met die tyd wat jy alleen in die natuur deurbring nie. Jy en die honde.

Ons was al ‘n hele rukkie ingetrek by ons nuwe huis voor ons die wonderlikste wonder ontdek het. Die hele berg is ons agterplaas! Wat ‘n heerlikheid! Teen sowat R300 per jaar vir ons twee saam mag ek en my man soveel soos ons wil stap in al die baie bergpaadjies wat daar is.

Intussen het my man al al die paadjies ondersoek. Vandag is ek gesond verklaar en kon ek saam met hom berg in. Ag, dit het ‘n bietjie stadiger gegaan as gewoonlik, maar dit was wonderlik. Onbeskryflik. Fantasties. Wat is al daardie veertien woorde wat Vuurvliegie nou die dag genoem het? Kyk, niemand sal vir my ‘n sent betaal vir my bietjie rigting nie, maar my manlief is erger as ‘n mier, hy weet presies waar om te stap.

Dis middel Julie, die lente is op pad. Die blomme begin oopgaan en blom. Die veld is vrolik en as ek dit so bekyk, gaan dit nog net vroliker word. En binnekort spring Toortsie soos ‘n klipbok in die berg rond, gee net kans.

🙂

Toortsie

21 thoughts on “Al die veld is vrolik

Gesels saam, asseblief!